Energy wil wêreld wys waarvan hy gemaak is

Boks
Sal die Namibiër se natuurlike gemak in sy gewigsklas 'n voordeel in slaankrag in die hand werk teen die driemalige wêreldtitelhouer?
Andrew Poolman
Die Namibiese superkapokgewig Fillipus Nghitumbwa se dae van onbekendheid kan in die niet begin verdwyn indien hy môre in Manila vir ’n opskudding teen die Filippyne se gewese wêreldtitelhouer in drie gewigsklasse, John Riel Casimero, sorg.

Casimero (32 oorwinnings, 4 nederlae, 22 uitklophoue) se laaste nederlaag was meer as vyf jaar gelede in September 2017, maar sedertdien is hy onoorwonne in sy laaste agt gevegte.

Die aard van sy oorwinnings teen die Kubaan Guillermo Rigondeaux (met punte), Suid-Afrika se Zolani Tete (tegniese uitklophou) en die destyds onoorwonne Amerikaner Duke Micah (wat 24-0 was; tegniese uitklophou) dui op sy vernuf om teen verskillende vegstyle te kan aanpas en wen.

By gister se nuuskonferensie in Manila het die uitgesproke Casimero verklaar dat hy in ’n skouspelagtige uitklopoorwinning sy opponent se kop van sy lyf af wil slaan.

Die 34-jarige Filippynse wêreldreisiger is vyfde op die WBO se lys van aanspraakmakers op sy wêreldkampioengordel, waarvan Stephen Fulton (VSA) tans die houer is.

’n Oorwinning in die vreemde vir Nghitumbwa kan dus ’n beduidende sprong vorentoe meebring wanneer dié maandelikse ranglys op datum gebring word.

Vreemd genoeg is die Namibiër, bekend as “Energy”, die enigste van die twee wat ’n huidige kampioengordel na die spoggerige luukse venue, Okada Manila Hotel en Casino, bring. Nghitumbwa is die Wêreldboksorganisasie (WBO) se “globale” superkapokgewigkampioen en het hom reeds tot die tiende posisie op hul nuutste wêreldranglys opgewerk.

Hoewel die reis sy eerste vir ’n beroepsgeveg buite Afrika is, het hy as ’n amateur wel in Zimbabwe gewen. “Ek is gemaklik met die idee om op enige plek ter wêreld te veg,” sê hy.

Nghitumbwa, ’n vader van drie wat in die konstruksiebedryf werk wanneer hy nie as bokser oefen nie, besef terdeë watter geleentheid voor hom is.

“Dis elke sportman se droom om ’n wêreldkampioen te word en dit is my droom ook. ’n Oorwinning hier sal groot deure oopmaak en die bokswêreld sal kennis neem van my as Afrika-kryger. Die geveg sal met ’n aanskoulike uitklophou eindig en ek sal breed glimlag.

“Ek respekteer sy rekord as ’n gewese wêreldkampioen in drie gewigsklasse (insluitend junior vlieggewig), maar ek beoog om my natuurlike talent uit te leef en my vaardighede te wys.”

NATUURLIKE SLAANKRAG

Die plaaslike boksontleder PJ Hamunyela het aan ons kollega Limba Mupetami gesê die Namibiër het nog nooit in sy loopbaan die kortpad gekies nie en het nog elke gekeer geswem wanneer hy in die diepkant ingegooi is.

“Sy promotor Nestor Tobias het hom nooit maklike opponente gegee nie. Hy word altyd in die leeukuil gegooi en hy kom seëvierend uit.

“Nghitumbwa (12-1, 11 uitklophoue) se enkele nederlaag was in 2017 in sy debuutgeveg teen sy landgenoot Jonas Matheus. Hy het Matheus egter vier jaar later in die herontmoeting verslaan en sodoende sy plaaslike opposisie ontgroei.

Hamunyela reken die twee boksers het soortgelyke vegstyle, hoewel Nghitumbwa oënskynlik die voordeel het wat armlengte betref.

“Casemiro het ook van die ligter klasse opgeskuif na superkapokgewig. Die Namibiër is dus van nature ’n groter figuur en ek is nie seker of Casimero sy krag sal kan ewenaar nie. Ek is 100% oortuig Nghitumbwa is in staat om Casemiro te klop.”

Hamunyela reken Nghitumbwa behoort die geveg met ’n uitklophou te beëindig eerder as om die geveg ná 12 rondes aan die beoordelaars oor te laat.

Nghitumbwa het uit Manila laat weet hy voel baie goed oor sy kanse. “Alles gaan tot dusver goed en die weer is goed. Dis ’n bietjie warm dié kant, maar ek is meer as gereed om my titel te behou.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!