FOTO TER ILLUSTRASIE/ARGIEF
FOTO TER ILLUSTRASIE/ARGIEF

NEF sê minimum loon moet omgekeer word

Ondermyn die beginsel van samewerking
Die Namibiese Werkgewers­federasie sê konsultasies vir die nuwe nasionale minimum loon was onvolledig en hul bekommernisse is nie voldoende voor die besluit oorweeg nie.
Die Namibiese Werkgewersfederasie (NEF) is ontevrede met die nuwe nasionale minimum loon van N$18 per uur wat na verwagting in Januarie 2025 in werking sal tree.

Die federasie sê die nasionale konsultasies was onvolledig en hul bekommernisse is nie voldoende oorweeg voor die besluit geneem is om ’n loonbevel aan die kabinet uit te reik nie.

Die NEF het in ’n verklaring die besluit as voortydig en eensydig en sonder die nodige drieparty-konsultasies beskryf.

“Ons vra dat die loonbevel deur ons minister van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping omgekeer moet word.

“Daar is ’n behoefte aan verdere besprekings en ons wil sien dat die werkgewers se voorlegging deur die NEF in oorweging gebring word.

“Ná afloop van die doeltreffende drieparty-konsultasies en -onderhandelinge, sal ons graag wou sien dat ’n wetsontwerp opgestel en in die parlement voorgelê word, nadat dit deur die kabinet en die kabinetskomitee vir wetgewing geëvalueer is,” sê Elias Shikongo, die president van die NEF in die verklaring.

Hy het beklemtoon dat die besluit die beginsel van samewerking tussen regerings, werkgewers en werkers in die vorm van beleidsrigtings vir arbeid ondermyn.

Die verklaring sê ook die NEF het voorheen die instelling van ’n nasio- nale minimum loon in beginsel ondersteun, mits dit deur uitgebreide konsultasies en onderhandelinge ondersteun word.

Die NEF het ’n minimum uurlikse loon voorgestel vir werknemers wat nie deur sektorale minimum lone en voorwaardes gedek word nie en met uitsonderings in sekere gevalle.

“Die NEF is van mening dat ’n oorhoofse minimum loon tot afleggings kan lei as gevolg van onbekostigbaarheid en neem nie verskille in produktiwiteit tussen sektore in ag nie.

“Die federasie doen ’n dringende beroep op verdere drieparty-konsultasies en -samesprekinge om ’n stabiele arbeidsmark te verseker,” aldus die verklaring.

Die NEF waarsku onvoltooide konsultasies kan daartoe lei dat daar nie by die loon ingekoop word nie, verdere afleggings, verhoogde informaliteit in die arbeidsmark en die verplasing van werkers deur tegnologie.

Die NEF het ook bevraagteken of die arbeidsministerie oor die hulpbronne beskik om doeltreffende implementering te verseker, wat hy beskou het as ’n uitdaging wat ander jurisdiksies in die gesig staar met nasionale minimumloonmaatreëls wat oorhaastig geïmplementeer is.

Luidens die verklaring noodsaak die instelling van ’n minimum loon parlementêre ingryping deur middel van ’n wetgewende proses waarby beide huise van die parlement betrokke moet wees, om sodoende breër sosiale dialoog en betrokkenheid van rolspelers te verseker.– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer