Alle sportgebeure onbepaald opgeskort
Die onbepaalde opskorting van sportgeleenthede soos deur die ministerie van sport, jeug en nasionale diens beveel is, het skokgolwe deur die sportgemeenskap gestuur en steun en kritiek ontlok.
Die ministerie het in ’n verklaring opdrag gegee dat alle sportgeleenthede en -byeenkomste tydens die routydperk vir die ontslape stigterspresident Sam Nujoma wat Saterdag in Windhoek gesterf het, opgeskort word. Dit het Sondag reeds in werking getree.
“Verdere riglyne vir die hervatting van sportaktiwiteite sal met verloop van tyd gekommunikeer word,” aldus die verklaring.
Die routydperk, wat na verwagting sowat drie weke sal duur, sal groot kompetisies beïnvloed wat in die komende weke sou plaasvind.
Dit sluit in die MTC Maris Cup, Seawork Cares Beach Series, asook die bekendstelling van die FNB Insurance DTS Volleyball For All wat vir die naweek geskeduleer is. Ook onder die valbyl is die MTC Regional 15’s-kompetisie en die vriendskaplike wedstryd tussen die Welwitchias en die Boland Kavaliers wat volgende naweek sou plaasvind.
‘ABSURD’
Die atletiekafrigter Henk Botha wat internasionale bekendheid verwerf het met sy afrigting en mentorskap van die 200-meter-naellopers Christine Mboma en Beatrice Masilingi tot die 2021 Olimpiese finaal in Tokio, was openlik krities oor die besluit en het dit “as 'n ongewilde inperking van sport” beskryf.
“Ek dink nie hierdie besluit is wat die stigtersvader sou wou gehad het nie,” het Botha in 'n onderhoud met Network Media Hub (NMH) gesê.
“Natuurlik sal Namibiërs hom eer en respek betoon op ander maniere soos die dra van swart armbande en ’n gedeelde oomblik van stilte.
“Maar om alle geleenthede te staak as ’n manier om respek te betoon, is absurd. Dit ontwrig ons oefenskedule wanneer stadions skielik toegemaak word. Dit plaas ons op die agtervoet in alle voorbereidings vir die internasionale kompetisieseisoen.
“Dieselfde geld vir ander sportkodes. Ek waardeer die voorneme om respek te betoon, maar ek glo nie dit sou die wens van die stigtersvader wees nie. Ek het hom goed genoeg geken om te weet hoe trots hy op Namibiese sportsuksesse was. Hy sou nooit wou gehad het dat ons ’n tree terug moes gee nie,” het Botha gesê.
POSITIEWE HERINNERINGE
Die nasionale afrigter vir fiets- en bergfietsry, Hans du Toit, het ’n meer diplomatiese benadering gehad.
“Die besluit kom nie as ’n verrassing nie omdat ons ’n soortgelyke situasie verlede jaar met die dood van president Hage Geingob gehad het.
“Ek het baie respek vir ons nasionale leiers en ek glo die naweek van die staatsbegrafnis moet gerespekteer word. Ek glo ook sportgeleenthede kan inderdaad doeltreffend gebruik word om individue te eer en te respekteer.
“Sportbyeenkomste kan selfs sterker herinneringe vir almal betrokke skep en ’n breër gehoor bereik,” het Du Toit gesê.
SPORTGEMEENSKAP NIE VERHEWE BO WET
’n Sportorganiseerder wat verkies het om anoniem te bly, het ’n beroep op die sportgemeenskap gedoen om die opdrag van die ministgerie uit te voer.
"Ons is nie verhewe bo die wet nie. Dit is 'n opdrag van die hoër kantoor. Dit sou baie oneerbiedig van enigiemand wees om voort te gaan en enige geleentheid ná so ’n opdrag aan te bied.
“Ek dink om kompetisies en die ondersteuners nou in die prentjie te bring, sal die erns van die situasie in die land ondermyn en waar ons oor die ontslape stigterspresident treur.
“Hoe die ondersteuners in hierdie stadium voel, is sekondêr, nie primêr nie. Nou moet hulle die routydperk van die ontslape stigterspresident respekteer en waarneem,” het hy gemaan.
‘ONS SAL OPDRAG UITVOER’
Die Namibiese Sokkervereniging (NFA) se verteenwoordiger, Isak Hamata, het op sy beurt gesê: “Dr. Nujoma het die stryd gelei vir die bevryding van ons land – dieselfde vryhede wat ons geniet en wat sport en ander aktiwiteite insluit. Ons sal die opdrag as sokkergemeenskap uitvoer,” het hy gesê.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie