Ná vier jaar keer All Blacks terug na SA
Rugby
Die All Blacks sal vanjaar die eerste keer in vier jaar in Suid-Afrika in aksie wees.
Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het gister aangekondig dat Nieu-Seeland albei sy Rugbykampioenskapstoetse teen die Springbokke vanjaar hier sal speel.
Die eerste van die toetse sal veral geskiedkundig wees, omdat dit die eerste keer sal wees dat Mbombela ’n toets tussen die Springbokke en hul aartsvyand aanbied.
Die Mbombela-stryd, op 6 Augustus, sal die Bokke en Kiwi’s se eerste kragmeting in vanjaar se Rugbykampioenskap wees. Die tweede toets sal op 13 Augustus op Ellispark beslis word.
Die All Blacks se laaste toets in Suid-Afrika was op 6 Oktober in 2018, toe die Kiwi’s ’n naelskousege oor die Springbokke op Loftus Versfeld (32-30) behaal het.
In 2019 het die Springbokke net een toets in Nieu-Seeland gespeel omdat die Rugbykampioenskap in ’n Wêreldbeker-jaar verkort word.
In 2020 het Suid-Afrika vanweë die Covid-19-pandemie geen toetse gespeel nie en verlede jaar is al die Rugbykampioenskapstoetse in Queensland in Australië beslis.
Ná vanjaar se kragmetings met die All Blacks sal die Bokke na Australië vertrek, waar hulle die Wallabies twee keer die stryd sal aansê (27 Augustus en 3 September). Die gasheerstadions vir hierdie wedstryde sal eers later bekendgemaak word.
Twee weke later is die Bokke in nog ’n wegwedstryd in aksie, dié keer teen Argentinië in Buenos Aires.
Suid-Afrika sal sy veldtog in die Rugbykampioenskap ’n week later met ’n tweede stryd teen die Poemas op Kingspark in Durban afsluit.
Die Springbokke sal in Julie reeds vir die Rugbykampioenskap opwarm met ’n reeks van drie toetse teen Wallis.
Die Rooi Drake, wat Suid-Afrika die eerste keer sedert 2014 gaan besoek, sal op 2 Julie (Pretoria), 9 Julie (Bloemfontein) en 16 Julie (Kaapstad) met die draers van die Groen-en-goud slaags wees.
“Dis opwindend om so ’n stewige Springbok-bepalingslys te kan aankondig ná die span se suksesvolle 2021-seisoen. Ek glo Jacques Nienaber (hoofafrigter), sy bestuurspan en die spelers sal hul bes doen om vanjaar op daardie vertonings voort te bou,” sê Jurie Roux, uitvoerende hoof van Saru, in ’n verklaring.
Roux sê die Covid-19-pandemie skep steeds wêreldwyd uitdagings en kan tot veranderinge in wedstrydskedules lei, maar voeg by dat dit vir die Springbokke belangrik is om vanjaar teen spanne van gehalte te speel in die aanloop tot die verdediging van hul Wêreldbeker-kroon in 2023 in Frankryk.
Nienaber sê hulle vorder goed met hul beplanning vir die jaar en dat die kennis wat hulle verlede jaar in kragmetings met Wallis, Nieu-Seeland, Australië en Argentinië opgedoen het, van groot waarde sal wees in die komende maande.
“Wallis, die All Blacks en Australië het verlede jaar baie sterk teenstand gebied, terwyl ons weet dat Argentinië tuis en weg ’n krag is om mee rekening te hou. Ons besef egter hoe belangrik dit is om vanjaar ’n sterk fondament met die oog op die Wêreldbeker te lê,” sê Nienaber.
• SPRINGBOK-BEPALINGSLYS:
2 Julie: tn Wallis (Loftus Versfeld, Pretoria)
9 Julie: tn Wallis (Toyota-stadion, Bloemfontein)
16 Julie: tn Wallis (DHL-stadion, Kaapstad)
6 Augustus: tn Nieu-Seeland (Mbombela-stadion, Mbombela)
13 Augustus: tn Nieu-Seeland (Ellispark, Johannesburg)
27 Augustus: tn Australië
3 September: tn Australië
17 September: Argentinië (Vélez Sarsfield, Buenos Aires)
24 September: tn Argentinië (Kingspark, Durban).
– Netwerk24
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie