Owerhede monitor olie op Langstrand
Owerhede hou ’n oliestorting fyn dop wat Saterdagoggend langs Langstrand in die “Patrysberg”-gebied tussen Swakopmund en dié gewilde strandbestemming ontdek is.
Teen Sondagmiddag het die beamptes wat die reaksie op die storting gelei het, aan Network Media Hub (NMH) gesê geen verdere bewyse is gevind dat daar nog stortings plaasgevind het nie. Die vermoede is gevolglik dat dit ’n geïsoleerde voorval was.
“Ons wag nog vir terugvoer van Namport, maar as dit ’n groot krisis was, sou ons meer tekens van besmetting gesien het,” het een van die beamptes, Jan Allan, gesê.
Ten spyte van die feit dat die oliestorting blykbaar onder beheer was, het strandgangers gesê dat oliekolle op die sand gevind is, met seelewe wat op die strand uitgespoel het.
’n Plaaslike inwoner wat Saterdagoggend met haar honde gaan stap het, was die eerste persoon wat die oliestorting opgemerk het.
“Ek het aanvanklik gedink dit is vuil water of die oorblyfsels van ’n rooigety. Toe besef ek my voete is met olie bedek. Van die visse wat uitgespoel het, het nog gelewe, maar het ’n olierige skynsel gehad,” het sy gesê.
Tydens laagwater kon dooie en spartelende visse, skulpvis en ander seediere langs die kuslyn en in veral vlak rotspoele gesien word. Soos die gety egter gestyg het, het die oliekolle minder sigbaar geword en dit was moeilik om die volle omvang van die oliestorting te bepaal, volgens die betrokke beampte.
Beamptes vermoed die olie se oorsprong is in die see eerder as op land en kan vermoedelik met skeepsaktiwiteite in die Walvisbaaise hawe verbind word.
Hoewel dit nie as ’n krisis beskou word nie, neem beamptes die saak ernstig op en het die publiek versoek om nie die seelewe wat uitgespoel het, te eet nie.
Brendon Scott, die noodreaksiekoördineerder vir die Erongo-streekreaksie en koördineringsgroep, het gemaan oor potensiële gesondheidsrisiko’s.
“Mense besef nie dat hierdie visse ’n teelaarde vir bakterieë is nie. Om dit te eet, kan ernstige gesondheidskwessies veroorsaak,” het hy gewaarsku.
Die vinnige koördinering tussen owerhede, ingesluit die polisie, Namport, Nacoma en private reaksiespanne het gehelp om die situasie doeltreffend te bestuur.
“Ons grootste kommer is die voorkoming van ’n humanitêre krisis waar lae-inkomste-inwoners die besmette vis eet.
“Ons doen ’n beroep op mense om nie daaraan te raak nie en as hulle dit wel doen, om dadelik hul hande te was.”
Die publiek word gemaan om nie vis, kreef of enige skulpvis in die gebied op te tel nie.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie