Howe trek stakingsreg se tande

Augetto Graig
Twee menseregteprokureurs meen die hooggeregshof se onlangse bevinding ondermyn die doeltreffendheid van die reg om te staak en sê sukkelende, onderbetaalde werkers in Namibië word nog verder ontmagtig.

Die hooggeregshof het verlede week sy bevindinge bekend gemaak in 'n saak tussen Shoprite Namibia en die Namibiese Unie vir Voedsel- en Verwante Werkers (Nafau) oor 'n staking by die winkelreus in Desember 2020.

Regters Sylvester Mainga, Dave Smuts en Elton Hoff het Shoprite se appèl teen 'n vroeëre hoërhofbeslissing gehandhaaf dat werknemers wat nie aan die staking deelgeneem het nie wel die werk van stakers mag doen.

Volgens die land se hoogste hof verbied die Arbeidswet bloot ’n werkgewer om werknemers te dwing om die werk van stakers te doen. As ’n werknemer vrywillig die werk wil doen, is dit nie teen die wet nie.

Volgens beide mnr. Nixon Marcus en me. Uno Katjipuka-Sibolile is die bevinding ’n tragedie vir werknemers. “Dis erg,” sê Marcus. “Dit wis (prakties) die reg tot staking uit.”

As gevolg van hierdie beslissing word regter Shafimane Ueitele se vroeëre bevinding dat Shoprite oortree het deur tydelike werkers gedurende die staking aan te stel, omgekeer en sy bevel van 9 Januarie 2021 dat Shoprite dié praktyk moet staak, word tersyde gestel.

Ook Ueitele se aandrang dat bestuurders nie gebruik mag word om stakers se werk te doen nie, is nietig verklaar.

“Die hof het die kant van die werkgewers gekies,” sê Marcus.

“Hoe sal dit gemonitor word om vas te stel dat niestakende werkers vrywillig stakende werknemers se werk doen? Dit ignoreer die magsverhouding tussen werkgewer en werknemer. ’n Versoek van die werkgewer kan net so wel as ’n bevel gesien word, as mens die werklikheid in ag neem,” sê hy.

Katjipuka-Sibolile sê: “Onthou, die staking was vir ’n verhoging van die minimumloon, sodat Shoprite-werkers nie minder as N$3 000 per maand moet verdien nie. Hulle het ook ’n vervoertoelaag gevra, omdat dit tot N$1 000 per maand kan kos net om by die werk te kom.

“Met wat oorbly, moet verblyf, kos vir die familie, kinders by die skool kry, en soveel ander koste gedek word. Mense het bloot ’n leefbare loon gesoek,” sê sy.

Al uitweg is nou vir vakbonde om te mobiliseer en die parlement te nader om die wetgewing te verander en nog strenger te maak. Regslui sal altyd skuiwergate soek en die howe speel saam om in die guns van werkgewers te bevind, beweer Marcus.

Een van die punte wat die hof uitwys, is dat die reg om te staak nie die reg insluit om 'n werkgewer se bedrywighede heeltemal tot stilstand te ruk en 'n onderneming se reg om sake te doen sodoende kort te knip nie.

Shoprite was egter onsuksesvol met sy aansoek dat die maatskappy se skuldigbevinding aan minagting hersien moes word.

Regters Smuts, Hoff en Mainga was uiters krities oor die hantering van die hersieningsaansoek en het bevind dat Shoprite se regspan die hof probeer mislei het deur feite te verswyg en die hersieningsaansoek probeer gebruik het om die klag van minagting vry te spring.

Katjipuka-Sibolile beskryf die uitslag egter as ’n hol oorwinning.

Sy hoop die volgende stap in die arbeidshof (vonnisoplegging) geskied so vinnig as moontlik, hoewel die straf heel moontlik nie swaar sal wees nie.

“Waarskynlik sal dit op ’n boete neerkom, hoewel tronkstraf moontlik is. Die bedrag van die boete sal na verwagting nie vir die oortreders juis pynlik wees nie. Selfs as die direkteure uit hul eie sakke moet betaal, verdien hulle soveel dat dit waarskynlik nie betekenisvol sal wees nie,” voeg sy by.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!