‘Die wêreld is emosioneel op ’n beter plek’

Afghanistan en Guinee toon kommerwekende tellings
'n Opname deur Gallup van 2023 toon dat Namibiërs wêreldwyd bogemiddeld uitgerus is en meer gereeld glimlag.
Kristien Kruger
Hoewel die wêreld in die afgelope jare gebombardeer is met geweld en verwoesting wat veroorsaak is deur oorloë soos dié tussen Oekraïne en Rusland en die daaropvolgende oorlog tussen Israel en Hamas, het ’n onlangse opname getoon dat mense tans emosioneel op 'n beter plek is as tydens die pandemie.

Die jaarlikse wêreldwye opname deur Gallup poog om lande se emosionele toestande vas te stel en tendense oor die jare te identifiseer. Gallup doen die opnames al reeds vir 18 jaar.

Vanjaar se verslag, wat fokus op die opnames wat in 2023 geneem is, het ook bevind dat jongmense meer positief is as ander ouderdomsgroepe en dat Senegal die land met die hoogste positiewe emosies in Afrika is.

Sekere bevindings is ook gemaak oor die emosies wat mense in Namibië ervaar en sluit onder meer in woede, stres, pyn en respek.

OPNAME

Gallup se positiewe en negatiewe ervaringsindekse meet gevoelens en emosies.

“Elke indeks bied 'n insig van mense se daaglikse ervarings, wat aan leiers insigte bied rakende die gesondheid van hul samelewings wat hulle nie uit ekonomiese maatreëls alleen kan haal nie.”

Die bevindinge is gebaseer op byna 146 000 onderhoude met mense van 15 jaar en ouer vanuit 142 lande en gebiede.

Deelnemers word ’n stel vrae gevra soos onder andere of jy gister goed uitgerus gevoel het en of jy gister heeldag gevoel het dat jy met respek hanteer is.

Daar is vyf vrae vir die postiewe ervaringsindeks en vyf vir die negatiewe ervaringsindeks. Die gemiddeld van al die antwoorde word dan vermenigvuldig met 100 en lande se indekstellings wissel van nul tot 100.

“Hierdie tellings hou sterk verband met mense se persepsies van hul lewensstandaarde, persoonlike vryhede en die teenwoordigheid van sosiale netwerke,” verduidelik die verslag oor die positiewe ervaringsindeks en voeg by dat die negatiewe ervaringsindeks mense se ervarings met gesondheidsprobleme en hul vermoë om kos te bekostig, insluit.

JONGMENSE HET VINNIGER HERSTEL

Die verslag het verder bevind dat 2023 ’n beter jaar vir die wêreld se emosionele gesondheid was met negatiewe emosies wat vir die eerste keer sedert 2014 afgeneem het.

“In 2023 het alle negatiewe emosies 'n daling ervaar - wat goeie nuus is. Die slegte nuus is dat hulle almal hoër bly as 'n dekade gelede.”

Stres het aansienlik gedaal tot vlakke wat meer tipies voor die pandemie waargeneem is en gevoelens van kommer, hartseer, pyn en woede het wêreldwyd afgeneem.

Hoewel die verslag bevind dat positiewe emosionele ervarings reeds in 2023 teruggekeer het na die vlakke wat dit voor die pandemie was, was dit egter jongmense wat die vinnigste herstel het.

Volgens Gallup se verslag, het mense jonger as 30 se positiwiteit vinniger teruggekeer na pre-pandemievlakke – ’n jaar vroeër as ouer groepe.

“Die meeste verbetering in positiewe emosies het eers in 2023 plaasgevind met betrekking tot diegene van 30 jaar en ouer,” lui die verslag.

Die opname het verder ook bevind dat jongmense oor die algemeen meer positiewe evarings geniet in vergelyking met ander ouderdomsgroepe.

Gallup het in 2023 ’n rekordtelling aangeteken in een spesifieke kategorie wat in die afgelope 18 jaar selde bo 50% gestyg het. Dit het betrekking tot die vraag of mense die afgelope dag (voor die opname) iets geleer of interessant gedoen het. Dié telling het in 2023 gestyg tot 54% wêreldwyd. Die telling het in alle ouderdomsgroepe in dié verband toegeneem, met die meeste steeds in mense jonger as 30.

“ Die persentasies onder ouer ouderdomsgroepe het wel ’n nuwe hoogtepunte bereik met 54% wat ‘ja’ geantwoord het tussen diegene 30 tot 49 jaar oud en 50% vir diegene van 50 jaar en ouer,” het die verslag bevind.

Senegalese was nommer 1 op hierdie gebied met 79% in 2023 wat gesê het dat hulle iets nuuts geleer of interessants gedoen het.

NAMIBIËRS OOR DIE ALGEMEEN POSITIEF

Volgens Gallup se opnames het ’n groot meerderheid (82%) van Namibiërs gevoel dat hulle onlangs, voor die opname, met respek hanteer is en 83% het gesê dat hulle onlangs geglimlag het.

Bogemiddeld het mense aangeteken dat hulle goed uitgerus is, maar onder-gemiddeld het gesê hulle het onlangs genot ervaar.

Met betrekking tot die gevoel van kommer, lê Namibië onder die wêreldwye gemiddeld met slegs 27% wat dit ervaar. Volgens die verslag ervaar 28% pyn, 26% stres, 18% hartseer en 18% woede.

WÊRELDRANGLYSTE

In afgelope jare was Latyns-Amerikaanse lande bo-aan die lys van lande wat positiewe emosies en ervarings ervaar en dit is weer eens die geval in die nuutste indeks. Suidoos-Asië het ook hoë tellings aangedui.

Wanneer dit kom by Afrikalande, is daar net een land wat voordurend die lys van toplande haal – Senegal.

Volgens die verslag is Senegal die enigste Afrikaland op die lys en is dit nie die eerste keer wat dié land die lys van toplande haal nie. Dit was ook in 2021 boaan die lys van Afrikalande.

Die lande op die lys (in volgorde) is Paraguay, Panama, Guatemala, Mexiko, Indonesië, El Salvador, Costa Rica, Maleisië, Senegal, Filippyne en Thailand.

Die land met die laagste positiewe ervarings, is volgens die verslag, weer eens Afghanistan.

“Afghanistan se telling op die positiewe ervaringsindeks was in 2023 effens hoër as in 2021 en 2022 ná die Taliban se oorname. Die land se telling van 38 bly egter die laagste ter wêreld, en die meeste Afghane leef steeds in ellende,” lui die verslag wat ook daarop wys dat Gallup se opnames in Julie gedoen is, twee jaar nadat die Taliban weer aan bewind gekom het.

Volgens die verslag is die tellings so swak dat die Afghane beskou kan word as ’n nasie wat ly.

“Afghanistan is sedert 2017 elke jaar as die mins positiewe land ter wêreld bestempel, afgesien van 2020 toe Gallup weens die pandemie nie die land kon ondersoek nie.

“Dit is nadat die land tot 'n rekordtelling gedaal het en ’n wêreldwye laagtepunt van 32 in 2021 aageteken het. Die tellings het sedertdien elke jaar opwaarts gekruip en 38 in 2023 bereik.”

Twee Afrikalande - naamlik Egipte en Ethiopië – bevind hulle ook aan die onderkant van dié lys.

Die onderpunt van die lys op postiewe ervarings lyk soos volg: Bangladesj, Sierra Leone, Oekraïne, Egipte, Ethiopië, Nepal, Litaue, Jemen, Libanon, Turkye, Noord-Ciprus en Afghanistan.

Alhoewel Afghanistan steeds die swakste in die wêreld op die positiewe ervaringsindeks gevaar het, is dit nie meer die swakste op die negatiewe ervaringsindeks nie.

“Guinee, wat aanhou worstel met onsekerheid ná 'n militêre staatsgreep in 2021 en noodlottige betogings verlede jaar ervaar het, het in 2023 die hoogste telling op dié indeks in die wêreld behaal,” lui die verslag.

Die tellings vir stres in die land het die hoogte ingeskiet tot rekordvlakke in Guinee. Die meerderheid Guineërs (52%) het gesê dat hulle baie stres ervaar het en het die hoogste koerse wêreldwyd vir kommer (65%), fisieke pyn (59%) en hartseer (52%). Hul ervarings van woede (36%) was ook hoër as die internasionale gemiddelde (22%).

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!