Wanderers wen – én uitslae in sy guns

Klubrugby
FNB Unam en FNB Western Suburbs het nederlae gely waarin hulle geen ligapunt kon byvoeg nie.
Andrew Poolman
Nadat hy die vorige naweek in die eerste rondte een van drie spanne was wat volle bonuspunte verwerf het, het FNB Wanderers ’n slag geslaan toe hy FNB Unam se eerste rugbyspan Vrydagaand uit die topposisie geboender het met ’n oorwinning van 35-20 by Wanderers-veld.

Unam moet tans sonder verskeie senior staatmakers klaarkom en het maar gesukkel om hul stempel af te druk, veral in die tydperk toe Wanderers besig was om sy voorsprong van 18-3 teen rustyd op te bou.

’n Geel kaart vir die lang vyfslot Brandon Ortner vir ’n gevaarlike duikslag ná net drie minute het die studentespan onmiddellik op die agtervoet geplaas. Tydens sy tien minute in die koelkas het Wanderers eers dadelik die lynstaan opgestel van waar hulle die haker Darius von Solms oorgedryf het.

Heelagter Denzo Bruwer het nie verdoel nie, maar net voordat Ortner teruggekeer het, het Wanderers opnuut die kwartgebied binnegedring en van ’n lynstaan die bal regtervleuel toe gevat. Von Solms was opnuut daar om met die volgende fase vir sy tweede tweede drie deur te bars.

Dié keer het Bruwer die telling tot 12-0 laat aanrol. Die heelagter het ook twee strafdoele van die tienmeterlyn af oorgeskop en op 18-0 was Unam se pad terug die ene opdraand.

Unam het eindelik aan die gang gekom met ’n strafdoel deur losskakel Aljarreau Zaahl. Kort ná rustyd moes Wanderers ook hul nuwe binnesenter Kian Fransman (Grey Kollege en Namibië o.20) vir tien minute afstaan nadat skeidsregter Stephan Kellerman hom in ’n doelbewuste aanslaan betrap het.

Die geesdriftige Unam-ondersteuners by Wanderers kon eindelik behoorlik begin raas toe Zaahl ’n skoppie doelgebied toe gestuur het vir vleuel Tonderai Ndudzo om te druk en vir Zaahl om die agterstand tot 18-10 te laat krimp.

Met ’n puik skuins strafdoel van die halflyn af het Bruwer die Wanderers-telling tot 21 aangeskuif. Zaahl het ook ’n strafdoel bygevoeg, voor ’n fout in die Wandererss-agterlyn die bal laat los wip het vir flank Berry Gande om van die halflyn af pale toe te nael.

Skielik was Unam net met 21-20 agter, maar Wanderers het die laaste sê gehad met twee drieë waarin sy heelagter ’n hand gehad het.

Unam het ná 57 minute besit verloor en Bruwer het vir homself ’n lugskoppie gegee en van daar was regtervleuel Nandi Karuuombe oop langs hom en met sy spoed onkeerbaar hoekvlag toe.

Sewe minute later het Bruwer vanuit sy eie kwartgebied ’n oor-en-weer skopstryd met Unam begin en hulle stelselmatig in die hoeke in gejaag, voor hy vir oulaas ’n los skop gevang en die slot Brendan Nortjé weggestuur het, wat op sy beurt die haastige linkervleuel Warren Ludwig pale toe gejaag het. Bruwer het met beide sy laaste doelskoppe geslaag.

Die puntelose uitslag vir Unam, tesame met die ander uitslae van die naweek, plaas Wanderers (11) nou alleen boaan die puntelys, twee voor Trustco United (9), FNB Kudus (7), Unam (6), FNB Western Suburbs (6), FNB Rehoboth (5), FNB Grootfontein (1) en FNB Reho Falcon (0).

Met ’n dubbele rondte wedstryde, tuis en weg, is daar egter nog ’n lang pad vir al die aanspraakmakers.

REHOBOTH STAAN OP

Rehoboth se tuisoorwinning met 32-17 teen Western Suburbs was vir beide ’n ommeswaai teenoor die vorige naweek.

Die Khomasdallers kon niks by die vorige naweek se volle ses punte teen Grootfontein byvoeg nie, terwyl die Rooi Bulle verrys van die vorige naweek se nederlaag teen Wanderers.

Vir Rehoboth het linkervleuel Kee-Shan Beukes en buitesenter Nando Dentlinger elkeen twee drieë gedruk. Miquel Busch (skrumskakel) was in die kol met drie doelskoppe en twee strafdoele.

Aan die kant van Suburbs was flank Richard Mupewa en regtervleuel Jayden Links sy driedrukkers, met twee doelskoppe deur skrumskakel Bronwon Willemse en een deur heelagter Ricardo Swartz.

UNITED WEN IN NOORDE

Afrigter Robbie Dickson se United-span se oorheersende oorwinning met 42-12 teen Grootfontein wys dat die noordespan opdraand kry wat sy spelersdiepte betref, terwyl sy fiksheid en vaardighede ook werk nodig het.

Vir die Filistyne is vyf drieë gedruk – deur regtervleuel JD Nel, flank en kaptein Eloff du Plessis (2) en haker Gerhard Thirion (2). Die heelagter Renier Benade het die oog gevang met 17 skoppunte (vier doelskoppe, drie strafdoele).

Grootfontein kon net antwoord met drieë deur senter Ian Malan en agtsteman Tehan Martinson. Malan het een keer verdoel.

• Ons kuskantoor se wedstrydverslag van Kudus se wegholsege met 71-3 teen Reho Falcon is binne in Sport Wrap.

RESERWELIGA-UITSLAE

By Wanderers: Wanderers II klop Unam II (38-5)

Op Grootfontein: Grootfontein II klop United II (17-14)

Op Walvibaai: Kudus II klop Reho Falcon II (50-17)

Rehoboth: Rehoboth II klop Suburbs II (20-12)

KOMENDE SATERDAG

(Tuisspanne eerste): Wanderers teen Kudus; Uited teen Rehoboth; Reho Falcon teen Grootfontein; Western Suburbs teen Unam.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!