Jong Karsten reik na die sterre
Atletiek
Die 18-jarige Karsten Diergaardt het op 15 April vir homself by die Onafhanklikheidstadion naam gemaak as die hoogspringwenner by Atletiek Namibië se senior nasionale kampioenskap.
Diergaardt, ’n graad 12-leerling by Windhoek Gimnasium, het die titel op ’n hoogte van 2.00 meter beklink. Sy oefenmaat Josia Katroli van die Hardapstreek, wat nog o.17 is, het op dieselfde hoogte geslaag, maar Diergaardt het op uittel gewen.
Die lenige Diergaardt, 1.87 meter lank, het twee weke later by dieselfde venue tydens die NSSU nasionale skolekampioenskap opnuut die o.19-goud met dieselfde wenhoogte opgeraap.
Met dié prestasie op sy getuigskrif, is Karsten in die ontwikkelingspan van die Pupkewitz-stigting opgeneem. Hy is bestem om van 15 tot 18 Junie by die Hayward Field-atletiekstadion in Eugene, Oregon, aan die Nike Outdoor National Athletics Championships in die VSA deel te neem.
Die elite byeenkoms vir hoërskoolatlete geskied slegs op uitnodiging, en word sedert 1990 deur die National Scholastic Athletics Foundation in die VSA gereël en aangebied.
Rassidy Diergaardt is ’n enkelma wat agter haar drie seuns en Karsten se drome staan. Haar man, pastoor Karsten Tillman Diergaardt senior van die Evangeliese Lutherse Kerk, is in September 2019 skielik oorlede.
Sy het aan Republikein gesê: “Karsten is geweldig toegewyd, gedissiplineerd en passievol oor sy hoogspring.
“Hoewel hy in 2014 begin spring het, het hy eers in Junie 2021 ernstig vir die item begin oefen. Ek is baie trots op wat hy vanjaar bereik het, want hy het ’n streng oefenprogram wat hy slaafs navolg. Ek dink as ’n mens na sy prestasies kyk, begin pluk hy nou die vrugte daarvan.
“Ons is besig met voorbereiding vir sy vertrek op 10 Junie na die VSA, maar alvorens dit kan gebeur, moet ons vir hom borge kry. Hoewel die Pupkewitz-stigting aan boord is, is daar geweldig baie uitgawes wat ek self moet betaal. Ek wil vir hom die beste gee, maar vir my as enkelouer is dit onmoontlik om by al die uitgawes by te kom.
“Karsten is ’n nederige mens en sal nie net Namibië en sy skool met trots verteenwoordig nie, maar ook die borge wat hom ondersteun.”
Karsten se twee ouer boeties, Peter en Kieron, is beide bekend in rugbykringe, met Peter wat vandeesmaand sy eerste twee senior provinsiale wedstryde vir die Windhoek Draught Welwitschias gespeel het.
OLIMPIESE DROOM
Karsten word tans in Namibië deur Madeleine Kotze afgerig, maar Jonathan Greyvenstein gee weekliks raad uit Pretoria. En dis waarheen sy kop staan waar hy onder die ervare Greyvenstein se wakende oog wil oefen en vir ’n graad in sportsielkunde wil studeer.
Hoogspring is beslis in dié talentvolle atleet se bloed en in sy toekomsplanne. Sy volgende mikpunt is om vir die 2028 Olimpiese Spele in Los Angeles, Kalifornië, te kwalifiseer. Sy aspirasies is ook om homself stelselmatig op die internasionale hoogspringtoneel te vestig.
DAAGLIKSE MOTIVERING
“My begeerte om ’n gerekende Namibiese hoogspringer te word en om aan die 2028 Olimpiese Spele deel te neem, motiveer my daagliks. Om my land internasionaal te verteenwoordig, sal ’n groot eer en voorreg vir my wees.
“Stefan Holm, die uitgetrede Sweedse hoogspringer, is nog ’n inspirasie vir my. Hy was ’n atleet aan wie gereeld gesê is hy is te kort (1.81 m) om internasionaal sukses te behaal.
“Nogtans het hy een Olimpiese goue medalje, een Wêreldkampioenskap-silwer, vier Wêreld binnenshuise kampioenskap-goues, een silwer en een brons by die Europese Kampioenskap asook twee goud en een silwer by die Europese binnenshuise kampioenskap verower. Sy beste hoogtes is 2.37 m (buitenshuis) en 2.40 m binnenshuis.
“Ek wil graag ander jong atlete wys en inspireer dat dit moontlik is om jou drome te verwesenlik sodra jy jou sielkundig daarop ingestel het. Al kom jy uit ’n nederige agtergrond, is enige iets moontlik as jy jou hart daarop sit,” het Karsten gister opgewonde uit die gimnasium waar hy besig wat om te oefen, aan Republikein verduidelik.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie