Jong Enya presteer oorsee
“Voor my oupa se dood het hy gesê die volgende ding wat hy wil doen, is om my te sien netbal speel, want hy kon nog nooit nie en het ook toe nooit nie. Elke keer wat ek op die baan stap, speel ek asof hy daar is en dit geniet om my te sien speel. Hy het altyd gesê hoe trots hy op my is en ek weet hy sou nou ook wees.”
So vertel die jong netbalster Enya Burger oor haar groot liefde vir netbal – ’n sport waarin sy onlangs uitstekende prestasies behaal het.
Enya is ’n Namibiër wat op die ouderdom van 11 in 2020 saam met haar familie na Nieu-Seeland geëmigreer het. Sedertdien het sy haar plek verdien in Nieu-Seeland se o.17-binnenshuise nasionale span wat in Julie aan die Drienasies-toernooi teen Australië en Suid-Afrika sal meeding.
Buiten vir dié prestasie speel Enya vir haar skool se senior span en ’n plaaslike klubspan. Sy is onlangs boonop as kaptein van die provinsiale gemengde o.16-span gekies.
Daar is geen twyfel dat Enya se ouers, Marné en Jan-Berry (JB) Burger, geweldig trots is op Enya se netbalprestasies asook die afgeronde jong vrou wat sy geword het nie.
“Enya se storie is een van ‘n vegtertjie van dag een af. Sy was 11 weke te vroeg gebore met ’n ongeneeslike siekte (collodian baby- Ichthyosis) met ses daggies om te lewe. As sy dit verby die ses dae sou maak, sou sy volgens die spesialiste nooit ’n normale lewe kon lei nie.
“Sy is ’n vreeslike skaam mens wat nie eens vir mense kon kyk nie. Nietemin is sy nou ’n sterk, natuurlike leier, met baie selfvertroue,” vertel Marné trots.
Enya presteer ook op akademiese vlak en doen drie van haar vakke – wiskunde, chemie en biologie – op ’n jaar 12-vlak ten spyte van die feit dat sy nou eers in jaar 11 is en is dus ’n jaar aangeskuif.
“Plus sy werk ná ure by ’n ‘dairy’, dit is soos ’n minimark by die hoekwinkel, om te help om vir al haar toere en sport te betaal,” sê Marné
‘HET FAMILIE GEWORD’
Enya sê sy geniet alles van Nieu-Seeland, veral omdat daar soveel sportsoorte is om van te kies.
“Ek is mal daaroor om [netbal] te kan speel en om erken te word daarvoor is net ’n voorreg. Die lekkerste is as mens daai een goeie onderskep kry en wat die spel sommer net daar verander. Ek geniet die feit dat dit ’n kontaksport is en mens vir die bal ‘contest’.”
Enya vertel verder dat die konneksies en vriende wat sy deur netbal gemaak het, vir haar baie waardevol is.
“My netbalkring het my ‘whānau’ (familie) geword.”
EMMIGRASIE
Marné vertel dat daar nie net een rede is waarom hulle gekies het om na Nieu-Seeland te emigreer nie.
“Dit was klomp klein redetjies wat op die ou einde ’n groot motivering geword het. Een was wel, ons wou vir ons kinders op ’n plek kry waar daar geleenthede is.”
Volgens Marné is hulle in dié verband nie teleur gestel nie. Volgens haar is daar soveel geleenthede dat dit soms oorweldigend is.
“Mens hoef nie so hard te baklei om bo uit te kom nie, jy moet net hard werk,” meen sy.
As ouers wou hulle graag hul kinders die geleentheid gee om in ’n eerstewêreldland te bly.
“Ons het baie lief geraak vir Nieu-Seeland. Dit is ’n baie mooi land en het wonderlike mense, maar dit was maar ’n groot skuif en ’n groot aanpassing.”
Enya het ritmiese gimnastiek gedoen voor die gesin in die buiteland gaan woon het. Met hul aankoms in Nieu-Seeland was daar egter nie ritmiese gimnastiek in hul omgewing nie en het haar ouers Enya aangemoedig om ander sportsoorte te probeer.
“Sy het by baie ander sportsoorte betrokke geraak en goed gedoen. Dit was nie ’n geval waar sy van die begin af geweet het wat sy wou doen nie, maar sy het vinnig reggekom.” – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie