Jemima Beukes
Jemima Beukes

Ek sê maar net

Mandy Rittmann
Die reuk van lemoenbloeisels, die borrellende melk met vet as ons op ’n nabygeleë plot gaan kuier het. My pa se kollega het ’n rondawelhuis gehad en orals het groente gegroei. Die ander oom, laat ek maarie sy naam nou sê nie, het soms onwettig gaan jag en het baie kere skrikkerig by die huis aangekom en moes selfs een aand gebêre word. Die koedoes en elande het soos plaasdiere naby die dorp gewei en die sampioene was sommer gou-gou teen miershoop net naby die huis geoes.



Die mense het nog deur die skakelbord gebel en almal was bang vir die Koerts tweeling anties wat doer aan die ‘boere deel’ van die dorp gebly het. Ek wou hulle nog altyd gaan ontmoet, want hulle het my aan die boeke se mense laat dink, maar Kalkveld se mense was skrikkerig vir hulle en so het ek toe nooit by hulle uitgekom nie.



Ek kon vir ure die banke, toonbanke, tralievensters, en vertrekke en ou ornament in die vervalle treinstasie bekyk as ek so deur die koel gange gestap het en ingedink hoe die mense in vervloeë dae geleef het.



Naby die treinstasie was ’n spruit of rivier waar my pa waterblommetjies geoes het en die lekkerste vleis stew gemaak het. My pa het vreeslik van kosmaak gehou so dit het net sin gemaak dat hy elke ding wat kos kon maak sou opspoor.



Ek het op ’n stadium geelsug gekry en toe ek terugkom skool toe, toe wag my klasmaats my in met die Gesondheidsleer- handboek in die hand want watse siekte is die wat nie in die boek opgeskryf is nie?



Ons het in die bodorp skoolgegaan en dit het my aan die dik boeke laat dink. My pa het in die onderdorp skool gehou waar daar meer gees was, die sportsdae was vol pret. Ek kon vir die dood nie naaldwerk doen nie en het eendag ’n mussie gebrei wat skaars so groot soos ’n vingerhoed was. Toe ek my besware uitspreek, is ek uit die klas geskors en moes gras op die sportveld uittrek. Ek was toe daar met Julien Fish, ek kan nie onthou wat haar sonde was nie. Maar toe ek gehurk sit en swetsend die gras uittrek toe sien ek die rooikol op my pentie. Ek is toe nou ’n jongmeisie.



O! wat ’n dag was dit nie. Ons gaan toe terug vir die volgende klas, maar voor dit was ek eers toilet toe. Daar het ons meisies toe nou my penarie bedink. Terug in die klas, kry een van hulle toe gedagte en skryf vir my ’n brief, “Nee, ek dink nie jy moet toiletpapier gebruik nie, want dit sal by jou ingaan en jou siek maak”. Die brief loop toe die hele klas vol totdat een van die Tjihura seuns dit onder-skep, hardop in die klas lees en toe wou almal insluitend die meneer “van OTT” met vreeslik baie hare wat by sy neusgaaie uitgesteek het, weet waar die toiletpaper nie gebruik moes word nie. Ek is toe rooi soos ’n tamatie en uiteindelik is die klas uit. By die huis gekom sien ek my ma staan by die draad by ons buurvrou en gesels. Ek het haar seker ses keer geroep, maar het nie die moed gehad om haar te sê van die lewenslange ongerief wat my daarie agtermiddag beval het nie. Ek gaan sit toe onder die kombuistafel en huil. Die oomblik toe my pa inkom toe bekla ek my lot met my dierbare pappie. Ek volg hom toe in die kamer in, heelwat afgekoel as gevolg van sy teenwoordigheid. Terwyl hy sy das afhaal en die baadjie uittrek vertel hy my ek moet nou na die winkel toe loop en by die kassier sê ek soek mini doekies. Kan jy nou meer, mini doekies. Ek is toe vort na die dorswinkel, hang vir ’n wyle agter die rak met die ronde pan brode vir die Duitsers van omliggende plase. Later loop ek deur die winkel gaan wag heel agter waar die tydskrifte insluitende die Loslyf was en vra toe ’n boks waarin ek my mini doekies kan plaas. By die till, toe my mini doekies uitgepak kom stap my onderwyser verby op wie ek ’n kindercrush gehad het. Ek laat val toe my minidoekies terug in die boks en skuif dit sodat die kassier maar daarbinne kyk en haar vergewis van my negosies en betaal toe. Ek stap uit met twee brandende wange, oortuig dat my lewe vandag tot ’n einde gaan kom. Ek sal vir altyd die knoffelreuk en die vreemde parfuumreuk van die minidoekies onthou. My pa het ook lank met my die pad met minidoekies gestap. Mag sy siel in ewige vrede rus.



Rooi soos ’n tamatie



Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!