Ongelukkige CHICO padbouwerkers staak steeds.
Foto verskaf
Ongelukkige CHICO padbouwerkers staak steeds. Foto verskaf

Asab geskil onopgelos

Padbouwerk meer as ’n week gestop
Die vakbond Manwu en die NEFF was beide uitgesluit van die vergadering tussen die goewerneurs en die CHICO-bestuur.
Augetto Graig
Die onwettige staking by die padbouprojek tussen Tses en Gochas duur steeds voort, ondanks ’n vergadering Dinsdag tussen die streekgoewerneurs van ||Kharas en Hardap, en die bestuur van die China Henan International Cooperation groep, plaaslik bekend as CHICO.

Die Chinese maatskappy het in 2020 die toekenning van die N$530 miljoen kontrak vir die bouwerk verkry en moet na verwagting teen 2025 die paaie voltooi. CHICO se hoofkamp is naby aan die klein nedersetting Asab gebou.

Arbeidsgeskille het egter verlede week tot protes by die kamp naby Asab gelei. Sonder die teenwoordigheid van die erkende vakbond Metaal- en Verwante Werkersunie van Namibië (Manwu), kon mnr. Michael Amushelelo, die ekonomiese kommissaris van die NEFF, die ontevrede werkers oortuig om hul toerusting neer te sit.

Meer as ’n week ná daardie voorval het werk aan die padbouprojek steeds nie hervat nie.

Volgens ’n werkersverteenwoordiger, mnr. Erwin April, kon ’n vergadering Dinsdag tussen die streekgoewerneurs Salomon April (Hardap) en Aletta Fredericks (||Kharas) en CHICO se bestuur nie veel uitrig nie.

“Die vakbond en die werkersverteenwoordigers was nie deel van die vergadering nie, net die twee goewerneurs en die bestuur. Hulle kon dus niks opklaar nie. Die vakbond is deur sy eie lede toegang verbied,” sê mnr. Erwin April.

Hy het bevestig dat geen werk dié week verrig is nie en sê die bestuur het ook nie met die werknemers gekommunikeer nie.

“Daar word nie gewerk nie, behalwe vir administratiewe take en verskillende bestuurders, en die noodgeval werkers by die verkeerspunte op die pad.

“Die NEFF was hier by die perseel, buite met die werkers, maar hulle is ook toegang geweier, omdat hulle geen ooreenkoms van erkenning met die maatskappy het nie,” sê hy.

Goewerneur April het bevestig dat die vakbond en werkersverteenwoordigers nie kon deelneem aan die vergadering nie omdat ander werkers hulle geblokkeer het.

Hy sê CHICO se bestuur sou vandag verdere terugvoering aan die goewerneurs gee, terwyl die goewerneurs ook terugvoering soek vanaf mense wat deur hul afsonderlike kantore vir die werk aanbeveel en later aangestel is.

Hy waarsku die staking is nie net onwettig nie, maar sal ook vir die maatskappy nagevolge hê. “Daar is koste verbonde,” sê hy.

Een werknemer wat anoniem wou bly, sê CHICO het wel notas met werknemers gedeel, waarin die maatskappy waarsku dat die staking onwettig is en dat stakers hul poste kan verloor.

Werknemers wat wil werk, ervaar druk nogtans vanaf hul medewerkers en die situasie is kalm, maar gespanne. “Die gereedskap is nog neergesit sedert (laas) Donderdag. Daar blyk nie binnekort ’n uitweg in sig te wees nie,” sê hy.

“Die vakbond het versuim om laas Donderdag hier te wees. NEFF en Amushelelo het hiervan gebruik gemaak. Van die werkers het nou ’n mondelinge ooreenkoms met hom dat hy hulle sal verteenwoordig. Van die werkers wil die vakbond nou weg hê, maar die ooreenkoms waardeur die bestuur die vakbond erken, is bindend,” sê hy.

Dié werknemer is een van tussen 50 en 150 wat buite die kamp in opslaanhuisies bly. Een eis van die werkers was vir vervoer of akkommodasietoelae om huur van tot N$600 vir ’n sinkhuisie te kan dek.

Goewerneur April sê behuising word nie normaalweg vir padbouwerkers voorsien nie, maar CHICO voorsien wel daagliks vervoer vanaf Tses en Gibeon vir werkers.

Op besoek na die kampperseel het hy klein tente en opslaanhuisies gesien waarin mense bly, maar volgens CHICO is dit mense betrokke by die sekuriteitsmaatskappy en nie CHICO-werknemers wat daarin bly nie.

“Van ons wat hier bly, sien dit eerstehands as ’n politieke slenter. In die kamp word gereedskap nie opgetel nie en daar is sprake van poppe. Dit mag ook later dalk ontaard in ’n etniese kwessie. Wie weet waartoe dit sal ontaard?” sê die anonieme werknemer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!