ON THE SIDELINES: Close to 100 Otjikoto Mine employees are now on suspension. PHOTO: CONTRIBUTED
ON THE SIDELINES: Close to 100 Otjikoto Mine employees are now on suspension. PHOTO: CONTRIBUTED

Mynwerkers op straat oor gesloer met permit

MUN veroordeel arbeidsminister se optrede
Die werknemers het by monde van die Mynwerkersunie van Namibië hul kommer uitgespreek oor die hantering van die permit.
Ogone Tlhage
Die hoofsekretaris van die Mynwerkersunie van Namibië (MUN), mnr. Ebben Zarondo, sê staatsamptenare wat as reguleerders optree maar ook private sakebelange behou, bedreig die regulatoriese rol wat die staat in arbeidsaangeleenthede moet speel.

Hy het hierdie opmerkings gemaak ná 'n dispuut tussen werkers van die Otjikoto-myn en B2Gold, wat die myn besit en bestuur.

Volgens hom het die minister van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping, mnr. Utoni Nujoma, sy voete gesleep met die ondertekening van ‘n aaneenlopende bedryfs- en vrystellingspermit wat werksure bepaal.

Mynwerkers was ontevrede met sy optrede, wat gevolglik gelei het tot die skorsing van byna 100 werknemers by dié myn.

Nujoma het na bewering die datum op die permit na 1 Junie 2021 verander, wat die optrede van werkers – wat destyds geldig was ten opsigte van die permit – ongeldig gemaak het, het Zarondo tydens ‘n media-inligtingsessie gesê.

Die werknemers het by monde van die MUN hul kommer uitgespreek oor die hantering van die permit.

Nujoma se beweerde optrede het beteken dat die werknemers die maatskappyreëls oortree het, het hy bygevoeg.

MINISTER HEG NIE WAARDE AAN WERKERS SE KOMMER

“In sy brief aan B2Gold Otjikoto-myn het die minister die bedryfspermit teruggedateer, wat beteken dat dit terugwerkend gedoen word en sodoende die optrede van werknemers wat in daardie stadium geldig en redelik was, ongeldig maak. Optrede wat nie destyds wangedrag sou wees nie, sal nou as ‘n oortreding beskou word weens die terugdatering van die minister se brief,” het hy gesê.

Die permit met die veranderde datum is toe gebruik om die 100 mynwerkers te skors, het die hoofsekretaris gesê.

“Sakemense wat botsende belange in hul amptelike hoedanighede kan ervaar, moet nie as openbare amptenare aangestel word nie en diegene wat hulself in hierdie konflik bevind, moet onmiddellik uit die openbare amp bedank en nie die regte van die Namibiese werkers weens hul belange in gevaar stel nie,” het hy gesê.

GEEN REGVERDIGE GELEENTHEID NIE

Die vakbond het beweer hy het nie gelyke en regverdige geleentheid gekry om sy kommer oor die kwessie te opper nie.

“Die minister het voortgegaan en die MUN daarvan beskuldig dat ons geweier het om ‘n standpunt oor die kwessie in te neem sonder om die vakbond die geleentheid te gee om sy kant van die storie te stel,” het hy gesê.

Zarondo het gedreig om regstappe teen Nujoma te neem, sou hy nie die permit terugtrek nie, en het sy optrede veroordeel.

“Ons veroordeel hiermee die minister se optrede ten sterkste en doen ‘n beroep op hom om die verklaring terug te trek met ’n wysiging wat die werklike situasie op die grond stel.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer