Oekraïne twee jaar na die eerste inval

Mense gaan sover moontlik met hul lewens aan
Almal help om sokkies te brei, kerse te maak en troeteldiere te help wanneer hulle nie hul land moet verdedig nie. Oekraïners vertel van die uitdagings wat hulle steeds elke dag moet trotseer.
Olga Nesterenko

Die tweede grootste leër ter wêreld het die besluit geneem om ’n buurland, wat 30 keer kleiner as dié leër se land is, in drie dae te verower.

So het internasionale koerantberigte op 24 Februarie 2022 gelui.

Oekraïne is heeltemal onverhoeds betrap en is sonder rede aangeval.

Olga Nesterenko, ’n Oekraïner wat al jare lank in Namibië woon, het só oor die situasie in haar land geskryf. Sy het nog familie en vriende wat daar woon. Hulle het hul ervarings twee jaar ná Rusland se eerste inval met haar gedeel.

WERKLIKHEID

Oekraïners het nie geglo dat hulle land aangeval sal word nie. Oekraïne is ’n vreedsame en vredeliewende land. Oekraïners het voor die aanval – net soos nou – gedoen wat hulle moes doen. Mense bly leef en doen wat hulle moet doen, maar in ’n rea­liteit van oorlog. Elkeen doen wat hy as die beste en nuttigste op die oomblik beskou.

Talle het by die weermag aangesluit. Ons weermag bestaan meestal uit onderwysers, dokters, ingenieurs en studente, wat voor die oorlog hulle eie drome en doelwitte gehad het. Dit is egter alles uitgestel aangesien hulle lewens dramaties verander het ná Rusland se inval.

Sommige gaan voort om te werk en belasting aan die staat te betaal sodat die oorlog gefinansier kan word.

Sommige het gevlug. Oekraïne en sy burgers word elke dag aangeval. Die Russiese weermag sukkel om teen die Oekraïense weermag in die oop veld te veg, so hulle het besluit om burgerlikes dood te maak, te martel en aan te val.

Sommige mense het weggegaan omdat hulle hul huise verloor het of nie aan die ontploffings gewoond kon raak nie. Nietemin gaan hulle ook voort om die Moederland op een of ander manier vanuit die buiteland te help.

Eintlik is dit ’n nasionale kenmerk van Oekraïners om mekaar te help. In 2021 was Oekraïne 20ste onder 142 lande in die World Giving Index (die wêreld se voorste studie oor globale vrygewigheid), wat toon dat Oekraïne een van die vrygewigste lande ter wêreld is. Van vandag af beklee Oekraïne die tweede plek.

Daar is ’n groot aantal Oekraïense volwassenes wat help: 78% help vreemdelinge, 70% maak gereeld liefdadigheidsbydraes en 37% doen vrywilligerswerk. Hierdie syfers beklemtoon die veerkragtigheid, deernis en onwrikbare toewyding van Oekraïners om diegene in nood te ondersteun.

Voor die volskaalse oorlog het Oekraïne nuwe tegnologie ontwikkel, nuwe variëteite van koring en sonneblom uitgevind, inligtingstegnologie, medisyne en onderwys bevorder. Selfs nou, ten spyte van die oorlog, gaan mense voort om dit te doen, maar almal se hoofdoel is om ons soldate te help om die indringers uit ons land te verdryf.

Sommige mense, veral bejaardes, wat natuurlik nie hul huise wil verlaat nie, bly in die dorpe naby die voorste linie of in nedersettings wat byna heeltemal vernietig is. Mense woon in gate en kelders. Vrywilligers neem hierdie mense na veiliger plekke ten spyte van die gevaar. Dikwels word mense deur vreemde gesinne ingeneem.

’n Beduidende toename in depressie en angs word tans wêreldwyd ervaar, en Oekraïners leef al vir twee jaar met permanente stres, baie het posttraumatiese stressindroom, maar mense probeer om dit te oorkom.

Die oorlog het miljoene kinders se kinderjare gesteel.

Baie van die jongmense help die soldate op welke manier ook al. Hulle reël kermisse, geldinsamelings en doen vrywilligerswerk.

Dit is skrikwekkend as vrywilligers se pakkies nie betyds by die geadresseerde persoon uitkom nie, want hy leef nie meer nie. In die pakkies is verskillende items. Iemand brei byvoorbeeld wolsokkies omdat dit winter is en die mense wil hê die soldate moet gemaklik en warm wees. Dit is met deernis met die hand gebrei.

My ma is een van die talle vroue wat al vir die laaste twee jaar sokkies en moulose woltruie brei, wat dikwels onder ’n baadjie gedra word.

Nou maak die hele land klein kerse wat die mense in die loopgrawe warm hou en dit word op een of ander manier versier en ruik lekker.

Iemand maak en stuur tuisgemaakte konfyte; nie omdat die soldate niks het om te eet nie, maar omdat dit lekker is en soos huis ruik.

In byna elke pakkie vind jy lekker dinge en nie net benodigdhede nie. Menige pakkies bevat handgemaakte gehekelde amulette.

Soldate help hawelose diere en kry nuwe tuistes vir hulle. Vrywilligers steriliseer al die troeteldiere ongeag of hulle huise het of nie.

Die belangrikheid en omvang van die kwessies wat die Oekraïense vegters vandag takel, kan nie onderskat word nie.

Rusland het ’n aansienlike voordeel in wapens bo die van Oekraïne. Rusland het ongeveer vier keer meer aktiewe militêre personeel. Die Russiese vloot is byna 16 keer groter. Die Oekraïne se lugmag is 13 keer kleiner. Wat die aantal gepantserde voertuie betref, het Rusland vier keer meer as Oekraïne.

Ongetwyfeld toon statistiese aanwysers dat die Russiese leër ’n beduidende voordeel het in terme van die aantal dienspligtiges en militêre ondersteuning.

Oekraïne baat egter by die krag, dapperheid en gees van sy mense.

Daar is baie mense – selfs nadat hulle ernstig gewond is – wat gretig is om terug na die gevegsfront te keer.

“Hoe kan ek my vriende agterlaat? Ek het ondervinding opgedoen, ek word daar benodig!” hoor jy keer op keer.

Teen Junie 2022 het Russiese troepe ongeveer 20% van die Oekraïense grondgebied beset. Ten spyte van die uitdagings, het die weermag ongeveer 40% van die gebiede wat deur Rusland beset is ná 24 Februarie bevry.

Nou is Oekraïne een van die twintig magtigste leërs in die wêreld, volgens die gradeerder Global Firepower. Oekraïne is 18de onder 145 lande gelys. Dis ’n indrukwekkende erkenning van die beduidende pogings wat Oekraïne aanwend om ’n langverwagte oorwinning te bespoedig. Dit is bekend dat leiers van talle lande tot 2022 Oekraïne nie as een van die bekwaamste lande beskou het nie. Twee jaar later gaan Oekraïners steeds voort om sterk weerstand teen die vyand te bied en die wêreld te beïndruk.

Ten spyte van die oorlog maak die land steeds vordering; soos byvoorbeeld die toep “Kiev Digital” se doeltreffendheid wat deur die World Smart City Award Special erken is. Die toep vergemaklik nie net burgers se alledaagse lewens nie, maar bied ook belangrike funksies, soos om te help met die behoeftes van die gewapende magte, geld in te samel vir militêre toerusting, en om inligting oor skuilings te verskaf.

Oekraïne gaan voort om medisyne te ontwikkel. Baie nuwe metodes van behandeling is ook uitgevind en vir die eerste keer toegepas.

Oekraïne gaan voort om onderwys te verbeter. Afgesien van verskeie hervormings- en optimaliseringsinisiatiewe, is daar nou nuwe realiteite. Oekraïne het begin om ondergrondse skole te bou. Dit klink vreeslik, maar geen vyand sal ons standaard om geleerde mense te wees, vernietig nie.

Oekraïne is besig om homself te herbou. Nuwe fabrieke word gebou in die plek van die wat vernietig is en huise wat gebombardeer is, word herstel.

Boonop reis ons mense ook soveel as moontlik en waar moontlik, om te herlaai, om nuwe kennis op te doen, en om krag te kry deur nuwe plekke te besoek.

Die bekende Oekraïense reismaatskappy Paganel Studio, wat saam met sy kliënte al vir tien jaar lank die skoonheid van ons planeet met ander deel, het byvoorbeeld hierdie Oujaarsaand in Namibië gevier (ook in 2021 en 2022 en die plan is tot 2025).

“Namibië is een van die mooiste en maklikste lande om in te reis en een van die veiligste lande in die wêreld. In Afrika is dit beslis ongeëwenaard. Ek was al seker 50 keer in Namibië, maar elke keer verstom die land se bekoring, netheid, gerief en diversiteit van natuurlike landskappe my. Namibië is my persoonlike plek waar ek krag kry,” het Andrey Andreev, die stigter en hoof van die maatskappy, gesê.

Dié keer het die groep verskeie gesinne van die VSA, Letland, Litaue, Kazakstan en Oekraïne na Namibië gebring. Daar was ook Spaanse, Indiese, Georgiese en Moldawiese burgers in die groep.

Oekraïners gaan voort om aan verskeie internasionale sportkodes deel te neem en kompetisies te wen, en dit gaan gepaard met die nuwe realiteit – niemand skud hande met Russiese atlete nie.

Talle nuwe liedjies is ook in hierdie tyd geskep. Ongelukkig het die oorlog natuurlik ’n prominente tema in liedjies geword, met lirieke wat meestal handel oor vertroosting in moeilike tye en die verlies van geliefdes, maar ook oor die moed om voort te gaan. Oekraïners is ’n singende en uiters talentvolle nasie.

Volgens Unesco het Oekraïners die meeste volksliedere ter wêreld geskep – sowat 15 500.

Die eerste professionele musiek-akademie is in die middel van die 18de eeu geopen en het talle vroeë musikante en komponiste opgelewer. Kultuur het net so ’n groot invloed op klassieke musiek gehad soos sy kunstenaars.

Die indringers het sommige van ons skole en teaters, selfs diegene wat deur Unesco beskerm word, vernietig.

Ons Oekraïners is die rede waarom hierdie “tweede beste weermag in die wêreld” so onsuksesvol hier is. Ons het niks van iemand anders nodig nie, maar ons sal ook nooit weggee wat ons s’n is nie.

Meer as 80% van die bevolking glo dat Oekraïne die oorlog gaan wen en is gekant teen enige territoriale toegewings. Elke mens behoort die reg te hê om die waardes van sy lewe en vryheid te kan kies.

Dit is my streek. Daar is beslis baie vriende, familie en kennisse daar. Dit is verskriklik selfs om te praat oor wat in die tydelik besette gebiede gebeur, maar ons mense gaan voort om vir ’n vrye Oekraïne te veg. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 37° Rundu: 21° | 32° Eenhana: 21° | 26° Oshakati: 21° | 29° Ruacana: 21° | 31° Tsumeb: 19° | 24° Otjiwarongo: 19° | 25° Omaruru: 21° | 32° Windhoek: 18° | 30° Gobabis: 20° | 29° Henties Bay: 17° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 16° | 26° Ariamsvlei: 24° | 40° Oranjemund: 17° | 22° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 25° Lubumbashi: 16° | 32° Mbabane: 18° | 29° Maseru: 16° | 29° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 36° Windhoek: 18° | 30° Cape Town: 18° | 23° Durban: 21° | 26° Johannesburg: 16° | 18° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 35° Harare: 20° | 32° #REF! #REF!