WOrkers
WOrkers

Minimum loon sal nie lewens vergemaklik, sê kenner

Amushelelo wonder of dit ’n verkiesingsfoefie is
Hoewel kenners meen dat die minimum loon 'n goeie grondslag en vertrekpunt is, beweer hulle dit is nie genoeg nie.
Jemima Beukes
Kritiek is onlangs uitgespreek oor die minimum loon van N$18 per uur wat deur die regering bekend gemaak is en na verwagting in Januarie 2025 in werking sal tree.

Die arbeidskenner Herbert Jauch het gesê dat hierdie minimum loon ’n kompromie is en alhoewel dit die uiters laagbesoldigde werkers soos plaas- en huiswerkers sal ophef, dit hul lewens kwalik makliker sal maak.

Die ministerie van arbeid, nywerheidsverhoudinge en werkskepping het die naweek in sy aankondiging beklemtoon dat die pas bekendgestelde minimum loon as die laagste loon wat ’n werkgewer aan ’n werknemer mag betaal (floor wage) moet dien en maatskappye nie die salarisse van hul personeel op grond van dié loon moet verminder nie.

“Die N$18 per uur is ’n kompromie. As jy kyk na die Namibiese Grondwet wat ’n lewensloon vereis, dan is dit ver onder daardie bepaling.

“As ons egter kyk na die uiters lae lone van die werkers in die kleinhandel, asook plaas- en huiswerkers, is dit so laag dat dit dikwels onder N$10 per uur is. Dan kan dit hulle ophef om ten minste meer as N$1 000 te verdien.”

Jauch het bygevoeg dat hulle eers moet kyk of dit wel geïmplementeer gaan word, aangesien talle bepalings van die Arbeidswet nie geïmplementeer word soos dit behoort te wees nie.

“Dit kan egter net ’n goeie ding wees wanneer dit geïmplementeer word en ons dit kan bereik, want lone is steeds te laag. Dit sal baie sterk vakbonde verg wat kan verseker dat dit geïmplementeer word en vir meer kan onderhandel,” het hy gesê.

Volgens hom is daar steeds werkers wat sonder dienskontrakte en betaalde siekverlof is en meen dit kom dikwels in sektore voor wat die swakste vakbonde het.

“Dan weet ons dat die arbeidsinspekteurs hopeloos is. Ons sal moet sien hoe implementering onder hierdie omstandighede gaan plaasvind.

“Wat in plek moet wees, is ’n blitslyn (hotline) waar werkers hul werksomstandighede kan blootstel en owerhede kan waarsku. Daar is ’n behoefte aan so ’n meganisme wat werkers in staat sal stel om voorvalle aan te meld sonder om geviktimiseer te word,” het Jauch gesê.

LANDBOUSEKTOR

Die Landbouwerkgewersvereniging (LWV) se bestuur teken ten sterkste beswaar aan, veral nadat in 2021 gevra is vir kwytskelding van die minimum loon, omrede die landbousektor eiesoortig behuising, kontant en voorsiening vir lewensbehoeftes insluit.

"Die arbeidsministerie se infaseringsmodel met sy geweldige spronge is onhaalbaar en onbekostigbaar," sê die LWV.

"Die landbougemeenskap staan landswyd midde die ergste droogte in 100 jaar waarvolgens president Nangolo Mbumba reeds ’n ramptoestand aangekondig het. Sulke aanpassings is ondeurdag."

Die LWV meen werkskepping en die behoud van werksgeleenthede is in gevaar en werksverliese kan nie uitgesluit word nie.

"Die regering druk hierdie verhoging ten koste van ekonomiese groei en werkskepping."

Die hoofbeampte van die LWV, Danie van Vuuren, het gister tydens die organisasie se 36ste jaarkongres in Windhoek aan Francoise Steynberg van Agri Monitor bevestig dat ‘n dringende gesprek met die arbeidsministerie aangevra is tesame met die ander rolspelers binne die NALF (Namibië Landbou-arbeidsforum.

AMUSHELELO

Die aktivis Michael Amushelelo het Jauch se sentimente gedeel en meen dat die N$18 per uur in stryd is met die Namibiese Grondwet wat bepaal dat die staat “aktief die versekering behoort te bevorder dat werkers ’n lewensloon betaal word wat voldoende is vir die handhawing van ’n ordentlike lewenstandaard”.

Hy meen die regering behoort dus ’n lewensloon in plaas van ’n minimum loon te bevorder.

“Dit is wonderlik om daarop te let dat die kabinet uiteindelik wakker geword het en besef het dat die meerderheid van ons mense steeds uitgebuit word.

“Die voorgestelde N$18 per uur word verwelkom, maar wetende hoe die kapitalistiese stelsel werk, sal hulle waarskynlik die werksure van die werkers moet verminder om seker te maak dat werkers dieselfde lae lone betaal word,” voorspel Amushelelo.

Hy het bygevoeg ’n veiligheidswag wat tans N$8,75 per uur verdien, werk 12 uur per dag vir 28 dae en verdien gemiddeld N$2 940 per maand. Die wag sal sowat N$6 048 per maand verdien as die nuwe loon van N$18 per uur ingestel word.

“Dit is hoekom ek sê die werksure moet dieselfde bly, insluitend die aantal dae. As dit nie gebeur nie, sal werkers se ure verminder word, net sodat werkers lae lone betaal kan word.

“My ander bekommernis is dat hierdie kabinetsvoorskrif eers in Januarie 2025 geïmplementeer sal word. Die groot vraag is of dit net nog ’n verkiesingsfoefie is of is dit iets opreg wat die regering eerder voor die November-verkiesing moet implementeer sodat werkers kan sien dit is iets,” het Amushelelo gesê.

’N VERTREKPUNT

Die verteenwoordiger van die vakbond vir Namibiese professionele media (Nampu), Esther Mbathera, het die belangrikheid van nywerheidsgebaseerde standaarde beklemtoon.

“Dis van kardinale belang om te erken dat die voorgestelde minimum loon nie spesifiseer op watter kategorie dit van toepassing is nie. Vir die mediabedryf moet dit nie as die definitiewe loon gesien word nie, maar eerder as ’n vertrekpunt,” het sy gesê.

Mbathera het die unieke uitdagings wat joernaliste in die gesig staar uitgelig. Sy het opgemerk dat hul werk beduidende risiko’s inhou, veral vir diegene wat betrokke is by ondersoekende en politieke beriggewing, wat ernstige veiligheidsbedreigings kan inhou.

“Joernaliste moet dienooreenkomstig vergoed word. Hulle werk nie vir minimum lone nie; soms waag hulle hul lewens,” meen sy.

Sy het verseker dat sodra Nampu amptelik geregistreer is, die vakbond kragtig sal pleit vir ’n minimum loon wat vir die mediabedryf aangepas is.

“Ons sal ernstig begin druk vir ’n minimum loon spesifiek vir ons bedryf," het sy bygevoeg.

‘DIS NIE GENOEG’

Die hoofsekretaris van die Metaal- en Verwante Werkersunie van Namibië (Manwu), Justina Jonas, waardeer die instelling van ’n minimum loon, maar sê dit is nie genoeg nie.

“Dis nie genoeg nie, maar dit dien as grondslag vir ’n arbeider omdat ’n arbeider in die konstruksiebedryf min of meer daar is.

“As jy N$18 per uur kry, kry jy bykomende vergoeding vir oortyd. Werkers het steeds die reg op kollektiewe bedinging om hul salarisse te verbeter.

“Voorheen was daar niks en nou is daar iets en ons as arbeidersbewegings behoort dit te waardeer.”

[email protected]

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!