Namibiese Vakbond vir Staatsdienswerkers (Napwu) se algemene sekretaris mnr. Petrus Nevonga wys die sertifikaat van ’n onopgeloste geskil terwyl die sekretaris generaal van die Namibiese Nasionale Onderwysersunie (Nantu) me. Loide Shaanika langs homs sit. Lede van die twee vakbonde sal volgende week stem oor die moontlikheid van 'n landswye staking.
Foto argief
Namibiese Vakbond vir Staatsdienswerkers (Napwu) se algemene sekretaris mnr. Petrus Nevonga wys die sertifikaat van ’n onopgeloste geskil terwyl die sekretaris generaal van die Namibiese Nasionale Onderwysersunie (Nantu) me. Loide Shaanika langs homs sit. Lede van die twee vakbonde sal volgende week stem oor die moontlikheid van 'n landswye staking. Foto argief

Amptenare stem volgende week

Regering herhaal - daar is nie geld
Staatsamptenare en onderwysers moet nou in 'n verkiesing bepaal of hulle bereid is om vir beter vergoeding te staak. Die proses kan etlike dae duur.
Augetto Graig
Enkele dae voor staatsamptenare en onderwysers kruisies moet trek of hulle kans sien om sonder geld klaar te kom totdat hul deur 'n staking lang verwagte salarisverhogings kan afdwing, het die regering op kabinetsvlak opnuut benadruk hy kan nie aan vakbonde se eise voldoen nie.

Afleggings is selfs genoem as natuurlike gevolg van hoër salarisse.

Die invloed van die staat se reusagtige salarisrekening op die Namibiese ekonomie is reeds vir geruime tyd 'n bron van groot nasionale en selfs internasionale kommer.

Me. Loide Shaanika, sekretaris generaal van die Namibiese Nasionale Onderwysersunie (Nantu), het gister gesê lede van haar vakbond asook van die Namibiese Vakbond vir Staatsdienswerkers (Napwu) sal volgende week aan 'n gesamentlike verkiesing oor die pad vorentoe in verband met salarisverhogings deelneem.

Die regering kan nie bekostig om Napwu of Nantu se eise vir salarisverhogings en beter diensvoorwaardes te betaal nie, het die minister van finansies, mnr. Iipumbu Shiimi, en die minister van inligting en kommunikasietegnologie, dr. Peya Mushelenga, gister tydens 'n gesprek oor die onderwerp gesê. Die praatjie is regstreeks deur die NBC gebeeldsend.

Herhaalde boodskappe dat die regering nie verhogings kan bekostig nie, dateer van voor die kantoor van die arbeidskommissaris se amptelike sertifisering van 'n onopgeloste geskil laat in Mei.

Volgens Mushelenga verstaan die kabinet die swaarkry en moeilike tye waardeur staatsamptenare en onderwysers moet kom. Alhoewel staatsamptenare sedert 2017 geen salarisaanpassing ontvang het nie, is dit volgens hom weens die onvoorspelbaarheid van die ekonomie, wat deur ’n lang droogte, toe deur die Covid-19-pandemie en meer onlangs deur die impak van die oorlog in die Oekraïne getref is.

Mushelenga het gesê die regering konsentreer op die behoud van bestaande poste en die versekering dat hierdie salarisse elke maand betaal word, en om afdankings te vermy. Hy het gesê die verbeterde behuisingstoelaag en vervoertoelae wat die regering vir werknemers aangebied het, sal sowat N$335 miljoen kos. Die vakbonde het die aanbod van die hand gewys.

Die staat was bereid om behuisingstoelae met 14,5% te verhoog, behuisingsubsidies met 7% en vervoertoelae met 14%.

Die minister het beklemtoon dat geen verhogings in die salarisse en toelae van bestuurders en hoër beamptes oorweeg word nie. Napwu en Nantu het egter voorheen gesê 'n beter behuisingsubsidie is ook vir bestuurders aangebied.

Volgens Shiimi sal die 5% algemene salarisverhoging waarop die vakbonde aandring die regering tot N$1,2 miljard kos, en bydrae tot groter uitgawes om vergoeding in die toekoms aan te pas. Dit is in sy mening bloot nie bekostigbaar nie en sou eis dat geld vanaf onderwysinfrastruktuur, gesondheidsbeleggings of die staatspensioenuitbetalings afgetrek moes word.

“Die aanbod wat die regering gemaak het, is wat ons kan bekostig,” het Shiimi gesê.

Shaanika is egter vol vertroue dat vakbondlede sal stem vir aksie wat hul eise sal ondersteun. “Môre (vandag) sal ons met ons leierskap ontmoet. Ons het reeds baie gedoen om stempunte te identifiseer.

"Die volgende stap is om te stem oor die pad vorentoe: Sal ons staak of sal ons nie staak nie?

"Die proses skop volgende week af," het Shaanika gesê. "Natuurlik sal ons ook die werkgewer inlig. Die regering wil weet van waar die stemme gaan kom. Daarna sal ons die lede inlig,” sê sy.

Voorsiening word vir baie stempunte gemaak om te verseker daar is nie onnodige vertragings nie, en sy verwag dat stem en tel nie meer as drie tot vier dae sal neem nie, sê Shaanika. Sy sê die stemproses sal gesaamentlilk deur die twee vakbonde bestuur word aangesien onderwysers soos Napwu-lede ook staatsamptenare is.

- augetto@republikein

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!