CILTSA se president, Elvin Harris. Foto verskaf
CILTSA se president, Elvin Harris. Foto verskaf

Ekspo mik om vervoer, logistiek te verbeter

Fokus val op Afrika suid van die Sahara
Die Futuroad Expo sal vanaf 19 tot 21 November by die Nasrec Expo Centre in Johannesburg plaasvind en sluit 'n drie dag lange konferensie in.
Kristien Kruger
Kenners in die logistieke en vervoerbedryf meen dat vanjaar se Futuroad Expo groot vooruitgang sal bring met talle kwessies, moontlikhede en geleenthede wat bespreek sal word.

Die Chartered Institute of Logistics and Transport (CILT) se takke in Suid-Afrika en Zimbabwe sal kragte saamspan vir die Futuroad Expo wat vanaf 19 tot 21 November by die Nasrec Expo Centre in Johannesburg sal plaasvind.

Die ekspo sluit ’n drie dag lange konferensie in met die tema “Unlocking Sub-Saharan Africa's Potential: Transforming Transport and Logistics for a Sustainable Future”.

“Die doel van die geleentheid is om nuwe dryfkrag onder rolspelers in die streke en belanghebbendes te genereer om Afrika suid van die Sahara se vervoer- en logistieke infrastruktuur deur samewerking, innovasie en volhoubaarheid te verbeter om ekonomiese ontwikkeling, veiligheid en streekintegrasie te bevorder,” verduidelik CILT Suid-Afrika (CILTSA) se president, Elvin Harris.

Die instituut verwag sterk ondersteuning en bywoning van Afrikalande suid van die Sahara.

“As die eerste en enigste werklike internasionale ekspo van sy soort op die Afrika-vasteland, lok Futuroad besoekers van oraloor dié streek.”

UITDAGINGS

Volgens ’n verklaring van die CILT is doeltreffende logistiek noodsaaklik om handel te dryf, vir ontwikkeling en ekonomiese groei.

“Vergeleke met ander streke is intra-Afrika-handel net sowat 13%, terwyl vastelande soos Europa spog met ’n intra-streekhandelsvolume van 60%.

“Dié ongelykheid word grootliks aan swak infrastruktuur en beperkte vervoer- en logistieke vermoëns toegeskryf.”

Volgens CILT se direkteur van onderwys in Zimbabwe, dr. Tapiwa Mujakachi, is Afrika suid van die Sahara se vervoer- en logistieke uitdagings goed gedokumenteer.

“Die hoë koste van logistiek is ’n groot uitdaging. Weens ondoeltreffendheid en infrastruktuurbeperkings kan die vervoer van goedere binne Afrika 30% tot 40% duurder wees in vergelyking met ander streke.

“Dit beïnvloed sakebedrywighede aansienlik en belemmer ekonomiese groei,” meen hy.

In sy verklaring meen die CILT dat onvoldoende vervoerinfrastruktuur oor talle streke – met paaie, spoorweë en hawens wat nie aan internasionale standaarde voldoen nie – belemmer doeltreffende logistieke bedrywighede.

“Verder skep die komplekse regulatoriese landskap oor Afrikalande steeds struikelblokke vir doeltreffende oorgrenshandel.

“Inkonsekwente tariewe, doeaneprosedures en voldoeningsvereistes maak die bedrywigheide van die verskaffingsketting meer ingewikkeld,” lui die verklaring.

KONFERENSIE

Die konferensie sal op vyf sleutelpunte, naamlik infrastruktuur, harmonisering, veiligheid en sekuriteit, vaardigheidsontwikkeling en tegnologie, digitalisering en kunsmatige intelligensie, fokus.

Tydens die sessie met betrekking tot infrastruktuur, sal ontwikkeling en -uitdagings, vervoerkorridors, beleggings in infrastruktuur, oorgrensuitdagings, sowel as handelsintegrasie bespreek word.

Harmonisering (insluitend wetlike en regulatoriese raamwerke) se sessie sal handel oor die uitdagings van verskillende regulasies en standaarde oor grense heen en binne korridors. Strategieë vir harmonisering sal ook oorweeg word om die beweging van goedere te fasiliteer.

Met betrekking tot veiligheid en sekuriteit sal die konferensie veiligheidskwessies binne vervoernetwerke identifiseer en strategieë bespreek om ongelukke te verminder en die doeltreffende vervoer van passasiers en goedere te bevorder.

Die ekspo het ook ten doel om te verken hoe tegnologie doeaneprosedures en streeksamewerking in die vervoer- en logistieke sektor kan verbeter.

TEGNOLOGIE

Volgens CILT kan tegnologie logistieke doeltreffendheid aansienlik verbeter.

“Uitdagings staar egter maatskappye in die gesig met die implementering van hierdie oplossings as gevolg van infrastruktuurbeperkings en verskillende grade van digitale geletterdheid.”

Harris glo wel dat Afrikalande ondanks hierdie uitdagings met opwindende geleenthede kan spog.

“Deur ons streekgeleentheid beoog ons om ’n platform te skep om samewerking moontlik te maak, beste praktyke aan te leer en streekstrategieë te verken om die uitdagings te oorkom.

“Ons breër doelwit is om ’n rol te speel om die streek se ekonomiese potensiaal tot voordeel van almal te benut,” het Harris gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!