President van die Ganja Users of Namibië (GUN) organisasie Brian Jaftha bly in die tronk terwyl sy grondwetlike uitdaging tot die Namibiese wet wat dagga kriminaliseer in die hoërhof voort duur.
Foto GUN
President van die Ganja Users of Namibië (GUN) organisasie Brian Jaftha bly in die tronk terwyl sy grondwetlike uitdaging tot die Namibiese wet wat dagga kriminaliseer in die hoërhof voort duur. Foto GUN

SA president teken nuwe daggawetgewing

Wettig gebruik vir private doeleindes
Die verouderde wet wat die gebruik van dagga 'n strafregtelike oortreding maak, bly in Namibië van krag, ondanks die feit dat die wet lank reeds in Suid-Afrika ongrondwetlik bevind is.
Augetto Graig
Op die vooraand van Suid-Afrika se verkiesings wat Woensdag plaasgevind het, het dié land se staatspresident Cyril Ramaphosa nuwe wetgewing geteken om die gebruik van dagga vir private doeleindes te wettig.

Die nuwe wet reguleer die groei, besit en private gebruik van dagga vir Suid-Afrikaanse volwassenes.

As gevolg van die nuwe wetgewing sal dagga heeltemal uit die Suid-Afrikaanse wetgewing op dwelm en dwelmhandel verwyder word, volgens ’n verklaring wat Dinsdag deur die kantoor van die Suid-Afrikaanse president uitgereik is.

“Hierdie regulatoriese hervorming sal verdere wysiging van die Bylaes tot die Wet op Medisyne en Verwante Stowwe moontlik maak.

“Dit sal ook voorsiening maak vir geteikende regulatoriese hervorming van die Wet op Planttelersregte en die Plantverbeteringswet, asook ander wetgewing wat wysiging vereis om die industrialisering van die daggasektor moontlik te maak,” lui die verklaring.

Verder beheer die nuwe wet die medies voorgeskrewe toediening van dagga aan kinders en beskerm ook minderjariges teen onnodige blootstelling aan dagga.

Dit bied ’n alternatiewe benadering tot die verbode gebruik, besit van of handeldryf in dagga deur kinders, met inagneming van die beste belange van die kind, volgens Ramaphosa se kantoor.

Die nuwe wet verbied steeds die verkoop van dagga in die algemeen.

DAGGA NOG ONWETTIG IN NAMIBIë

Intussen het die Namibiese polisie (Nampol) statistiek vir April bekend gemaak wat aandui dat 140 Namibiërs vir dwelmverwante aanklagte in hegtenis geneem is, die meerderheid van hulle vir die besit van dagga.

Nampol het in April in dié arrestasies beslag gelê op 170 000 kg dagga, wat glo meer as N$1,6 miljoen werd is.

Die verouderde wet wat die gebruik van dagga ’n strafregtelike oortreding maak, bly in Namibië van krag, ondanks die feit dat die wet lank reeds in Suid-Afrika ongrondwetlik bevind is.

Die president van Ganja Users of Namibia (GUN), Brian Jaftha, en GUN se sekretaris-generaal, Borro Ndungula, het reeds in 2021 ’n grondwetlike uitdaging van die Wet op die Misbruik van Verslawingsmiddels en Rehabilitasiesentrums no. 41 van 1971 van stapel gestuur.

Jaftha sit egter vir twee jaar agter tralies nadat ’n plaaslike landdroshof hom verlede jaar skuldig bevind het op ’n 2018-aanklag van die handel in dagga. Jaftha is glo in besit van 97 g dagga betrap.

REGSHERVORMING

Jaftha kon vroeër vandeesmaand ’n brief met lede van GUN uit die tronk deel, waarin hy nuwe verwikkelinge met die grondwetlike uitdaging kon uitlig.

Die aanklaer-generaal, die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie, die minister van justisie, die minister van gesondheid en maatskaplike dienste en die regering van Namibië is respondente in dié hoërhofsaak.

Volgens Jaftha het Yvonne Dausab, die justisieminister, die hof glo gevra om die saak op te skort tot die Regshervormingskommissie in Namibië ook as ’n respondent gelys word.

Dit omdat Dausab reeds jare gelede die kommissie opdrag gegee het om na moontlike wetswysigings te kyk. Insette van die kommissie was ook voorheen ’n rede waarom die grondwetlike uitdaging vertraag is, hoewel die insette nooit gelewer is nie.

VERHOOR UITGESTEL

Die hofsitting is Dinsdag voortgesit sodat regter Eileen Rakow die minister se aansoek kon aanhoor.

Hoewel Jaftha, volgens sy ma, tevrede was met die jongste hofverrigtinge, kon sy nie rerig besonderhede verskaf nie.

Rakow het egter bevestig dat die saak tot 18 Junie uitgestel is en dat die Regshervormingskommissie tot dan het om teen sy toevoeging as ’n respondent kapsie te maak.

Indien nie, sal die kommissie as ’n respondent gelys word, anders sal ’n datum gekies word om hul argumente aan te hoor, brei sy uit.

Die voorsitter van die kommissie, Joshua Etuna, sê hulle is bewus van die grondwetlike uitdaging en ook dat die kommissie na die hervorming van die wet kyk, hoewel die verslag wat hulle vir die minister van justisie in dié verband saamstel nie binnekort afgehandel sal wees nie.

Hy sê die verwikkelinge in Suid-Afrika word in ag geneem, maar die kommissie kyk ook na ander lande in die streek en wêreldwyd, asook na die Verenigde Nasies vir insette.

Jaftha se ma kon ook bevestig dat die regering se regshulpverteenwoordiger, Joseph Andreas, aangestel is om te help om haar seun se skuldigbevinding te betwis, nadat die vorige prokureur nooit vir enige van die appèlverrigtinge opgedaag het nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 31° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 16° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 14° | 30° Omaruru: 15° | 30° Windhoek: 16° | 29° Gobabis: 20° | 35° Henties Bay: 17° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 18° | 33° Mariental: 20° | 35° Keetmanshoop: 17° | 34° Aranos: 20° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 16° | 34° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 23° Mbabane: 15° | 18° Maseru: 12° | 29° Antananarivo: 18° | 26° Lilongwe: 20° | 24° Maputo: 19° | 27° Windhoek: 16° | 29° Cape Town: 16° | 22° Durban: 17° | 23° Johannesburg: 15° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 18° | 29° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!