Foto verskaf
Foto verskaf

Oshana: Wangedrag deur polisie ’n uitdaging

Beamptes verskaf glo verbode items aan gevangenes
Nikanor Nangolo
Die polisie in die Oshanastreeek staar 'n ernstige kwessie in die gesig met aanhoudingselle wat oorvol is en sommige beamptes wat gevang is dat hulle verbode items hier insmokkel en aan gevangenes verskaf.

Dié streek se polisiebevelvoerder, kommissaris Naftal Sakaria, het kommer uitgespreek oor die toestand van polisieselle en die onetiese gedrag van sommige beamptes. Die selle is eintlik bedoel vir tydelike aanhouding, maar die gebrek aan geriewe het owerhede genoop om dit as langtermyn aanhoudingselle te gebruik. Volgens Sakaria is dit wat tot die oorbevolking en ander uitdagings gelei het.

“Tans het ons nie aanhoudingsgeriewe in die land nie. So, ons word gedwing om hierdie gevangenes in polisieselle aan te hou, wat almal oorvol is,” het hy gesê.

Die situasie is vererger deur 'n ontstellende neiging van polisiebeamptes wat na bewering verbode items soos alkohol, dwelms en selfone in die selle insmokkel.

Sakaria het bevestig verskeie beamptes is by wangedrag betrokke en die Oshanastreek se polisie is glo hard aan die werk om dié wangedrag hok te slaan.

“Nou het ons gevangenes en ons het ook polisiebeamptes wat verbode goed aan gevangenes verskaf, hetsy in die selle of by die hof. Verskeie beamptes is aangekla ivr die verskaf van smokkelware aan gevangenes. Dit is die gedrag wat ons aktief probeer ontmoedig deur op te tree wanneer dit voorkom,” het Sakaria gesê.

’n Balju is sowat twee weke gelede in hegtenis geneem nadat hy glo Tassenberg-wyn en sigarette aan ’n verdagte in aanhouding by Ondangwa verskaf het. Volgens Sakaria is daar reeds teen die beampte opgetree.

Hy het bygevoeg dat alle beamptes wat betrokke is by sulke onetiese gedrag, aanspreeklik gehou sal word kragtens die bepalings van die polisiewet wat polisiegedrag reguleer.

“Wat hierdie spesifieke beampte betref, is ek seker die Ondangwa-polisiekantoor neem reeds aksie om die beampte aan te kla ooreenkomstig die bepalings van die polisiewet en regulasie. Ons spreek beslis die situasie aan en die beampte sal aangekla word,” verseker Sakaria.

Sakaria het verder beklemtoon dat smokkelary 'n voortdurende probleem binne die polisiemag was en dat rekords wys op verskeie voorvalle van beamptes wat betrap is met verbode items wat by selle ingeglip is om aan verdagtes te gee. Dit gebeur glo ook dikwels tydens hofverskynings.

STRAWWE

“Ons het al sulke gedrag gesien en ons rekords toon verskeie voorvalle. Die maatreël in plek is dat ons, as die Namibiese polisie, gelei word deur regulasies wat ons gedrag dikteer. Hierdie regulasies is die raamwerk waarop ons staatmaak, want daar is spesifieke strawwe as 'n beampte aan sulke wangedrag skuldig bevind word,” het Sakaria bygevoeg.

Sakaria het beklemtoon dat beamptes wat gevang word wanneer hulle by onetiese praktyke betrokke is, gevolge in die gesig staar wat hul loopbaan kan beïnvloed, insluitend bevorderingsgeleenthede.

“Ons moedig ook beamptes aan om ons kernwaardes, soos etiese gedrag wat van ’n polisiebeampte verwag word, te gehoorsaam. Wangedrag meng in met jou loopbaanvordering. As jy aangekla word, sal jy vir die volgende drie of vier jaar 'n hangende interne saak moet deurgaan wat jou van bevordering diskwalifiseer,” het Sakaria gesê.

Hy het die polisiebeamptes aangemoedig om met integriteit en professionaliteit op te tree en waarsku dat verdere voorvalle met vinnige en beslissende optrede teëgekom sal word om wet en orde binne die mag te handhaaf.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!