Floreer, eerder as om net te oorleef

Moraal in die werkplek onder die loep
Byna 60% van werknemers in lande suid van die Sahara – Namibië ingesluit - het stilweg van hul werk onttrek.
Henriette Lamprecht
Namibië is een van die lande suid van die Sahara waar 70% van werkende mense aktief na ’n nuwe werk soek. Dié streek het volgens Gallup se jongste fokus en wêreldwye meningspeiling oor die welstand van werknemers in die werksplek, die hoogste streekpersentasie van werknemers wat aktief na nuwe werk soek. Die streek het ook die derde hoogste streekpersentasie van daaglikse stres wat ervaar word, sowel as woede. Sowat 50% van respondente in die betrokke lande suid van die Sahara sê dit is nou ’n goeie tyd om ’n werk te kry, 20% voel hulle floreer by hul werk, terwyl byna 60% egter sê hulle het stilweg onttrek (quiet quitting) sonder om werklik te bedank. Sowat 46% ervaar stres en 26% angs.

Een van die kategorieë wat in die opname onder werknemers gebruik word om tevredenheid - al dan nie - te bepaal, is die betrokkenheid en entoesiasme van personeel in hul werk en ook werkplek. Werknemers raak betrokke by hul werksomgewing wanneer daar in hul basiese behoeftes voorsien word, hulle die geleentheid het om ’n bydrae te lewer, ’n sin van “behoort” het, sowel as geleenthede kry om te leer en te groei. Dié werknemers floreer en is baie betrokke by- en entoesiasties oor hul werk en werkplek. Gallup beskryf hulle as sielkundige “eienaars”, wat prestasie en innovering dryf en die maatskappy vorentoe laat beweeg. Die teenoorgestelde is egter van toepassing op dié wat hulself stilweg onttrek en op sielkundige vlak glad nie aan hulle werk of die maatskappy geheg is nie. Omdat daar nie ten volle in hul behoeftes voorsien word nie, sit dié werknemers wel die tyd in, maar geen energie of passie nie. Waar die laasgenoemde groep stilweg onttrek, sê Gallup daar is ’n derde kategorie waar werknemers met groot geskal hul misnoeë uitbasuin. Hulle is nie net ongelukkig by die werk nie, hulle is gegrief dat daar nie in hul behoeftes voorsien word nie en maak hul ongelukkigheid duidelik. Daagliks ondermyn dié werkers potensieel wat hul betrokke kollegas kan bereik.

Gallup meet ook hoe werknemers hul lewens ervaar. Stappe om dit te bepaal, sluit in ’n evaluering van hul lewens, daaglikse negatiewe emosies, uitbranding en hoe sterk hulle glo die maatskappy waarvoor hulle werk, gee om oor hul welstand.

Volgens Gallup se data wat fokus op werknemers se welstand, floreer 33%, 55% sukkel en 11% beskou hul omgewing en werksomstandighede as “lyding”. Die opname beklemtoon die welstand van werknemers is belangrik omdat dié wat floreer, daarvoor sorg dat die werksplek en natuurlik die maatskappy ook floreer. Wanneer werknemers egter sukkel, negatiewe emosies ervaar of uitgebrand voel, ly die maatskappy daaronder.

Dit beklemtoon ook die belangrike rol wat bestuur in die welstand van werknemers en ook die welvaart van die maatskappy speel. Dié sentiment word perfek opgesom deur Gallup se uitvoerende hoof, Jon Clifton: “Wat kan leiers vandag doen om potensieel die wêreld te red? Verander die manier waarop jou mense bestuur word.”

Swak bestuur lei tot die verlies van kliënte en winste, maar ook tot misrabele lewens. Gallup se navorsing oor welstand by die werk het tot die gevolgtrekking gekom om ’n werk te hê wat jy haat, is erger as om werkloos te wees. Dié negatiewe gevoelens spoel weer oor na die huis en raak mense se verhoudings met hul gesinne. As jy nie by jou werk floreer nie, is die kans maar skraal dat jy floreer in jou persoonlike lewe. Die verslag weerspieël die stemme van die wêreld se werknemers om leiers te help om beter besluite te neem. Leiers en/of bestuurders kan begin om te fokus op dié werknemers wat die meeste sal baat en wen. Byna ses uit tien is besig om stilweg te onttrek, maar die meeste is geneig om weer betrokke raak as ’n paar veranderinge aan hul werksomgewing gemaak word. Nog ’n oplossing is om dié werknemers ’n beter bestuurder te gee. Deur oor te skakel na bewese, wetenskapsgebaseerde bestuur, kan maatskappye die rigting van die ekonomie draai.

Die verslag maan egter stres onder werknemers bly op ’n historiese hoogtepunt, selfs al het negatiewe emosies afgeneem wat met die Covid-19-pandemie verband gehou het.

Die hoë stresvlak kan toegeskryf word aan die wêreld se herstel omdat baie streke in die wêreld steeds sukkel om hoë inflasie te beheer.

Soos leiers in maatskappye poog om ’n onsekere ekonomiese vooruitsig te bestuur, het hul werknemers se stres ’n invloed op hul produktiwiteit en prestasie.

Die verslag maan dit is daarom nodig dat dit vir maatskappye ’n topprioriteit moet wees om werknemers se welstand ernstig op te neem en te verbeter.

Werknemers wat floreer, vind hul werk betekenisvol en voel hulle het ‘n band met die span en hul werkgewer. Hulle voel trots op die werk wat hulle doen en neem eienaarskap en stap die ekstra myl vir spanlede. Dié wat egter stilweg onttrek, vul net ’n stoel en hou die horlosie dop totdat dit tyd is om huis toe te gaan. Hulle doen die nodige minimum, en hulle is sielkundig ontkoppel van hul werkgewer. Dit is ook dié werkers wat, hoewel hulle die minimum doen, die meeste geneig is om spanning en uitbranding te ervaar omdat hulle verlore en nie deel van hul werksplek voel nie. Werkers wat openlik onttrek, neem egter aksie wat die maatskappy direkte skade aandoen, ondermyn doelwitte en staan hul leiers teë. Iewers langs die pad het die vertroue tussen dié werknemers en hul werkgewer ‘n ernstige knou gekry. Aan die ander kant kan dit egter ook wees dat die werknemer totaal ongeskik is vir ’n sekere rol wat voortdurend een of ander krisis veroorsaak.

Die verslag beklemtoon leierskap en bestuur het ’n direkte invloed op die werkplek en daar is baie wat gedoen kan word om te verseker hul werkers floreer. Dié wat stilweg onttrek, is dikwels om dié rede ’n maatskappy se grootste geleentheid vir groei en verandering.

Werknemers wag vir ’n leier of bestuurder om ’n gesprek met hulle te hê, hulle aan te moedig en te inspireer. Volgens die verslag vul die meeste werknemers in ’n tipiese organisasie bloot ’n stoel en moet hulle nog eienaarskap van hul werk aanvaar. Deur dié nie werkers te betrek nie, mis leiers uit op ‘n groeigeleentheid vir hul onderneming. Om werknemers werklik te betrek beteken hulle verstaan wat hulle moet doen, hulle kry wat hulle nodig het en het ’n ondersteunende bestuurder en ’n ondersteunende span. Hulle weet hul werk maak saak.

Die klem is dus op die bestuurder wat die spilpunt van betrokkenheid is - met 70% van ’n span se betrokkenheid wat toegeskryf kan word aan die bestuurder se optrede. Daar is egter ook bevind dat baie of meeste bestuurders ook stilweg onttrek en wag vir die toerusting en vaardighede om goeie, betrokke spanne te bou. Die goeie nuus is dat wetenskapgebaseerde bestuur geleer kan word. – Bron: www.gallup.com

*Gallup, Inc. is ’n Amerikaanse ontledings- en raadgewende maatskappy gebaseer in Washington, D.C. Dit is in 1935 deur George Gallup gestig en die maatskappy is bekend vir sy openbare meningspeilings wêreldwyd.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!