Gefrustreerde vrouespanmaats sê jammer oor vuisgeveg
Basketbal
Die twee basketbalspelers van Mali wat ná afloop van ’n nederlaag in die Wêreldbekertoernooi vir vroue in Sydney met mekaar in ’n vuisgeveg betrokke geraak het, het om verskoning gevra en pak die skuld vir hul optrede op frustrasie.
Die voorval, wat deur televisiekameras verfilm is, het Maandag gebeur nadat Mali in groep B met 81-68 deur Serwië geklop is.
Die Mali-span het saamgedrom waar verslaggewers met spelers onderhoude voer. Salimatou Kourouma en Kamite Elisabeth Dabou het mekaar te lyf gegaan terwyl Sasa Cado van Serwië besig was om met die media te praat.
Kourouma het Dabou met minstens drie vuishoue bygekom voordat ander Mali-spelers tussenbeide getree het.
Volgens die Internasionale Basketbalvereniging (Fiba) sal hy ’n besluit neem oor gepaste tugstappe sodra sy ondersoek na die voorval afgehandel is.
Kourouma en Dabou het Dinsdag op ’n mediakonferensie om verskoning gevra.
“Ons is hier om jammer te sê vir die beeldmateriaal wat op sosiale media versprei is,” het Kourouma gesê.
“Dit was nie ons bedoeling nie en ons was gefrustreerd weens die nederlaag. Ons vra om verskoning aan die basketbalgemeenskap en die Fiba-Wêreldbekertoernooi.”
Mali is uit die toernooi geboender nadat hy al vyf se kragmetings in die groepfase verloor het, onder meer ’n nederlaag van 65-88 teen Kanada in sy laaste wedstryd Dinsdag.
Die toernooi gaan Donderdag voort met die kwarteindronde, terwyl die eindstryd Saterdag beslis word.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie