Armas, Rainhold teen sneltreine opgeweeg

Atletiek
Tielman Van Lill
Alina Armas en Tomas Rainhold sal die naweek in Boedapest, Hongarye, aan die marathon by die 19de Wêreldatletiekkampioenskap deelneem.

Die vroue en mans se wedlope word onderskeidelik môre vanaf 07:00 en Sondag vanaf 07:00 gehardloop. Met voorspelde maksimum dagtemperature van 37 grade op beide dae gaan dit vir niemand ’n gemaklike dag wees nie.

Dié twee Namibiese langasems, vanjaar se kampioene in die nasionale Rössing-marathon in onderskeidelik 2:44:33 en 2:14:08, gaan bitter strawwe teenstand kry.

Die Algeriese, Burundiese, Ethiopiese, Keniaanse, Marokkaanse, Suid-Afrikaanse, Ugandese en Zimbabwiese padvrate is gedug, om net ’n paar van die kontinent op te noem.

Tydens die 2022 Wêreldkampioenskap in Eugene, Oregon, het Gotytom Gebreslase van Ethiopië die vrouemarathon in ’n haastige 2 uur 18 minute 11 sekondes gewen. Judith Korir van Kenia was tweede in 2:18:20 met Lonah Salpeter (Israel) derde met 2:20:18. Salpeter is in Kenia gebore.

Rosemary Wanjiru (Kenia, 2:16:28) is sover die vinnigste vrou ter wêreld vanjaar, gevolg deur Tsehay Gemechu (Ethiopië, 2:16:56) en Yalemzerf Yehualaw (Ethiopië, 2:18:53). Selly Kaptich (Kenia, 2:20:03) en Workenesh Edesa (Ethiopië, 2:20:13) volg op hul hakke. Al vyf dié vroue sal môreoggend in aksie wees.

By die mans het Tamirat Tola (Ethiopië, 2:05:36) die wêreldtitel gewen met sy landgenoot Mosinet Geremew tweede (2:06:44) en Bashir Abdi (België, 2:06:48) derde. Abdi is in Somalië gebore.

Abdi (2:03:47) kook opnuut vanjaar en Timothy Kiplagat (Kenia, 2:03:50) is ewe haastig. Joshua Belet (Kenia, 2:04:33), Tamirat Tola (Ethiopië, 2:04:59) en Victor Kiplangat (Uganda, 2:06:03) is ook goed geplaas om Sondag onder die topdrie te eindig.

OPGEWEEG

Dis kommerwekkend dat Atletiek Namibië se marathonatlete nie naby die toppadatlete in die wêreld is nie. Die kanse dat hulle enigsins in die medaljewedloop gaan bly, is maar min.

Armas se 2:33:30, die tyd waarmee sy die sewende plek by die 2022 Statebondspele ingeneem het, steek af by die ander vroue. Dit plaas haar vir 2022 in die 374ste posisie.

Rainhold het vanjaar in een enkele marathon in Botswana 2:17:15 aangeteken; dit plaas hom in die 665ste posisie op Wêreldatletiek se ranglys. Met die 2022 Statebondspele was hy met 2:24:30 dertiende in Birmingham.

Rainhold het by die 2021 Tokio Olimpiese Spele 42ste geëindig, terwyl Helalia Johannes (tans aan die herstel van ’n kuitspierbesering) met 2:31:22 elfde was.

Hoop beskaam nie en dis moontlik dat die duo Namibië met trots kan verteenwoordig.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!