Proteas se vernuf beklink mansreeks

Hokkie
Ná 'n goeie begin Dinsdagaand het Suid-Afrika stelselmatig die oorhand bewerkstellig.
Andrew Poolman
’n Doelgerigte vertoning deur Suid-Afrika se binnenshuise manshokkiespan was Dinsdagaand goed genoeg om Namibië met 8-2 te oorrompel en die reeks van vyf wedstryde met 3-0 in te palm, ná die eerste twee gelykopuitslae.

Alle oë is nou op die naderende binnenshuise Wêreldbeker wat van 4 tot 11 Februasie in Pretoria voorlê. Namibië sal met beide sy mans- en vrouespanne meeding.

Spankaptein DJ Strauss, wie se speeltyd as doelwagter in die reeks redelik met die jonger Richter van Rooyen afgewissel is, en afrigter Trevor Cormack sou gewis lesse uit die afgelope week se vyf wedstryde ter harte geneem het.

Minder as twee minute ná die eerste afslaan Dinsdagaand het Namibië die eerste doel op die telbord geplaas. Dakota Hansen het spel in sy eie helfte hervat met ’n aangee na Ernest Jacobs aan die regterkant, wat die bal reguit na die jonger Hansen-broer voor die doelhok deurgeskiet het. Fagan het half verby die verdediger voor hom getol en vir homself spasie geskep om die doelwagter in die regterhoekie te klop.

Die 1-0 voorsprong is verdubbel toe Namibië in hul eie helfte besit by die Proteas se Chad Futcher afgeneem het. Ernest Jacobs het deur die middel gebreek en Fagan Hansen aan sy linkerkant gevind, wat dadelik die retirerende verdedigers gefop het met ’n aangee dwarsoor die baan na Liam Hermanus aan die regterkant wat akkuraat afgerond het.

Met minder as tien sekondes in die eerste kwart oor, het die Namibiërs onverwags besit afgestaan en Dayaan Cassiem het doelwagter DJ Strauss geklop om die voorsprong tot 2-1 te laat krimp.

Nadat Suid-Afrika se statistiek reeds in die eerste helfte die meeste aanvallende momentum begin uitwys het, het Namibië tot laat in die tweede kwart aan die voorsprong geklou, toe Dayaan Cassiem op sy eie uit sy helfte weggebreek en van ’n skerp hoek af die bal teen die borand van die doelhok ingeskiet het vir die 2-2 gelykmaker.

Van hier af het die telbord egter toenemend droewiger begin lyk met Suid-Afrika wat ’n hoër rat gevind het en sy topspelers wat ’n paar stukkies towerspel gelewer het. Hul verdere doele is deur Daniel Sibbald, Chad Futcher (2), Lungani Gabela en Mustapha Cassiem behaal, asook Dayaan se driekunsdoel in die derde kwart wat met soveel krag ingevlieg het dat die doelnet geskeur is.

WEDSTRYD 4

Maandagaand het Suid-Afrika in die eerste kwart beheer geneem en met 3-0 voorgeloop danksy doele deur kaptein Jethro Eustice, ’n strafhoekhou deur Dayaan Cassiem en Mustapha Cassiem se 51ste internasionale doel.

Namibië het die gang van die wedstryd egter op sy kop omgekeer met ’n selfs beter tweede kwart, waarna die toerspan met 4-3 voorgeloop het. Treffers deur Percy Barthram, Nico Neethling, Liam Hermanus en David Britz het verseker dat Namibië rustyd net-net voorgeloop het.

Die tweede helfte het egter opnuut in Suid-Afrika se guns geswaai toe Dayaan Cassiem ná ’n blitsige teenaanval die gelykmaker behaal het.

Die doodskoot wat die reeks in die gasheerland se guns beklink het, is met ’n strafhoekhou deur kaptein Jethro Eustice aangeteken, vir eindtelling van 5-4 in die RSA se guns.

VROUE

Suid-Afrika se vrouespan het Dinsdagaand in Kaapstad met 2-1 teen Ierland gewen, om sodoende die hoogs mededingende reeks van ses wedstryde met twee-nul te beklink.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!