Mans en vroue op grootste WB-verhoog
Wêreldbeker-hokkie
Beide Namibiese spanne is vuur en vlam om die land trots te maak.
Die MTC Namibiese mans- en vrouespanne se lank verwagte aanslag op die Internasionale Hokkiefederasie (FIH) se sesde Binnenshuise Wêreldbeker word Sondagmiddag in Pretoria by die Heartfelt-arena van stapel gestuur.
Namibië se mans (16de op die FIH-wêreldranglys) sal in groep A eerste teen Nederland (6de) te staan kom, met Oostenryk (nr. 1), België (8), Kazakstan (14), en Nieu-Seeland (nie op ranglys) hul ander opponente. Groep B bestaan uit Iran (3), Tsjeggië (4), Argentinië (20), Australië (10), Suid-Afrika (11) en die VSA (19).
Die vroue (gesamentlik 9de) se teenstanders in groep B is België (15), Kanada (16), Tsjeggië (4), Kazakstan (12) en Oekraïne (3). Groep A is Australië (9), Nederland (2), Nieu-Seeland (nie op ranglys), Oostenryk (8), Suid-Afrika (14) en die VSA (12).
Namibië se manne maak hul terugkeer na die Wêreldbeker-verhoog ná ’n afwesigheid van 12 jaar en is gretig om hul stempel af te druk. Die span het by die 2011-toernooi in Poznan, Pole, onderaan die punteleer (12de) geëindig.
By die komende Binnenshuise Wêreldbeker, die eerste wat op Afrika-bodem aangebied word, behoort kaptein D.J. Strauss (doelwagter) en sy nuwe geslag manskappe goeie rekenskap van hulself te gee. Strauss is die enigste oorblywende spanlid wat in 2011 in Pole in aksie was.
Namibië het by die 2021 Binnenshuise Afrikabeker tweede geëindig wat in Durban aangebied was.
Fagan Hansen, wat toe 18 was, het toe as die voorste doelvraat in daardie kompetisie met 24 doele in vyf wedstryde na vore getree. Hansen is ’n giftige aanvalswapen vir sy span. Hy het in 2022 sewe keer in tien wedstryde die Proteas se doelwagter geklop.
Die Namibiese mans het Suid-Afrika se Proteas einde verlede jaar in Windhoek strawwe kompetisie in vyf toetse gebied. Desembermaand in Kaapstad is opnuut vyf toetse teen die Proteas gespeel, waarvan twee gelykop gespeel en drie verloor is (2-2, 5-5, 7-4, 5-4, 8-2).
Afrigter Trevor Cormack se manne moet gereeld internasionaal bo hul gewigsklas meeding, maar vandeesweek se drie opeenvolgende oorwinnings in opwarmwedstryde sal die span groot selfvertroue besorg. Die Namibiërs was aan die wenkant teen die VSA (5-4), eergisteraand teen Australië (4-2) en ook gisteroggend teen Argentinië (7-3).
In die 2011 WB-kragmeting teen die VSA het Namibië met 0-8 verloor en vandeesweek se uitslag wys dus op hul daadwerklike opgang sedertdien.
VROUE
Namibië is die huidige Afrika-titelhouer en driemalige wenner van Binnenshuise Afrikabeker. Hulle het in 2021 in Durban die Suid-Afrikaanse Proteas die derde keer in die finaal vir die gesogte titel geklop.
Namibië moes in Durban twee nederlae (2-1, 4-0) teen die Proteas afsluk voor hulle die gasheer in die eindstryd met 2-0 gepootjie het. Sunelle Ludwig en Jaime Gillies het triomfantelik elk ’n doel aangeteken om die Proteas se harte te breek.
Laas Oktober was die Proteas opnuut in Windhoek vir vyf toetse. Namibië het twee gewen, twee gelykop gespeel en het een keer verloor. Azaylee Philander was die reeks se voorste doelskieter met agt.
Die ervare spankaptein Maggy Mengo sal Namibië vir die laaste keer by die Wêreldbeker aanvoer voor dié legende internasionale hokkie vaarwel roep. Sy het haar land by twee vorige Wêreldbekers verteenwoordig. Die Namibië-vroue het in 2011 tiende en in 2018 negende by die Wêreldbeker geëindig.
Erwin Handura, hoofafrigter van die vroue, het gister gesê: “Ons het twee goeie weke in Nederland vir voorbereiding gehad en twee wedstryde teen hul nasionale span gespeel. Gelukkig is hulle in groep A. Nederland is tans tweede op die FIH-ranglys.
“Ons moes baie vinnig aan die Europese winter en die Nederlanders se drukpatroon, speltempo en vaardighede gewoond raak. Die vroue het baie geleer en het skerper geraak. Dis die beste voorbereiding wat ons nóg gehad het.
“Ek reken ons is 95 persent gereed en Sondag moet ons 100% reg wees.
“Ons almal is positief. Ons ambisieuse mikpunt is om in die toptwee in ons groep en in die topses in die toernooi te eindig en ons glo dit is moontlik.
“Ons benader dus elke wedstryd met die erns van ’n finaal. Sondag se opponent, Kazakstan, is die kampioen van Asië, terwyl ons die Afrika-titel hou.”
Handura se span speel vandag hul finale opwarmwedstryd teen die VSA.
VORIGE WÊRELDKAMPIOENE
Mans: Duitsland (2003, 2007 en 2011), Nederland (2015), Oostenryk (2018).
Vroue: Duitsland (2003, 2011, 2018), Nederland (2007, 2015).
VOLG DIE AKSIE
Namibië se wedstryde kan by www.sabcplus.com/en gekyk word. Die WatchHockey toepassing of die webtuiste Watch.hockey is ook opsies.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie