Zimbabwe kry hardnekkige Eagles nie begrawe

Krieket
'n Deurslaggewende uithardloop, twee vangskote en 'n onoorwonne vyftigtal was gister Gerhard Erasmus se invloed op die uitslag.
Andrew Poolman
Ná die vorige dag se onverwagse loesing met agt paaltjies, het die Richelieu Eagles gister weer die koel koppe aangeskroef gehad en opnuut aan Zimbabwe gewys dat Namibië se dae as die minder gerekende kleinboet al hoe korter raak.

Die kans om teen alle verwagtinge in die T20-reeks van vyf wedstryde in Bulawayo teen die hoër gerekende Zimbabwe te wen, is wat môre vanaf 13:00 die Namibiërs in die gesig staar, wanneer die vyfde en beslissende kragmeting gespeel word met die reekstelling nou op 2-2.

Kaptein Gerhard Erasmus is gister as die speler van die vierde wedstryd aangewys, nadat Namibië hul kolfbeurt perfek beoordeel het om met die laaste bal ’n spannende oorwinning met ses paaltjies te beklink.

Erasmus het nie net die kolfaanslag met ’n onoorwonne 59 lopies (43 balle, vier viere, een ses) help bestuur nie, maar het as veldwerker ook twee vangskote benut en ook Zimbabwe se voorste lopiemaker in die laaste twee wedstryde uitgehardloop.

Wessley Madhevere het gister op 50 van 32 balle geëindig, nadat hy die vorige dag met 73* (61 balle) die gasheerspan gehelp het om met agt paaltjies te wen.

Zimbabwe is gister ingestuur om eerste te kolf en het die hoogste totaal sover in die reeks (157/8) opgestel. Bernard Scholtz was die voorste Namibiese bouler met 3/25 in 4 boulbeurte, met Ben Shikongo wat ’n heel ekonomiese drie boulbeurte afgestuur het (0/16).

Die Eagles het Craig Williams vir net 1 verloor, maar sy aanvangsmaat Michael van Lingen het hom ingegrawe vir ’n vyftigtal (51 van 48 balle, 5x4 1x6).

Op nommer drie het Nicol Loftie-Eaton ook die tempo aan die gang gehou (gevang vir 19 van 14 balle, 2x4) en nommer vyf David Wiese kon dié keer nie die doodskoot toedien nie (gevang vir 6), maar Erasmus was die waardevolle paaltjie wat Zimbabwe nie kon kry nie.

Tendai Chatara het ’n puik 18de boulbeurt afgestuur wat net vier lopies gekos het en die Namibië se taak was 18 om te wen van 12 balle.

Erasmus het egter twee grenshoue in die 19de beurt deur Luke Jongwe geslaan om die spanning te verlig en Namibië het vyf van die laaste ses balle kortgekom.

Nogtans was Chatara weer akkuraat in die laaste boulbeurt en het ’n 0, 1, 1, 1 bylopie en 1 afgestaan wat die spanne se totale gelykop gemaak het met een bal oor, voordat Zane Green (9* van 9 balle) vir oulaas ’n vier geslaan het.

Erasmus se kommentaar voor die aanvang van die toer was dat die geskiedkundige besoek aan Zimbabwe niks anders as positiewe gevolgtrekkings vir die Eagles kan oplewer nie.

In die opbou na die volgende T20 Wêreldbeker komende Oktober in Australië het die Eagles reeds die Zimbabwiërs gevoeg by hul lys vorige internasionale slagoffers wat ook Ierland, Nederland en Skotland by verlede jaar se WB-toernooi insluit.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!