Napwu se algemene sekretaris, mnr. Petrus Nevonga, wys die  sertifikaat van 'n onopgeloste geskil, saam met Nantu se sekretaris-generaal, me. Loiude Shaanika. Foto Augetto Graig
Napwu se algemene sekretaris, mnr. Petrus Nevonga, wys die sertifikaat van 'n onopgeloste geskil, saam met Nantu se sekretaris-generaal, me. Loiude Shaanika. Foto Augetto Graig

Amptenare moet stem oor staking

Napwu en Nantu vra lede vir rigting
Die kantoor van die arbeidskommisaris het 'n sertifikaat van onopgelosde geskil uitgereik
Augetto Graig
Volgens die Namibiese Vakbond vir Staatsdienswerkers (Napwu) en die Namibiese Nasionale Onderwysersunie (Nantu) het onderhandelinge oor salarisverhogings – die eerste in vyf jaar – nou formeel ’n dooiepunt bereik.

Napwu se algemene sekretaris, mnr. Petrus Nevonga, het Dinsdag aangekondig dat die kantoor van die arbeidskommissaris ’n sertifikaat van ’n onopgeloste geskil uitgereik het. Nantu se sekretaris-generaal, me. Loiude Shaanika, was ook teenwoordig.

Die vakbonde sal hul lede nou nader oor die pad vorentoe. Nevonga sê ’n meerderheidstem sal nodig wees vir enige plan van aksie, wat ’n staking kan insluit.

Die vakbonde het Maandag met verteenwoordigers van die regering onderhandel, maar was nie tevrede met die regering se nuutste aanbod vir beter vervoer- en behuisingstoelae vir 2022/2023 nie. Die regering hou voet by stuk daar is tans geen geld vir algemene salarisverhogings nie.

Spesifiek het die regering aangebied om vir die boekjaar 2022/2023 behuisingstoelae met 14,5% te verbeter, teenoor ’n oorspronklike aanbod van 4,5%. Verder word 7% meer vir die behuisingsubsidie toepaslik op werknemers onder bestuursvlak en 12% meer vir betrokke bestuurders gebied.

Vervoertoelae sou met 14% teenoor die oorspronklike aanbod van 10% verhoging gebied word in terme van die regering se nuutste aanbod. Geen verbetering van voordele was vir die boekjaar 2021/2022 gebied nie.

Nevonga het beklemtoon dat geen salarisverhoging vir reeds die vyfde opeenvolgende boekjaar sedert 2018/2019 toegestaan is nie. “Die regering se posisie om aanhoudend niks te bied nie, word deur die twee vakbonde beskou as oneties, onsensitief en sonder behoorlike inagneming van die lot van staatsamptenare,” sê hy.

Hy sê die vakbonde sal nou die arbeidswet volg en na hul lede terugkeer om hul besluit oor die pad vorentoe te hoor. Die vakbonde sal onmiddellik vasstel wat hul lede wil doen en dit so spoedig moontlik in ’n stemproses toets, waarna die organisasies volgens die meerderheidstem sal optree. “Ons is georganiseerde vakbonde met strukture en verteenwoordigers in die werksplek. Werkers sal ingelig word en elkeen sal stem,” sê hy.

Gevra oor onlangse stellings van president Hage Geingob dat daar bloot nie geld vir salarisverhoging is nie, sê Nevonga: “Die president is die hoof van die regering en ’n werkgewer. Ons is vakbonde en ook burgers van hierdie land, wat ekonomiese data kan ontleed en die begroting verstaan. Die belangrike feit is dat staatsamptenare geen salarisverhoging vir vyf jaar ontvang het nie,” dring hy aan.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer