Citi Dash wys wat gedoen kan word

Padwedlope
Daar is vele redes om mense te motiveer om deel te neem.
Tielman Van Lill
Die Nedbank Citi Dash vind op 10 September in die hoofstad plaas, met doelgerigte planne om veral die 5 en 10 kilometer vir drawwers en stappers aan te wend as ’n katalisator om gelykertyd ’n aktiewer en gesonder leefstyl én kompeterende padwedlope grootliks te bevorder.

Frank Bombosch, een van die hooforganiseerder sedert die ontstaan van die Citi Dash, sê die ingesteldheid dat méér Namibiërs in staat is om belangrike sake te verander as om bloot toeskouers of onaktiewe klaers te wees, lê aan die hart van die slagspreuk “We Run This City”.

Hy het aan Republikein gesê: “Ek het in 2018 op die idee gekom om ’n jaarlikse sportbyeenkoms in die hart van Windhoek se sentrale sakegebied op die been te bring.

“Ons wou mense meer gesondheid- en fiksheidsbewus maak.

“Daar is vele stede wêreldwyd wat dit doen en dit het in internasionale kompetisies ontwikkel. Die idee is ook om die stad te laat herleef. Ons het die perfekte venue met Onafhanklikheidsrylaan wat bykans plat en 100 persent geskik vir die wedloop is.

“Die eerste kompetisie was op 23 Junie 2018 ’n reusesukses wat by die Zoo Park weggespring het. In 2019 het 2 500 atlete deelgeneem, maar in 2020 kon ons nie die Citi Dash aanbied nie en dis tot 2021 uitgestel. Ongelukkig het dit ook nie 2021 en 2022 plaasgevind nie.

“Maar nou is die Citi Dash terug en dié keer gaan dit net groter en beter as die eerste twee byeenkomste wees. Met die hulp van Cycletec, OTB Sport, Checkers, Ineos International, iStore, Namibia Health Plan and Paratus gaan ons die mense ’n ondervinding soos min bied.

“Vir die 10 kilometer is daar elite-klasse vir senior en onder 18-atlete. Die doel is om meer kompeterende middelafstandatlete te kweek. Namibië het heelwat marathonhardlopers wat goed vaar, maar ons het tans te min atlete wat ’n pas van drie minute of minder per km oor 10 km kan handhaaf.

“Om internasionaal kompeterend te kan wees, moet ’n atleet 10 km binne 30 minute kan aflê, en dis die mikpunt vir elke elite deelnemer. Daar is lekker prysgeld (topvyf) om die o.18- sowel as senior vroue- en mansatlete aan te spoor. Kom wys ons jou spoed en talent.

“Die Citi Dash oor 10 km is die perfekte geleentheid vir hokkie-, rugby- en sokkerspelers om hul fiksheid te toets. Onthou, in dié sporte hardloop spelers eniiets van 8 km of meer tydens ’n wedstryd. Kom kyk hoe vinnig julle die 10 km kan hardloop,” het Bombosch entoesiasties genooi.

Individuele tydhouding en geldpryse is van kardinale belang.

“Elke sportgroep sal hul tyd kan ontvang en dit gebruik om vergelykings te tref. Hierdie data kan jaarliks aangewend word om te sien hoe fiks elkeen is.

“Die doelwit is om mense te ontwikkel. Vanjaar stap hulle dalk net die 5 km, maar volgende jaar is hulle gereed om die 5 km te draf en die jaar daarna pak hulle die 10 km.

“Ons sal ter voorbereiding vir die Citi Dash einde Augustus ’n seminaar aanbied om beginners of onervare deelnemers meer touwys te maak.

“Die senior elite mans se spertyd is net 55 minute en vir die vroue een uur om die 10 km af te lê.

“In totaal sal N$101 000 in prysgeld in die onderskeie afdelings uitbetaal word, asook pryse in gelukstrekkings. Skole en klubs kan pryse vir die meeste deelnemers in die topdrie posisies opraap. Die elite siggestremde en rolstoelatlete is nie agterweë gelaat nie en daar is kontantpryse vir die eerste drie plekke.

“Daar sal ’n feestelike atmosfeer met stalletjies wees. Nedbank sal ’n Kapana-stalletjie voorsien, asook Roberto’s Pizza, terwyl Checkers hul kampioenboerewors gaan voorsit. Ons gaan ’n heerlike feestelike atmosfeer skep; om dit te ervaar, moet die mense daar wees. Almal is welkom,” sê die gewese Namibiese kampioenfietsryer en driekampatleet.

PRYSGELD (10 km)

Elite senior vroue en mans asook elite o.18-atlete: 1 N$7 000, 2 N$5 000, 3 N$4 000, 4 N$2 500, 5 N$1 500.

Elite siggestremde en rolstoelatlete: 1 N$2 000, 2 N$1 500, 3 N$1 000.

Skole met die meeste deelnemers: 1 N$5 000, 2 N$3 000, 3 N$1 500.

Klubs met die meeste deelnemers: 1 N$3 000, 2 N$2 000, 3 N$1 000.

INSKRYWINGSGELD

Elite 10 km: N$300 (sluit ’n T-hemp en medalje in).

5 km en 10 km-pretdraf/stap: N$100 (medalje).

5 km en 10 km-pretdraf/stap vir skole: N$50 (medlaje).

Inskrywings sluit op 27 Augustus.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!