Masilingi wys tande vroeg in seisoen

Atletiek
Die Namibiër wat eers in April 20 jaar oud word, het gewys sy is gereed vir nog 'n puik atletiekjaar.
Andrew Poolman
Namibië se tienerjarige naelloopsensasie Beatrice Masilingi het met ’n opspraakwekkende Afrika-rekord en tweede vinnigste wêreldtyd in die geskiedenis gewys dat dit gans te vroeg is om haar af te skryf ná die afgelope jaar waarin ontydige beserings en ’n verandering in afrigter en oefenbasis oënskynlik haar momentum gestuit het.

Die 19-jarige Masilingi was Saterdag by die Simbine Curro Classic in Pretoria in aksie en het vir die 300 meter ingeskryf, wat sy in ’n uitstekende 34.60 sekondes afgeblits het.

In die 300 meter, ’n afstand wat min in groot kompetisies gehardloop word en wat merendeels in oefenprogramme gebruik word om spoeduithouvermoë vir 200- en 400-spesialiste op te bou, hou Shaunae Miller-Uibo, tweemalige Olimpiese 400-kampioen van Bahamas, die wêreldrekord van 34.41 sekondes (Junie 2019 in Ostrava, Tsjeggië).

Die Namibiër het Saterdag skaars 0.19 sekondes van dié rekordtyd gaan draai en haar vlak so vroeg in die atletiekseisoen lyk inderdaad indrukwekkend.

Masilingi, wat in 2021 in haar internasionale deurbraakseisoen die Olimpiese 200-finaal gehaal en sesde geëindig het, het in Pretoria ook die vorige beste 300-tyd deur ’n Afrika-atleet oorskadu. Kaltouma Nadjina van Tsjad het in 2001 in Engeland 36.10 opgestel.

In Pretoria het die twee Suid-Afrikaners Miranda Coetzee (36.48) en Zeney van der Walt (36.62) in die tweede en derde posisies ver agter haar klaargemaak.

Masilingi het in reaksie aan Namibian Sun gesê sy is in haar noppies met haar vertoning en met die rekords. Sy het bygevoeg dat sy nog nie seker is wat haar volgende deelname sal wees nie en dat dit van besprekings met haar span en afrigter kan afhang.

Haar Suid-Afrikaanse verteenwoordigers Newton Sports Agency het in onlangse mediaberigte verklaar dat sy weer topfiks en gesond is ná die dyspierprobleem wat laas jaar onder meer haar deelname aan die wêreldkampioenskap in Eugene, Oregon, VSA beduiwel het. Sy het klaarblyklik ook goed aangepas by die oefengroep van wêreldklas naellopers onder leiding van haar Suid-Afrikaanse afrigter Hennie Kriel.

Deelname aan die wêreldkampioenskap in Augustus vanjaar in Boedapest, Hongarye, sal beslis in die Masilingi-span se visier wees, asook waarskynlike deelname aan die Europese seisoen van Diamantliga-byeenkomste wat reeds in Mei begin.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!