#PasIn: Swapo sal die uitspraak oor selfdegeslag-huwelike tydens 'n buitengewone vergadering bespreek
#PasIn SameSexNam
Swapo het so pas 'n verklaring uitgereik na aanleiding van besprekings oor 'n onlangse uitspraak van die Hooggeregshof wat die ministerie van binnelandse sake beveel om relevante verblyfsregte aan buitelandse gades van dieselfde geslag wat met Namibiërs getroud is, uit te reik. "Na 'n uitvoerige bespreking en vergadering het die politburo dus besluit dat 'n buitengewone vergadering van die sentrale komitee van die party gehou moet word om die verskillende bekommernisse wat deur sy lede, strukture, ondersteuners en die algemene publiek na vore gebring is, te bespreek en nodige besluite te neem, asook om die impak daarvan op die samelewing as geheel te oorweeg, sowel as die verskeidenheid beskikbare en regsverbindende statutêre regstellende optrede wat moontlik geneem kan word," merk die verklaring wat deur Swapo-woordvoerder Hilma Nicanor uitgereik is. Volgens Nicanor hoop die party om die publiek en Swapo-partylede gerus te stel dat dit die "angs en ongelukkigheid" van die publiek ernstig opneem. "Die Swapo-party sal alles doen wat binne sy vermoë lê, in ooreenstemming met die grondwetlike en wettige vereistes, om 'n langdurige en aanvaarbare oplossing te vind," het die verklaring bygevoeg. Swapo het ook die publiek versoek om kalm te bly gedurende hierdie proses.
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie