Ter illustrasie Foto ARGIEF
Ter illustrasie Foto ARGIEF

Boubedryf: Geen geld vir pensioen

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Sommige besighede in die boubedryf sukkel in die huidige onsekere ekonomiese omgewing wat steeds ’n uiters nadelige uitwerking op die sektor het, om werknemers se maandelikse bydraes tot die Namibiese Bouwerkerspensioenfonds (NBWPF) te betaal.

Die Federasie vir Konstruksiebedrywe van Namibië (CIF) en die Metaal- en Verwante Werkersunie van Namibië (Manwu) het in Mei 1990 saamgewerk om dié sambreelfonds vir die bedryf te stig. Dit is om te verseker die mees kwesbare werknemers het voldoende maatskaplike beskerming en relatiewe finansiële sekuriteit met aftrede.

Volgens die CIF se uitvoerende hoof, Bärbel Kirchner, moet alle lede wat aan die federasie behoort, voldoen aan ’n gedragskode wat in beginsel beteken hulle ondersteun die pensioenbydraes.

“Besighede wat in die verlede bydraes gemaak het, sukkel tans weens die gebrek aan werk in die sektor om daarmee voort te gaan. Baie sien dit as deel van ’n maatreël om verdere afdankings te vermy,” het sy by navraag gesê.

Die voortgesette ontwikkeling van die NBWPF word ondersteun deur bepalings in die tweejaarlikse onderhandelde Gesamentlike Ooreenkoms tussen CIF en Manwu. Dié ooreenkoms bepaal die minimum loon sowel as die minimum werksvoorwaardes in die boubedryf.

Volgens Kirchner sluit dit in werkgewers in die bedryf moet hul werkers, soos vervat in die kategorieë gelys in die Gesamentlike Ooreenkoms, by ’n pensioenfonds registreer. Die voorkeur pensioenfonds is die NBWPF as sambreelfonds vir die bedryf.

“Werkgewers en werknemers kan egter ook besluit op ander pensioenfondse wat soortgelyke of selfs beter voordele bied.”

Kirchner sê die getekende ooreenkoms word na die ministerie van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping gestuur, in die Staatskoerant gepubliseer en is gevolglik van toepassing op elke werkgewer.

Die CIF is bewus van sommige maatskappye wat nie hul werkers registreer soos volgens die kategorieë van die Gesamentlike Ooreenkoms en enige bydraes namens hul werkers maak nie.

“Sommige besighede ignoreer blatant hierdie wetlike vereistes. Dit is egter meestal die wat nie CIF-lede is nie.”

Dit is juis om dié rede dat die federasie wil sien dat meer besighede in Namibiese besit kontrakte in die beide die private en staatsektor kry.

“Dit is nie net belangrik in terme van werkskepping en die bou van kapasiteit in die land nie, maar ook in terme van ’n doeltreffende bydrae tot regeringsinkomste en die bou van ’n toekomstige veiligheidsnet wanneer iemand in die bedryf aftree.”

Manwu se sekretaris-generaal, Justina Jonas, het veral kommer uitgespreek oor buitelandse kontrakteurs wat nie by die bepaalde vereistes vir pensioenbydraes hou nie.

“Ons het tydens ons jaarlikse inspeksies van persele gesien talle projekte wat deur buitelandse kontrakteurs bestuur word, registreer nie hul werkers by ’n fonds nie. Daar is geen behoefte om na hul werkers om te sien wanneer hulle die einde van hul werksfase bereik het, om armoede te bestuur en hul lewenskwaliteit tydens aftrede te verbeter nie,” het Jonas gesê.

Die NBWPF se hoofbeampte, Enwich Kazondu, het beklemtoon alle werkgewers in die bedryf, ongeag of hul CIF-lede is of nie, is wetlik verplig om te verseker hul werkers is by ’n pensioenfonds geregistreer en die onderskeie bydraes word deur die werkgewer en werknemers gemaak.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 18° | 23° Oshakati: 21° | 24° Ruacana: 21° | 26° Tsumeb: 19° | 24° Otjiwarongo: 15° | 25° Omaruru: 18° | 28° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 17° | 22° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 17° | 21° Rehoboth: 19° | 29° Mariental: 22° | 31° Keetmanshoop: 25° | 36° Aranos: 23° | 33° Lüderitz: 17° | 24° Ariamsvlei: 28° | 39° Oranjemund: 16° | 24° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 22° | 31° Lubumbashi: 17° | 22° Mbabane: 18° | 30° Maseru: 19° | 32° Antananarivo: 15° | 30° Lilongwe: 19° | 26° Maputo: 23° | 35° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 19° | 24° Durban: 22° | 30° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 18° | 24° Harare: 17° | 24° #REF! #REF!