Minister Ipumbu Shiimi sê die regering het nog groot planne vir TransNamib.
Foto argief
Minister Ipumbu Shiimi sê die regering het nog groot planne vir TransNamib. Foto argief

TransNamib gaan nêrens

Spoorverbinding met buurlande beoog
Shiimi sê die regering is verbind tot die toekoms van die spoorwegoperateur
Augetto Graig
Die regering het steeds gróót planne met die nasionale spoorvervoeroperateur, het die minister van finansies, mnr. Ipumbu Shiimi, laas week in sy hoedanigheid as die waarnemende minister van openbare ondernemings die parlement verseker.

“Ek wil benadruk dat geen waarheid steek in die beweringe in die media dat TransNamib gelikwideer sal word nie,” het hy verklaar.

Inteendeel, die regering beoog ’n toekoms vir TransNamib as die sentrale werktuig om Namibië as logistieke middelpunt vir die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) te vestig, sê hy.

“Namibië het spoorinfrastruktuur met ’n totale lengte van 2 687 km oraloor die land. Die staat is die eienaar van hierdie spoorinfrastruktuur en TransNamib is die enigste operateur.

“Namibië se spoorweginfrastruktuur is verbind aan Suid-Afrika, met geleenthede om die spoorlyn verder uit te brei en ook met ander lande in die SADC-streek te verbind. Die regering sien TransNamib as die gepaste voertuig om Namibië as logistieke middelpunt koppelend met die groter SADC-streek te bedien,” het hy Donderdag in ’n ministeriëlee aankondiging gesê.

Sedert die goedkeuring van TransNamib se eerste geïntegreerde strategiese sakeplan, wat tot 2024 strek, het die regering oor die laaste twee jaar N$90 miljoen vrygestel om operasionele doeltreffendheid te verbeter; N$150 miljoen om die Swakopmund Hotel uit te koop; N$410 miljoen skuld afgeskryf en as alleen-aandeelhouer ondersteuning gegee sodat TransNamib onlangs ’n N$2,5 miljard lening by die ontwikkelingsbanke van Suid-Afrika en Namibië kon kry, sê hy.

Sprake van likwidasie van TransNamib het opnuut opgevlam toe likwidateurs uit België deur hul plaaslike prokureur mnr. Sisa Namandje ’n aanmaningsbrief vir N$161 miljoen op TransNamib aanhangend gemaak het, namens Challenge Air wat ook die nasionale lugredery Air Namibia se ondergang verseker het.

Dié eis het betrekking op dieselfde skuld wat Air Namibia nie heeltemal kon terugbetaal voordat hy gelikwideer is nie en word nou teen TransNamib as sustermaatskappy ingestel.

Volgens betrokke mediaberigte is TransNamib se regsverteenwoorders besig met stappe om die eis teen te staan.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!