Hoë eer in VSA vir hardwerkende Xander

Swem
Andrew Poolman
Die Namibiese swemmer Xander Skinner het ’n uitmuntende toekenning verwerf vir beide sy akademiese en sportprestasies as ’n universiteitstudent in Amerika.

Die 24-jarige oudskolier van Windhoek Afrikaanse Privaatskool is ’n gegradueerde student van McKendree Universiteit in die staat Illinois – wat volgens die nasionale stelsel in Afdeling II geklassifiseer word.

Tot dusver is Skinner volgens die bestaande stelsel ook as ’n “student-atleet” geklassifiseer en op grond van sy akademiese en swemuitslae het ’n beheerliggaam getiteld CoSIDA (College Sports Information Directors of America) hom in die topposisie van alle swemmende student-atlete van alle Afdeling II-universiteite (minder as 25 000 studente) in die ganse VSA vir die jaar 2021-2022 aangewys.

In die geskiedenis van sy universiteit is Skinner die eerste student-atleet wat hierdie nasionale prestasie in enige sportsoort behaal.

“Die emosies wat ek beleef het toe my afrigter my hiervan ingelig het, is moeilik om te beskryf,” het Skinner in ’n onderhoud gesê.

“Ek het altyd die begeerte gehad om beide in my akademie en sport my doelwitte in die VSA na te jaag. Die moeilikste deel was om die presiese balans te vind tussen studies en om saans betyds in die bed te wees om die volgende oggend sesuur by my swemoefening te wees. Vir die eerste paar jaar was dit my grootste uitdaging, maar uiteindelik het ek wel my roetine gevind en dit het goed uitgewerk.

“My pa (Alex) het rugby (vir Namibië) gespeel en my ma (Sonja) was ’n hokkiespeler. Hulle het van kleins af by my ingeprent dat sportdeelname belangrik en pret is, maar dat akademie altyd ’n bietjie meer fokus verdien omdat jy eendag ’n regte werk moet hê.

“By my aankoms in die VSA het afrigter Jimmy dieselfde hoë verwagtinge van akademie eerste gestel. As jy in die VSA ’n studente-atleet te wees, is alles daarop ingestel om beide in jou sport en akademie sukses te behaal.”

MAAK GESKIEDENIS

Skinner het in Maart sy universiteitsloopbaan afgesluit deur sewe All-American eerbewyse as swemmer by die 2022 NCAA Afdeling II nasionale swemkampioenskap te verwerf. Sy vertonings het bygedra dat die McKendree Universiteit se swemspan, die Bearcats, opnuut in die algehele vierde plek geëindig het.

Met sewe All-American eerbewyse hierdie seisoen, het Skinner sy tyd as ’n Bearcat-swemmer met 21 sulke sertifikate afgesluit.

“Dis ’n groot eer om hierdie toekenning te ontvang en om die eerste studente- atleet in McKendree se geskiedenis te wees, maak dit ’n bietjie meer spesiaal. Ek wil McKendree bedank wat dit moontlik gemaak en my toegelaat het om my droom as studentatleet uit te leef,” sê Skinner.

“Ek wil my afrigters bedank, in besonder Jimmy Tierney wat heelpad in my geglo het. Ek sou dit ook nie kon vermag sonder die steun en eindelose liefde van my ouers nie.

“In my hart sal ek altyd ’n Bearcat wees en altyd dankbaar wees teenoor die universiteit.”

Jimmy Tierney, hoofafrigter van McKendree se swemspanne vir mans en vroue, sê: “Xander is wat elke afrigter van droom om in hul span te hê. Toe hy by McKendree aangekom het, was hy gretig om in te pas – en wat ’n groot impak het hy op die Bearcats-program gemaak!

“Hy was ’n uitmuntende student en ’n puik spanleier in beide die 2020-‘21- en 2021-‘22-seisoene. Hy het die standaard hoog gestel met sy totale verbintenis tot die span se doelwitte, as student én atleet. Xander sal baie gemis word, maar sy nalatenskap sal nog jare voortleef.”

Saam met sy verwerwing van sewe All-American eerbewyse by NCAAkampioenskappe, het Skinner by die 2022 Great Lakes Valley-konferensiekampioenskap (GLVC) ook vier goue medaljes verower, naamlik in die 200-vryslag en 400-vryslag en as lid van McKendree se wenspanne in die 400 wisselslag- en 800 vryslag-aflosse. In sy loopbaan het hy tien goue medaljes by GLVC-kampioenskappe gewen.

Tierney voeg by: “Xander het groot punte vir ons bygedra in ons hoogste eindposisie ooit by die NCAA’s (15de). Twee jaar later was hy ’n krag vir die Bearcats wat gehelp het om ons tot die tweede posisie by die 2020 GLVC-kampioenskap te stoot. By die NCAA’s daardie jaar het hy McKendree gehelp om die swemwêreld te skok deur na die toppunt van die spanpuntelys te klim voordat die byeenkoms vanweë Covid-19 gesluit is.”

VISIER OP STATEBONDSPELE

Op akademiese gebied het die Namibiër in Mei verlede jaar sy BSc-graad in Oefenwetenskap en Sportprestasie verwerf. Hy is tans met sy MBA besig.

In die proses het Skinner ook onlangs na Tempe, Arizona getrek en by dié staat se professionele swemgroep, die Sundevils, aangesluit. Een van sy afrigters daar is Bob Bowman, wat tevore die Olimpiese swemlegende Michael Phelps afgerig het.

“Ons oefen saam met studente van Arizona State University, maar ons is ’n klein groepie van so vyf wat nou aan die topvlak byeenkomste soos die VSA se nasionale kampioenskap en die VSA Ope gaan meeding. Net die afgelope paar weke se oefening saam met van die beste swemmers ter wêreld was vir my reeds tot voordeel.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!