Wolk van omstredenheid hang oor Noordedorp

Tsumeb ly glo onder smelter se bedrywighede
Amptenare van China se Sinomine Resource Group was Vrydag in die dorp en het die smelter besoek.
Augetto Graig
Die inwoners van Tsumeb verduur al jare lank kwale, soos onder meer naarheid, hoofpyne, lusteloosheid, sinusinfeksies en asma, terwyl die drinkwater al vir maande gekook moet word voor dit drinkbaar is.

Plante se blare brand weens hoë arseenvlakke en bloedmonsters toon ongesonde vlakke van aluminium, antimoon, vanadium en nikkel. Dit volgens onlangse bloedtoetse en laboratoriumontledings wat Republikein onder oë gehad het.

Die inwoners wat anoniem wil bly uit vrees vir vervolging, sê wanneer die gaswolke van die kopersmelter op die dorp neersak, word skoolkinders huis toe gestuur en word dit moeiliker om asem te haal.

Volgens een moedelose vrou kry oud en jonk voortdurend sere op hul liggame.

Tsumeb se grootste besigheid is die smelter wat die Kanadese maatskappy Dundee Precious Metals in die dorp bedryf en beoog om dit aan China se Sinomine Resource Group te verkoop.

Amptenare van Sinomine was Vrydag in die dorp en het die smelter besoek.

“Ek kon vanoggend weer die swaeldioksied in die lug by die skool ruik,” het nog ’n inwoner gister gesê.

Dundee sê: “Swaeldioksied is deel van ons konsentraatmineralogie en tydens die smeltproses word swaeldioksied (SO2) gegenereer, opgevang en omgeskakel na swaelsuur, wat ’n verkoopbare produk is.”

Dundee se kommunikasiebestuurder, Alina Garises, het op Republikein se navrae gereageer en gesê die swaelsuuraanleg by die smelter ter waarde van US$250 miljoen vang 98% van die swaeldioksiedvrystellings op, met ses luggehaltestasies by die smelter en in die dorp wat die luggehalte meet.

“Ons het onder andere 17 stofafsettingsemmers by die smelter en omliggende gebiede geïnstalleer om moontlike stof te monitor

“Die resultate toon dat die standaard nie oorskry word nie. Alle SO2-vrystellings wat gemeet is, bly binne aanvaarde perke,” verduidelik Garises.

Sy dring ook daarop aan dat die vlakke van gasvrystellings nie toeneem nie.

“Gasvrystellings het nie onlangs toegeneem nie, in werklikheid het dit beduidend gedaal. Die smelter voldoen aan die perke van internasionale luggehalte soos deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) uiteengesit word,” sê sy.

Garises ontken ook bewerings deur inwoners dat afvalwater van die smelter sonder ondeurdringbare voerings in damme gestort is.

“Die smelter het ’n besoedelingsbeheerdam met ’n voering en oppervlakwaterinfrastruktuur in plek om afvalwater op te vang en te keer dat besmette afvalwater in die grondwater beland,” voer sy aan.

Sy sê slote by die smelter is gerehabiliteer, keermure (bund walls) is opgegradeer en stormwaterslote is uitgevoer om besmette stormwater op te vang.

Verder is ’n veldtog in 2019 van stapel gestuur om spesifieke bome te plant, wat afvalstowwe uit die grond absorbeer, sê sy. Altesaam 15 000 van dié bome is reeds geplant, sê Garises.

Sy sê Dundee het miljoene Amerikaanse dollars bestee om die smelter te verbeter met inagneming van die impak op die omgewing, insluitend die verbetering van die arseenverwerking en die Ausmelt-oond, pakhuise en arseentrioksied-aanleg, om arseenblootstelling tot aanvaarbare vlakke te bring.

Sy sê ’n gespesialiseerde fasiliteit om die arseen-byprodukte te stoor, is ook gebou.

Op die vraag wie verantwoordelik sal wees indien die verkoopstransaksie van die smelter suksesvol afgehandel is, het Garises geantwoord: “Sinomine het ’n uitgebreide omsigtigheidsondersoek gedoen voordat die ooreenkoms om die smelter te koop aangegaan is.

“Dundee is eerlik oor die verbeterings wat die maatskappy aangebring het, en is deursigtig met Sinomine oor al sy besigheidspraktyke.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!