‘Dis tyd vir Afrika om beheer te neem’

Bespreek gemeenskaplike grensposte en visums
Sedert die ontstaan ​​van die Kaza-oorgrenspark het die staatshoofde van lidlande Angola, Botswana, Namibië, Zambië en Zimbabwe vir die eerste keer byeengekom om die pad vorentoe vir die park te beplan.
Frank Steffen
Staatshoofde stem saam dat dit tyd is vir Afrika om beheer te neem en te besluit oor hoe om sy natuurlike hulpbronne volhoubaar te benut, sonder inmenging van buite.

Die president van Zimbabwe, Emmerson Mnangagwa, meen dit is ontstellend dat “die mense wat nie na hul eie wild in die weste kon omsien nie, ons nou vertel hoe om bewaringspogings in Suider-Afrika uit te voer”.

Dit is tydens die beraad vir die Kavango-Zambezi-oorgrensbewaringsgebied (Kaza-TFCA) bespreek en die teenwoordige staatshoofde was dit eens dat dit noodsaaklik is dat aanbevelings by die beraad in werklikheid omskep word.

Hierdie multilaterale samewerking kan lei tot ’n wyer konsensus wat dit moontlik kan maak vir lande in Suider-Afrika om as ’n eenheid bestuur te word in terme van die belyning van gemeenskaplike omgewings- en toerismeverwante belange.

KAZA-VISUM

Een van die inisiatiewe wat tydens die beraad bespreek is, is ’n Kaza-visum (Univisa).

Die staatshoofde of hul verteenwoordigers het daarop aangedring dat hierdie inisiatief so gou moontlik geïmplementeer word.

Die gasheer, Hakainde Hichilema, die president van Zambië, het die aanvanklike bekendstelling van dié visum op ’n proefbasis tussen Zambië en Zimbabwe geloof.

Dié konsep is al meer as twee jaar op die tafel en sal besoekers aan Zambië toelaat om Zimbabwe binne te gaan sonder ’n bykomende visumaansoek.

Na aanleiding van die toetse was die idee altyd om die visum na alle Kaza-lidlande, naamlik Angola, Botswana, Namibië, Zambië en Zimbabwe, uit te brei.

Die konsep is egter nog nie ten volle geïmplementeer nie en dit blyk op grond van navrae by die Ngoma- en Kazungula-grensposte – op die pad van Namibië na Zambië – dat immigrasiebeamptes nie bewus is van so ’n visum nie.

‘HARMONISERING’

Hichilema en Mnangagwa het egter beide die visum-inisiatief geloof en die moontlike uitkoms daarvan vergelyk met die situasie tussen Namibië en Botswana wat mense al ’n geruime tyd toelaat om hul gesamentlike grens oor te steek deur bloot hul identifikasiedokument of paspoort aan te bied.

Hichilema het ook verwys na “gesamentlike grensposte” soos die een by Kazungula, waar Botswana en Zambië dieselfde geriewe deel.

Hy beweer hierdie eenstop-geriewe werk uitstekend, maar erken die risiko’s in terme van ’n toename in smokkelary. Hy meen egter die gebruik van tegnologie kan ’n oplossing bied om “steeds beheermaatreëls in plek te hou”.

Die uitvoerende direkteur van die Kaza-TFCA, dr. Nyambe Nyambe, het na die Kaza-verdrag verwys wat as ’n kompas vir die toekoms dien.

“Hierdie verdrag van 2011 (vyf jaar nadat die park in 2006 gestig is) het alles verander en dit spesifiseer wat moet gebeur.”

Hy het benadruk dat die verdrag bindend is en duidelike aanwysings in terme van omgewings-, finansiële en bemarkingstrategieë insluit – “selfs ’n harmoniseringstrategie”.

NAMIBIESE STAATSHOOF

Namibië se president, Nangolo Mbumba, het ook die beraad bygewoon, terwyl Botswana se visepresident, Slumber Tsogwane, sy staatshoof verteenwoordig het en Angola se president deur dié land se minister van omgewingsake verteenwoordig is.

Dit moes vir die Namibiese afvaardiging, spesifiek vir Mbumba, bemoedigend gewees het om te hoor hoe gereeld na Namibië se omgewingsbeleide en -programme, veral die bewaringsbeleid bekend as CBNRM, verwys is as mylpale en maatstawwe wat deur ander lande gevolg behoort te word.

Wat Mbumba betref, was alle voorstelle wat amptelik tydens hierdie aanbiedings gemaak is, bloot ’n formaliteit.

“Ons het in wese reeds daartoe ingestem.”

UITDUNNING VAN DIERE

Die kwessie van die volle benutting van natuurlike hulpbronne, insluitend neweprodukte (d.w.s. trofeë en ivoor), is ook deur elk van die state se leiers, spesifiek die drie teenwoordige presidente, uitgelig.

Daar is ooreengekom dat wild, wat ’n kritieke komponent van Kaza se biodiversiteit uitmaak, bestuur moet word om die bedreiging daarvan vir die natuurlike habitat te verminder.

Hichilema het versoek dat ’n verantwoordelike en wetenskaplik geleide proses vir die uitdunning van diere bedink word, “iets wat ons as veewagters beslis doen wanneer ons ons vee bestuur”.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!