Raza red Chevrons in gelykmaker

Krieket
Een van die hoër gerekende Zimbabwe se wedstrydwenners, Sikandar Raza, het gister met die laaste bal seker gemaak sy span wen met vyf paaltjies.
Andrew Poolman
Eers in die laaste kwart van die wedstryd het die Zimbabwiese Chevrons gister die wurggreep van die Namibiese Richelieu Eagles begin loswring in ’n spannende en dramatiese internasionale T20-botsing by die Wanderersveld.

Die Castle Lite-reeks van vyf wedstryd is met een-elk gelykop nadat Sikandar Raza met 82 nie uit nie van 35 balle (3x4 9x6) met die kolf ingeklim het om die Zimbabwe-span met die heel laaste bal oor die wenstreep te kry.

Nadat Namibië Dinsdag die eerste wedstryd op indrukwekkende wyse met sewe paaltjies beklink het, het Niko Davin gister sy tweede opeenvolgende vyftigtal gemoker, terwyl Michael van Lingen ewe briljant gekolf het om die Eagles tot ’n kompeterende totaal van 198 vir drie in 20 boulbeurte te voer.

Van Lingen (67 van 37 balle, 10x4, 3x6) en Davin (60 van 44 b, 6x4, 2x6) het as aanvangskolwers van die begin af die pap dik aangemaak. Hul 108-vennootskap om die eerste paaltjie is ’n nuwe Namibiese rekord in ’n internasionale T20-wedstryd – en word net oortref deur die onoorwonne 112 wat Craig Williams en JP Kotzé in Augustus 2019 in Windhoek om die vierde paaltjie teen Botswana opgestel het.

Van Lingen het sy vyftig met ’n haastige 22 balle op die telbord geplaas. Op die lys van vinnigste internasionale T20-vyftigtalle vir Namibië word dit net deur JJ Smit (20 balle teen Oman in Dubai, Oktober 2019) oortref.

Van Lingen se 67 lopies is sy hoogste telling sover in 12 T20I-kolfbeurte, voordat hy deur Zimbabwe se kaptein Craig Ervine uitgevang is.

Die 50 agter Davin se naam het ná 31 balle verskyn – die identiese koers as wat hy die vorige dag (as speler van die wedstryd met 80* van 44 balle) hiervoor gebruik het.

Gister is Davin met die tweede laaste bal van die kolfbeurt uitgehardloop, maar danksy die verdere beurte van Gerhard Erasmus (38 van 28 b, 5x4) en JJ Smit (25* van 11 b, 1x4, 3x6) het Namibië 198 vir drie in sy 20 boulbeurte opgestel.

Namibië se val van paaltjies: 1/108 (Van Lingen, 9.3 boulbeurte), 2/166 (Erasmus, 16.5), 3/194 (Davin, 19.5).

OMMESWAAI

In Zimbabwe se kolfbeurt is die aanvangspaar Nick Welch (25 van 19 b, 4x4) en Innocent Kaia (37 van 30 b, 4x4, 1x6) se paaltjies onderskeidelik deur JJ Smit en Nicol Loftie-Eaton opgeëis.

Dit het egter beteken dat die speler van die wedstryd, die vernuftige Sikandar Raza, op 56/2 ná 8.5 boulbeurte ingestap het.

Hy het sy vyftigtal met 24 balle op die telbord geplaas (een bal meer as sy persoonlike beste in dié formaat) en sy inklimspel met nege sesse het eiehandig verseker dat Zimbabwe se wankelende tempo in die lopiejaagtog terug op koers gebring word.

Jan Frylinck (1/29 in 3 bb) het ’n briljante 19de boulbeurt afgestuur waarin hy net ses lopies afgestaan het en aan Zimbabwe die taak gestel het om 18 van die laaste boulbeurt aan te teken.

Die ongelukkige Tangeni Lungameni (0/45 in 4 bb), wie se vorige boulbeurt 19 lopies gekos het, is met dié boultaak toevertrou, maar het opnuut die druk met ’n wydloper (sy derde van die dag) laat glip voordat Raza met twee sesse, ’n enkellopie en van die laaste bal ’n vierhou die knoop vir die toerspan deurgehaak het.

Gerhard Erasmus (2 vir 29 in 4 boulbeurte), Nicol Loftie-Eaton (1/18 in 1) en JJ Smit (1/16 in 2) het paaltjies geneem.

Namibië takel die huidige reeks sonder Ruben Trumpelmann, wat tans beseer is.

VOLGENDE

Vandag is ’n rusdag, voordat die drie oorblywende T20’s in die Castle Lite-reeks by die United-veld gespeel sal word (Vrydag, Sondag en Maandag).

Namibië se Ewoud Lassen het gister sy debuut as ’n internasionale T20-skeidsregter saam met sy ervare landgenoot Claus Schumacher gemaak.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!