Noue ontkoming vir flank met kriekettalent

Skolerugby
Andrew Poolman
Die flank Dirkie Theunissen, ’n staatmaker vir die eerste rugby­span van Schoemans-groep Windhoek Gimnasium, het laat in die tweede helfte van Donderdagaand se wedstryd by die WHS Vegkopstadion die veld verlaat.

Theunissen het in ooglopende ongemak verkeer ná ’n stamp teen die ribbes. Die terugvoering gister, dat hy reeds verby die ergste is, sal nie net vir Gimnasium goeie nuus wees nie, maar ook vir die Namibiese nasionale krieketafrigter Pierre de Bruyn.

Theunissen was die opvallende insluiting in die Richelieu Eagles se spelersgroep vir die driehoekige Global T20 Namibia-toernooi waarin Namibië komende Donderdag tot Sondag by Wanderers teen die DP Lions van Gauteng en die gedugte Lahore Qalandars opgeweeg word.

Hoewel Theunissen nie noodwendig uitstaande presteer het in klubkrieket of op die onsuksesvolle toer ter kwalifisering vir die o.19 Wêreldbeker nie, is sy talent raakgesien as ’n potensiële vooruitsig as regterarm snelbouler – ’n aspek waarin Namibiese krieket altyd na meer en beter skietgoed in die mark is.

Volgens sy ma Karina was Dirkie reeds Saterdag “tip top” en het hy die oggend by die nasionale krieketoefening gaan aanmeld.

Vir Gimnasium lê ’n welverdiende afnaweek in die Standard Bank o.19 Superliga voor. Ná afgelope Donderdagaand se sege met 22-15 teen Samsung WHS is hulle steeds in die topposisie as die enigste onoorwonne span en het boonop afgereken met die Koedoebulle wat tweede bly. Wedstrydverslag binne in Sport Wrap.

TITELHOUERS ONDER DRUK

Afrigter Johan Zaayman se KMC/ONE Construction Windhoek Affies is in ’n gestoei gewikkel om wel die halfeindronde te haal, nadat hulle op Outjo met 10-18 deur OK Foods Moria Privaatskool geklop is.

Die wedstryd het eers in die tweede helfte behoorlik vlamgevat nadat Moria rustyd net met 3-0 en later met 13-0 voorgeloop het. Beide spanne (twee drieë elk) het dus die ekstra bonuspunt laat glip wat op die spel staan indien jy meer kere as die opposisie gaan druk.

Die wedstryd is regstreeks op die Facebook-blad van My Zone vertoon en kan steeds weer daar gekyk word.

WEN VIR PRO-ED

Op Rehoboth moes die reisende Swakopmunders van PSG Pro-Ed Akademie hard werk om vir Dr. Lemmer met 16-9 onder te kry.

Die wenspan se drieë is deur die stut Rudu Xawes en stut Tayton Saunders gedruk, saam met die skoppunte deur losskakel Alex Murtz.

Pro-Ed se afrigter, Thys Saunders, sê: “Daar was glad te veel foute aan ons kant en in die gebied waar dit belangrik is, maak ons te veel foute. Dis nie maklik om daar te speel nie en Lemmer het regtig alles gegee.

“Ons moet ook leer om balbesit te hou en te beskerm en te speel soos ons die dinge oefen. Op die oomblik is ons ons eie grootste vyand.”

• Die oorblywende wedstrydbepalings vanjaar:

SATERDAG 03 September: Windhoek Affies tn WHS by Affiespark; PSG Walvisbaai PHS tn Moria I op Walvisbaai.

SATERDAG 10 September: Dr. Lemmer tn Moria op Rehoboth

Pro-Ed Akademie tn WAP op Swakopmund; Windhoek Gim tn Walvisbaai PHS by Windhoek Gim.

SATERDAG 17 September: Semifinale.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!