Van vervolging tot fees

Padtoer ná die vloed (5)
Stellenbosch se Helshoogtepas maak 'n swierige draai en gooi die Franschhoekvallei voor jou oop soos 'n towenaar wat sy grootste toertjie vir laaste gehou het.
Henriette Lamprecht
Pedro Vorster - Die gesig is betowerend. Die Groot Drakenstein-, Winter-, Elands- en Olifantsberge staan bakhand klaar om die vrugbare wingerde vas te hou en te voed, al is die pieke van die Franschhoekberge gedoop in sneeu.

Dit is Augustus, maar dit voel soos kortmou-lente.

Ons vaar voorspoedig – ingepas tussen die kouefronte en reënstorms. Die pad wat Franschhoek inkom is weer oop, maar ja-nee, die Franschhoekpas wat die vallei aan die ander kant uitlei is dan oop, dan gesluit – versper deur erge rots- en modderstortings gepaard met ontwortelde bome.

Naby Franschhoek het die hewige reënstorms veroorsaak dat die gaste van die Hollandsche Molen-vakansieoord moes ontruim en by die Wemmershoek-kampterrein gaan tent opslaan.

Gelukkig het ons ’n dorpshuis vooraf bespreek en is beurtkrag die ergste ongerief wat ons beleef.

“Moenie water koop nie. Maak jou botteljie vol by ’n bergstroompie. Beter soet water sal jy nie kry nie”.

Die vriendelike verkoopsdame van een boetiekklerewinkeltjie was reg. Sedert 1823 voorsien bergfonteine ook deels die dorp van water en niemand kla nie. Bygesê, as jy gewoond is aan Namibië se tweedeklas-bedieningstyl is die Kaapse diensverskaffers tops. Miskien het werkloosheid iets hiermee te doen.

As jy fiks genoeg is, kan jy die berge invaar via ’n verskeidenheid wandelroetes. Die Mont Rochelle-natuurreservaat is deel van verskeie bewaringsgebiedorganisasies en vereis ’n permit van R70 per persoon. Die berglandskap is in ’n fynbosgebied en mens verwag om proteas en Ericas hier te sien. Meer as 265 miljoen jaar gelede het die berge, van dieselde sandsteen as Tafelberg, hier uitgestyg. Die hoogste piek is Perdekop, wat op ’n hoogte van 1 575 meter meer as ’n duisend meter laer as Köningstein in die Brandberg is.

Maar in hierdie vallei gaan dit oor wyn. Baie wyn. Die mees kommervrye manier om die meer as 30 wynplase te besoek is met die hop-op-hop-af dubbeldekkertrem. Die waentjie, geskoor op ’n 1923 Britse daklose trem, draf op ’n spoorlyn wat oor ’n eeu gelede vir die wynboere gelê is. Die eerste stoomlokomotiewe het die ossewaens bygestaan wat produkte na die Kaap moes vervoer.

Vergeet daarvan om meer as drie wynplase op een sirkelroete te besoek. Daar is vyf wynplaasroetes om van te kies. So, kies jou lekkerste wyn, klim op die trem en gaan bederf jouself. Elke wynland waar daar aangedoen word het heerlike borde met eetgoed – aangepas om jou wynkeuse aan te vul en die palet lewendig te hou.

Die wyne dek die verwagte wye spektrum van die bekende rooie, Shiraz, en natuurlik die inheemse variëteit, Pinotage, wat deur ’n verbouing in 1925 geskep is van Pinot Noir- en Cinsaut-kultivars. Onder die witte is die verwagte staatmakers soos Sauvignon Blanc, Chardonnay (ookspronklike kultivar Morillon) en allerhande verstommende permutasies. Laastens is daar die wit vonkelwyn (moet om Franschhoeksnaam net nie sê “sjampanje” nie). Al is jy nie ’n fynproewer nie, op Boschendal is ons met elke sopie intelligent ingelig deur ’n kundige kelnerin oor die kleure, kultivars en magiese versnit-kombinasies. Wat ’n heerlike manier om wynwys te word!

Die Bastille-vlae wapper oral en moet dien as katalisator vir die komende feesviering van ’n bloedige episode in Frankryk se verlede. Op 14 Julie 1789 het die gepeupel die gehate Bastille-gevangenis in Parys bestorm en platgevee. ’n Eeu voor die revolusie (1688) het die eerste geloofsvlugtelinge reeds ordelik per skip na die Kaap geëmigreer.

So, as jy wil, plak ’n swart snor op en sit ’n baret op jou kop; dra ietsie rooi, wit of blou en neem deel aan die fees.

Die Hugenote voel genoop om ’n monument op te rig en maak so in 1948. Die drie suile simboliseer die Vader, Seun en Heilige Gees.

Môre gaan ons in die hoofstraat afdrentel, mits die weer dit toelaat. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!