Bol laat oudste baanrekord in atletiek spat
Atletiek
Femke Bol het Sondag op Nederland se binnenshuise kampioenskappe ’n verbysterende tyd van 49.26 sekondes genael om die oudste bestaande wêreldrekord op die baan – in die 400 m – aan flarde te laat.
Die 22-jarige het die Tsjeg Jarmila Kratochvílova se wêreldrekord van 49.59 – wat op 7 Maart 1982 opgestel is (18 jaar voor Bol gebore is) – in Apeldoorn oortref.
Dit was die langste wat ’n wêreldrekord in enige baanitem (binnenshuis of buitemuurs) gestaan het.
’n Binnenshuise atletiekbaan is 200 m lank, anders as die buitemuurse bane wat 400 m is, met atlete wat twee rondtes moet voltooi vir die wedloop.
KYK: https://youtu.be/K0eduwgxH14
Die buitemuurse 400 m-wêreldrekord is 47.60 en is in 1985 deur die Duitser Marita Koch opgestel.
Namibië se Christine Mboma het op 30 Junie 2021 in Bydgoszcz, Pole, ’n verstommende tyd van 48.54 opgestel wat die Afrika-rekord, die onder 20-vrouewêreldrekord en sewende vinnigste in die geskiedenis van die buitenshuise 400 sou wees. Die vertoning is egter later nie erken nie toe die tienerjarige Mboma vanweë natuurlike hoë testosteroonvlakke verhinder is om in die 400 mee te ding.
Bol het net verlede week in Metz, Frankryk, die eerste keer in haar loopbaan binnenshuis deur die 50-sekondes-grens gebars met ’n tyd van 49.96.
Haar nuwe persoonlike beste tyd is selfs beter as haar beste buitemuurse tyd (49.44).
“Ek het natuurlik gehoop om die rekord te verbeter, maar jy hoop altyd vir baie dinge in die lewe waarvan die meeste nooit gebeur nie,” het ’n filosofiese Bol agterna gesê.
Die Nederlander se spesialis-nommer is eintlik die 400 hekkies, waarin sy die derde vinnigste atleet in die geskiedenis is met haar Europese rekord van 52.03. Sy het daardie tyd gehardloop toe sy in 2021 die bronsmedalje op die Olimpiese Spele in Tokio verower het.
Net die twee Amerikaners Sydney McLaughlin (50.68) en Dalilah Muhammad (51.58) was al haastiger.
Dis egter nie die eerste keer dat Bol ’n wêreldrekord agter haar naam kan skryf nie. Sy het in 2022 die beste tyd tot nog toe in die 300 m-hekkies, 36.86, in Ostrava (Tsjeggië) gehardloop.
In Apeldoorn het Bol die eerste 200 m in 23.63 afgelê en daarna haar voet op die versneller gehou.
“Dis danksy al die ondersteuners wat ek hierdie rekord kon behaal. Ek het nog nooit so baie mense by dié byeenkoms gesien nie. Toe ek die wenstreep oorsteek, het ek geweet die rekord is myne vanweë die lawaai wat die skare gemaak het.”
Die baanrekord wat nou die langste in die rekordboeke staan, is Kratochvílova se 800 m-wêreldrekord van 1:53.28, wat op 26 Julie 1983 opgestel is.
Die oudste wêreldrekord in velditems is dié van nog ’n Tsjeg, Helena Fibingerová, wat die binnenshuise gewigstoot-rekord van 22,50 m in 1977 behaal het.
REKORD IN GEWIGSTOOT
Bol se rekord was nie die enigste wêreldrekord wat getuimel het nie.
Die Amerikaner Ryan Crouser het Saterdag met ’n gooi van 23,38 m losgetrek om sy eie gewigstoot-wêreldrekord in Pocatello, Idaho, met 1 cm te verbeter.
Dit volg net ’n week nadat hy sy seisoen geopen het deur die maatband tot 22,58 m te laat rek op die Millrose Games in New York.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie