'Regering kan enigiets onder nasionale veiligheid verdoesel'
’n Navorser verbonde aan die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR), Frederico Links, waarsku dat die regering onder die vaandel van nasionale sekuriteit Namibiërs van hul reg tot privaatheid kan ontneem.
"Die regering kan enigiets onder dit verdoesel. In ’n staat wat om nasionale veiligheid en sekuriteit gesentreer is, kan enigiets geklassifiseer word as ’n kwessie van nasionale sekuriteit. Ons moet versigting wees om nie nasionale sekuriteit met staatsekuriteit of regimesekuriteit te verwar nie - nasionale sekuriteit het te doen met die veiligheid van die land se mense. Die ander het te doen met die veiligheid en sekuriteit van die magte wat aan bewind is," het Links gister by ’n openbare praatjie gesê.
Hy verwys na die gebeure in Kenia waar ’n optog teen ’n belastingverhoging as ’n dreigement tot nasionale sekuriteit bestempel is en 13 mense hul lewens verloor het. Hierdie optog is deur sosiale media gereël.
"Daardie denkwyse kan die weg baan vir mense om as vyande van nasionale sekuriteit beskou te word ... in baie lande het aktivisme sinoniem geword met terrorisme," sê hy.
Namibië het ook volgens Links reeds jeugaktivisme as ’n moontlike bedreiging tot nasionale veiligheid bestempel.
Links meen as Namibië nie liggies trap nie, mag die wetsontwerp oor kubermisdaad die deur oopmaak vir ’n ontneming van vryheid en regte.
"Die huidige wetsontwerp sê baie min oor hoe om kubermisdadigers te beveg, bedrog, aanlyn-kinderpornografie ensovoorts, maar gaan hoofsaaklik oor wat van hulle (die regering) gesê word," het Links gesê.
Hy verduidelik dat ’n paneel kenners vanuit Europa ’n oorspronklike databeskerming-wetsontwerp opgestel het, maar dat die nuutste weergawe van die wetsontwerp ’n hoofstuk wat die regte van dataonderwerpe (mense wie se inligting ingevorder, gestoor of gedeel word) se regte uitstippel, heeltemal verwyder het.
Hy meen selfs simregistrasies is ’n manier waarop massatoesig deur staatsentiteite genormaliseer word en dat daar onvoldoende maatreëls in plek is om die misbruik van hierdie toesig te voorkom.
"Ons is nou onder permanente toesig," sê Links.
Hy meen egter dat dit eenvoudig ’n kwessie van tyd is voor simregistrasie grondwetlik uitgedaag word en dat die proses nie hierdie uitdaging sal weerstaan nie.
"Ons moet vasstaan teen die staat se weergawe wat massa-toesig regverdig wanneer dit kom by die openbare konsultasies van hierdie wetsontwerp," het Links gesê.
Die navorser is van mening dat die huidige databeskerming-wetsontwerp nie veerkragtig genoeg is om geïmplementeer te word nie.
"Amper tien jaar later het ons nog nie ’n selfstandige konsepwet nie," het Links gesê.
Rigo Reddig, die hoof van IT-sekuriteit by die finansiële dienstemaatskappy Grant Thornton, deel kommer oor moontlike skuiwergate in die huidige kubermisdaadwetsontwerp.
"Daar word geen verwysing gemaak tot verantwoordelike openbaarmaking met betrekking tot datadiefstal of ander gevolge op Namibiese burgers se data, soos dit gestoor is deur enige entiteite waartoe daar onwettig toegang verkry is," sê hy.
Reddig is van mening dat definisies in die wetsontwerp van onder meer terme soos "toegang" onvoldoende is en dat die voorgestelde wetgewing met betrekking tot die vestiging van die nasionale sekuriteit- en kubervoorvalle-reaksiespan (CSIRT) te vaag is.
Hy voeg by dat wette rakende databeskerming en kubermisdaad groot voordele vir Namibiërs kan inhou indien dit voldoende is en in konsultasie met kenners in die bedryf opgestel word.
Die CSIRT het vanjaar vir die eerste keer ’n begroting van N$7 miljoen van die regering ontvang deur die regulerende Owerheid vir Kommunikasie (Cran). Die regering het N$20 miljoen oor drie jaar uiteengesit vir die CSIRT.
Die ministerie van inligting en kommunikasietegnologie het nie teen druktyd op Links se beweringe gereageer nie.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie