Arbeidstoekenning gefnuik

‘Ministerie is magteloos’
Dis 'n algemene praktyk om skuiwergate in die wet te gebruik om verpligtinge in terme van arbeidsgeskille te ontduik.
Augetto Graig
“Die scenario waar ’n maatskappy sy naam of struktuur verander om te verhoed dat wetlike verpligtinge nagekom word, is algemeen,” sê die uitvoerende direkteur van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping, Lydia Indombo.

Volgens haar kan dié praktyk skuiwergate in die wet misbruik, hoewel dit van spesifieke omstandighede en die toepaslike wetlike raamwerk afhang, sê sy.

’n Voorbeeld hiervan is die kwessie van Abraham Gariseb se arbeidsdispuut met Pieter Senekal se Spes Bona Motor Company, waar die arbiter Ndateelela Ndahaf Hamukwaya op 6 Oktober 2021 N$30 000 aan Gariseb toegeken het.

“Hy weier prontuit om die hof se bevel uit te voer,” sê Gariseb oor Senekal se optrede nadat die hoërhof die arbiter se bevinding op 18 Augustus 2022 ’n bevel gemaak het. Gariseb het so ver gegaan om op 6 November 2023 manalleen voor Spes Bona se vertoonlokaal in Windhoek se middestad te betoog.

Senekal het teen 2 Desember 2020 reeds die Spes Bona Motor Company se naam na SP Car Dealers by die Owerheid vir Sake- en Intellektuele Eiendom (Bipa) verander. Volgens Senekal was die naamsverandering nodig aangesien hy die Mahindra-verspreidingsonderneming aan die M&Z-groep verkoop het, ses maande nadat Gariseb –’n Mahindra-verkoopsman – afgedank is.

Spes Bona is in likwidasie geplaas en is gesluit, sê Senekal. Hy dring aan op sy onskuld en sê die kwessie “is alles nonsens”.

Gariseb sê egter die besigheid is steeds operasioneel al is die arbeidsmag van 59 werknemers na net 18 verminder.

“Diegene wat oorgebly het, is van die Maatskaplike Voorsorgfonds (SSC) se registrasie verwyder. My voormalige kollegas werk steeds vir die maatskappy, maar sonder nuwe kontrakte,” brei hy uit.

“Ek het toe diensplanne aan kliënte verkoop en van my kliënte bel my steeds byvoorbeeld uit Rundu. M&Z, wat nou die diens van die voertuie behartig, het Mahindra oorgeneem, maar hulle stuur die faktuur aan Pieter Senekal en hy betaal tot nou toe,” sê Gariseb.

Indombo sê egter die arbeidskommissaris is magteloos in die saak.

“In dié geval is die magte van die arbeidskommissaris of eerder van die ministerie beperk omdat dit nie die wetlike ondersteuning het om Gariseb of enige ander werknemer in soortgelyke omstandighede te beskerm nie.”

Sy sê Gariseb moet die hoërhof nader om beslag op enige eiendom te laat lê.

“As daar geen eiendom is nie, kan hy ’n hofbevel aanvra om die arbiter se toekenning teen Spes Bona af te dwing. Hierdie proses val buite die ministerie se jurisdiksie en vereis dat Gariseb die proses moet inisieer,” sê sy.

Volgens haar erf SP Car Dealers die wetlike verpligtinge van Spes Bona en “die naamsverandering spreek hom nie vry van verantwoordelikhede nie, insluitend dié om die arbiter se toekenning na te kom”.

Om sulke gedrag te ontmoedig, sal die regstelsel versterk moet word, en owerhede kan daaraan dink om boetes en sanksies toe te pas teen maatskappye wat hul pligte op dié manier probeer ontduik, sê Indombo.

Die bevordering van deursigtigheid en aanspreeklikheid sal ook werknemers bemagtig en help om die misbruik van skuiwergate in die wet te voorkom, sê sy.

Indombo waarsku dat dit verkeerd is om te dink werknemers is altyd reg in ’n arbeidsgeskil en sê ’n beslissing in ’n werkgewer se guns is nie die ministerie se skuld nie.

Verlede jaar het die ministerie 2 027 inspeksies by werkplekke uitgevoer om die nakoming van die arbeidswetgewing te bepaal, en 731 soortgelyke besoeke is gedoen om die nakoming van veiligheids- en gesondheidsregulasies by werkplekke te bepaal.

Die ministerie het 4 619 klagtes in verband met basiese werksomstandighede ondersoek, asook 24 klagtes in verband met veiligheid in die werkplek, sê sy.

Al die klagtes oor werksomstandighede is afgehandel, met N$2,23 miljoen wat namens werknemers ingevorder en uitbetaal is, sê sy.

Dit ondanks ’n tekort aan veiligheidsinspekteurs waar slegs 17 uit 47 poste by die ministerie gevul is.

In terme van inspekteurs van werksomstandighede, is 63 poste vakant, en slegs 51 uit 114 inspekteursposte is volgens die uitvoerende direkteur gevul.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 37° Rundu: 23° | 37° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 24° | 34° Ruacana: 21° | 35° Tsumeb: 25° | 34° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 15° | 21° Rehoboth: 20° | 34° Mariental: 22° | 37° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 16° | 34° Ariamsvlei: 21° | 37° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 37° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 16° | 33° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 21° | 36° Windhoek: 20° | 32° Cape Town: 16° | 22° Durban: 19° | 28° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!