• Tuisblad
  • Arbeid
  • Geen rekord van onregmatige afdanking, rassisme by Erindi
Ongelukkige werknemers wat by Erindi afgedank is, kamp al 'n geruime tyd buite die luukse private wildreservaat se hek. Foto cheetah.org
Ongelukkige werknemers wat by Erindi afgedank is, kamp al 'n geruime tyd buite die luukse private wildreservaat se hek. Foto cheetah.org

Geen rekord van onregmatige afdanking, rassisme by Erindi

Oudwerknemers kamp steeds voor hek
Die werknemers het nie aan die dissiplinêre proses - wat deur 'n onafhanklike entiteit hanteer is - deelgeneem nie, en ook versuim om 'n appèl in te dien.
Augetto Graig
Geen amptelike klag is by die ministerie van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping op rekord dat sommige voormalige werknemers van Erindi onregmatig afgedank is of slagoffers van rassisme of mishandeling was nie. Volgens die minister, mnr. Utoni Nujoma, is arbeidsinspekteurs op 25 Februarie na die groep van sowat 20 mense gestuur wat voor die hek van die private wildreservaat uitkamp. Die doel was ook om met Erindi se bestuur te vergader. Nujoma sê geen amptelike klag van onregmatige afdanking is by die ministerie op rekord nie. Hy het die geraakte werknemers aangemoedig om amptelik klagtes in te dien. Volgens Nujoma kan hy as minister nie die ontslaande werknemers weer laat aanstel nie, maar moet die regsproses deur die kantoor van die arbeidskommissaris sy loop kan neem.

Die groep se volgehoue teenwoordigheid word glo aangespoor deur ’n nuwe vakbond, die Namibia Commercial, Catering Food and Allied Workers Union (NACCFWU). Dié groep wil die Namibiese Unie vir Voedsel- en Verwante Werkers (Nafau) as die werknemers se verteenwoordiger vervang. Hulle dring aan op skeidingspakkette, uitbetaling van verloftoelae en dat Erindi dissiplinêre klagte moet laat vaar. Daar is ook onmin oor wie vir onderhandelingsdoeleindes oorweeg moet word.

Die ondersoekspan van die ministerie het die kamp onnet, sonder ablusiegeriewe of mediese toerusting en met informele strukture sonder ventilasie gevind.

“Gegewe die risiko vir hierdie werknemers se gesondheid en veiligheid, word belanghebbers aangemoedig om so vinnig as moontlik ’n oplossing te vind en onvoorsiene omstandighede te vermy,” het Nujoma gesê.

“Die ondersoek kon ook nie vasstel of die beweerde rassisme en diskriminasie wel waar is nie,” het die minister gesê.

Nujoma het gereageer op die Popular Democratic Movement (PDM)-parlementslid, mnr. Kazeongere Tjeundo, se vrae oor die lot van die groep wat volgens Tjeundo vroeër by Erindi afgedank is, die wildreservaat moes verlaat het en noodgedwonge voor die hekke moet kamp. PDM-leiers het volgens hom die groep besoek waar die "wreedste vorms van uitbuiting van werkers - wat herinner aan die donker dae van apartheid - aan die lig gekom het". Hy het na aantygings verwys dat swart werknemers glo gemartel is, na bewering nie in die restaurant mag eet nie, of glo interaksie met hul wit kollegas mag hê nie.

"Een werker het vir ons vertel hoe hy in een voorval geslaan en aan 'n boom vasgemaak is," het Tjeundo sy mede-parlementslede meegedeel.

Vroeëre vrae aan Erindi is deur mnr. Charles Visser, die direkteur van die regsfirma ENSafrica Namibia wat die reservaat verteenwoordig, beantwoord. Hy het gesê hulle is bewus van die groep oudwerknemers wat voor die hekke kamp. "Ons bevestig dat die werknemers deur ons klient afgedank is na 'n interne dissiplinêre proses voltooi is. Die klagte het onder andere valse aantygings, onbeskoftheid, oneerlikheid en ongehoorsaamheid ingesluit."

Die werknemers het nie aan die dissiplinêre proses - wat deur ’n onafhanklike entiteit hanteer is - deelgeneem nie, en ook versuim om ’n appèl in te dien. Visser sê uitbetaling van verlof is gedoen en salarisse tot op die datum van afdanking is betaal. Hulle was geregtig daarop om nog dertig dae ná afdanking in huise op Erindi te bly, maar het nie, het hy gesê.

In reaksie op vrae oor die aantygings van rassisme en mishandeling van werknemers het Visser gesê: “Die ongegronde bewerings waarop die [parlements]lid se vrae blykbaar gebaseer is, is vals, onregmatig en lasterlik van aard. Die lid het ongelukkig geen stappe gedoen om ons kliënt te betrek in 'n poging om die waarheid vas te stel nie.”

Tjeundo het toe ook nog nie op sy pogings tot korrespondensie gereageer nie, het Visser gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!