Adj.komm. Eino Namhahu. FOTO ARGIEF
Adj.komm. Eino Namhahu. FOTO ARGIEF

Moordverdagte vas ná wenk

Nikanor Nangolo
'n Man (40) wat sy meisie koelbloedig vermoor en daarna op vlug geslaan het, is ná 'n wenk deur 'n lid van die gemeenskap by die Koro-nedersetting in Kavango-Oos in hegtenis geneem. Volgens die polisie se waarnemende streeksbevelvoerder, adj. komm. Eino Nambahu, het die voorval verlede Vrydagmiddag by die Zaidag-nedersetting plaasgevind. Anna Maria Cuka Ncashe (39) se liggaam is gevind met ernstige gesigsbeserings wat deur 'n skerp voorwerp en vermoedelik 'n tradisionele byl veroorsaak is.

Nadat 'n wenk van die publiek ontvang is, het die polisie se koördineerder van misdaadondersoeke in die streek, adj. komm. Bonifatius Kanyetu, lede van die Jashipe-grenspos en die polisiekantoor by Ndiyona ontplooi. Die verdagte is in die teenwoordigheid van die hoofman en ander inwoners in die Koro-nedersetting gevind en aan die polisie oorhandig.

"Die verdagte het erken dat hy sy meisie met 'n byl aangeval het. Hy het haar lewelose liggaam net so gelos en gevlug. Ncashe is deur haar broer ontdek wat by haar en die verdagte kom kuier het. Met sy aankoms by haar hut, het hy niemand tuis gevind nie en kon ook nie enige voetspore sien nie wat hom onraad laat vermoed het. Hy het by die hut ingebreek en op haar lyk afgekom," het Nambahu gesê. Hy het sy dank uitgespreek teenoor die hoofman en die inwoners vir hul ondersteuning in die bekamping van misdaad.

"Die gemeenskap dien as die oë en ore van die polisie. Ek doen daarom 'n beroep op en moedig die gemeenskap aan om enige misdaad in hul omgewing aan te meld. Misdaad kan net afneem as die polisie en die gemeenskap saamwerk. Om vennootskappe met die gemeenskappe te bou, is een van ons pilare om misdaad te bestry. Ander nedersettings moet die goeie voorbeeld van mnr. Kamberuka en inwoners in die nedersetting volg wat nie gehuiwer het om die polisie dadelik in kennis te stel nie," het hy gesê. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer