Vroue leer lesse by WB in kortste formaat

Hokkie
Kaptein Petro Stoffberg sê 'n eindposisie in die toptien ter wêreld is nie te versmaai nie.
Andrew Poolman
Namibië se senior nasionale vrouespan het ’n kleiner as gebruiklike impak by die Internasionale Hokkiefederasie (FIH) se eerste Vyf-aan-’n-kant Wêreldbeker in Maskat, Oman, gemaak deur in die tiende posisie te eindig.

Ten spyte van die algehele 10de plek, het die Namibiese span steeds kompeterende vertonings gelewer in die groep wat topklas teenstanders Indië, Pole en die VSA ingesluit het. Die Namibiërs het teen Indië (2-7), Pole (1-5) en die VSA (1-6) verloor.

Namibië het hierna met 5-2 teen Thailand en met 9-3 teen Fidji gewen. Hul doelskieters teen laasgenoemde span was Azaylee Philander (4), Sunelle Ludwig (3), Tara Myburgh en Jivanka Kruger.

Die VSA het die uitspeelwedstryd vir die 9de plek oorheers, maar die verskil was uiteindelik net 2-0 ná nog ’n meesterklas van Namibië se uitstekende doelwagter en kaptein Petro Stoffberg.

Stoffberg het gesê sy bly opgewonde oor die toekoms van Namibiese hokkie, wat van hier af net vorentoe kan beweeg.

“Tiende in die wêreld is glad nie sleg nie en een van die spanne in ons groep, Indië, het in die finaal gespeel. Indië het ons met 7-2 geklop, wat ’n baie kompeterende wedstryd was in hierdie formaat waarin doele baie vinnig opgestapel kan word.”

Afrigter Sedtric Makati sê die span moes gedurende die loop van die toernooi sy spelpatroon aanpas. “Die VSA is nie ’n liggewig opponent nie, maar hoewel uitputting op die laaste dag ’n faktor vir al die spanne was, het ons ons beste gegee.”

Vanweë finansiële beperkings kon Namibië nie ’n senior manspan stuur na die Vyf-aan-’n-kant Wêreldbeker wat ook intussen begin het nie.

Die vrouespelers wat intussen reeds teruggekeer het, berei hulle nou voor op die plaaslike binnenshuise hokkieliga, wat geskeduleer is om in Februarie af te skop.

In die nasionale vroue-opset word ook nou aandag gegee aan die komende Binnenshuise Afrikabeker wat vir Junie beplan word, waarvan die gasheerland nog nie bevestig is nie. Die toernooi sal as die kontinentale kwalifisering vir die Binnenshuise Wêreldbeker dien.

FINALE STAND

Nederland het die wêreldkroon verower deur Indië met 7-2 in ’n opwindende eindstryd te klop.

Pole het die bronsmedalje met ’n oorwinning vann 4-2 oor Suid-Afrika verseker. In die Challenger-trofee, vir spanne wat voor die kwarteindronde uitgeskakel is, het die VSA die titel gewen deur Namibië te klop.

Uruguay het die vyfde posisie ingepalm deur met 8-4 teen Maleisië in hul uitspeelwedstryd te wen, terwyl Oekraïne gemaklik met 6-0 te sterk was vir Nieu-Seeland toe hulle mekaar vir die sewende plek uitgedaag het.

Australië het die elfde plek behaal met ’n oorwinning van 8-3 oor Fidji, terwyl Thailand 13de geëindig het danksy ’n sege van 5-3 oor Paraguay.

Zambië se Carol Nakombe het ’n indrukwekkende ses doele en Loveness Mudenda het ’n driekuns aangeteken toe Zambië die gasheer Oman met 11-3 vermorsel het om die 15de plek te verseker.

Individueel was Teresa Viana van Uruguay die voorste doelskieter in die toernooi, met 19 treffers in ses wedstryde – vier meer as enigiemand anders.

Jivanka Kruger (5), Sunelle Ludwig en Azaylee Philander (elk 4) het die meeste doele vir Namibië aangeteken.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!