Teleurstelling vir haastige Bromell
Atletiek
Sarel van der Walt
Die Amerikaner Trayvon Bromell, wat verlede jaar die voorste 100 meter-atleet in die wêreld was, is Saterdagmiddag op die tweede Diamantligabyeenkoms van die seisoen in Birmingham, Engeland, gediskwalifiseer omdat hy te vroeg weggespring het.
Bromell, wat vroeër die eerste junior atleet geword het om die 100 m in vinniger as 10s af te blits, het vanjaar reeds ’n tyd van 9,92s – die vinnigste tot dusver in 2022 – aangeteken. Sy beste tyd (9,76s) het hy verlede jaar in Nairobi, Kenia, aangeteken.
Bromell se diskwalifikasie was nie die einde van die drama nie.
Toe die haastige manne daarna weer in die blokke gesak het, het die Brit, Zharnell Hughes, dieselfde flater begaan en ook ’n rooi kaart gekry.
Dit was die vierde keer in vyf byeenkomste dat dit met Hughes gebeur het.
Toe die oorblywende atlete uiteindelik weggespring het, het die Kanadees Aaron Brown gewen met ’n tyd van 10,13s.
Jamaika se Yohan Blake, ’n voormalige wêreldkampioen, was tweede in 10,18s.
Die byeenkoms is gehou in die Alexander-stadion waar die atletiek by vanjaar se Statebondspele in Augustus sal plaasvind.
Die diskusgooi vir vroue kan vanjaar een van die belangrikste items wees.
Valerie Allman, die Amerikaanse Olimpiese diskusgooi-kampioen, wat verlede maand die beste afstand in 30 jaar (71,46 m) in San Diego aangeteken het, het met haar tweede poging Saterdag ’n wenafstand van 67,85 m behaal.
Kroasië se Sandra Perkovic, wat in 2016 op die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro die goue medalje verower het, was tweede met ’n gooi van 67,26 m. Dis haar beste afstand dié seisoen.
Die 27-jarige Allman is ’n voormalige balletdanseres en dit is duidelik te sien wanneer sy in die sirkel draai voordat sy die diskus lanseer.
Die Skot, Laura Muir, die Olimpiese silwermedaljewenner in die 1 500 m vir vroue, het dié item gewen danksy ’n sterk eindpoging.
Haar wentyd in haar eerste groot wedloop van die jaar was 4 minute en 2,82 sekondes.
Die Keniaan, Abel Kipsang, het die 1 500 m vir mans in 3:35.15 gewen.
Muir se landgenoot, Keely Hodgkinson, die Britse rekordhouer in die 800 m vir vroue (1:57.20), het dié item gewen in 1:58.64 nadat sy ná 59,04s die klok vir die tweede en laaste ronde gehoor het.
In die 400 m-hekkies vir vroue het die Olimpiese kampioen van 2016, en verlede jaar se silwermedaljewenner, die Amerikaner, Dalilah Muhammad, gewen met ’n tyd van 54,55s.
Brittanje se Dina Asher-Smith, wêreldkampioen in die 200 m vir vroue, het Jamaika se Shericka Jackson in die afwesigheid van Jackson se landgenoot, die Olimpiese kampioen, Elaine Thompson-Herah met ’n honderdste van ’n sekonde geklop.
Hul tye was onderskeidelik 11,11s en 11,12s.
Daar was nie enige Suid-Afrikaanse of Namibiese atleet op die byeenkoms nie. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie