Namibië toets vierdagwerksweek
Werkgewers lug besware
Tucna verwelkom die loodsprojek wat na verwagting in April vanjaar sal afskop.
Die proeflopie vir werknemers in Namibië om net vier dae per week te werk kom al hoe nader.
Dié loodsprojek sal Namibië slegs die tweede land in Afrika maak, en een van ’n handjievol in die wêreld, wat die toepaslikheid van ’n vierdagwerkweek prakties in April sal toets.
4 Day Week Global het onlangs aangekondig dat hy ná sy suksesvolle proewe in Suid-Afrika nou dieselfde konsep in Namibië wil implementeer.
Die internasionale beweging se Namibiese vennoot, Jonas Ileka, sal die 100-80-100-konsep na Namibië bring, wat behels dat 100% van die werk, in 80% van die tyd, teen 100%-salaris verrig word.
Ileka sê die loodsprojek sal ses maande duur, met maatskappye wat vanaf begin April sal aansluit en kort daarna met die verkorte werksweek sal begin. Tot dusver het 18 ondernemings ingestem om deel te neem, insluitend maatskappye in bankwese, telekommunikasie, kleinhandel, bemarking en die kunste, sê hy.
“Die doel van die proeflopie is om te bepaal of die organisasies gereed is vir ’n vierdagwerksweek,” sê hy, en dat navorsing, data-insameling en ontleding oor produktiwiteit, inkomste, werkstevredenheid, werknemerswelstand en afwesigheid voortdurend onderneem sal word.
“Vir diegene wat nie gereed is nie, sal die data hulle help om te bepaal hoe ver hulle is,” sê Ileka.
Die Namibiese Werkgewersvereniging (NEA) het die inisiatief egter verlede week in ’n verklaring as “’n pypdroom wat ver verwyderd is van die werklikheid” beskryf.
Henry Bruwer, die president van die NEA, sê dié vereniging is glad nie oor die loodsprojek genader nie, en dra geen kennis van planne om ֹ’n vierdagwerksweek in Namibië in te stel nie.
“Dit blyk dat dit ’n private inisiatief is, met ’n buitelandse konsultant aan die voorpunt, en wat deur ’n plaaslike konsultant geïmplementeer word,” skryf hy.
Volgens Bruwer kan dit ’n negatiewe impak op die ekonomie hê; veral op gesondheidsorg, gasvryheid en kleinhandel, wat almal reeds arbeidsuitdagings in die gesig staar, en moet worstel om diensvlakke met minder werknemers te handhaaf, as werkers net vier dae per week werk.
“’n Korter week sal produktiwiteit in bedrywe verlaag wat op tydsgebaseerde produksie staatmaak. Werkgewers sal dalk in outomatisering moet belê, of bykomende werkers moet aanstel om uitsetvlakke te kan handhaaf,” voeg hy by.
Volgens Bruwer sal dit ’n administratiewe las vir ondernemings wees om ’n vierdagwerksweek toe te pas, en om die huidige werkmodel aan te pas sal bykomende moeite en bates verg, lig hy uit.
“As produktiwiteit nie toeneem in ooreenstemming met die verminderde werksure nie, kan daar ’n verlaging in die algehele ekonomiese uitset (BBP) wees. Dit het ’n impak op belasting en staatsbesteding,” brei hy uit.
“’n Vierdagwerksweek sal spesifiek verhoogde bedryfskoste en arbeidskoste vir werkgewers beteken as gevolg van meer oortydbetalings en om meer in outomatisering te belê, terwyl bestuurders die werkvloei, -skedules en bedrywighede sal moet herontwerp. Sekere werknemers sal onder druk kom om al die werk betyds te voltooi, of om meer ure op die oorblywende dae te werk, sê Bruwer.
Onsekerheid oor die sukses en langtermyn-impak van die oorgang na ’n vierdagwerksweek kan ook werkgewers ontstel, sê hy.
“Ons ekonomie staar reeds groei-uitdagings in die gesig, met hoë rentekoerse en hoë werkloosheid aan die orde van die dag. Produktiwiteit was nog altyd ’n kwessie binne talle nywerhede en ’n korter werksweek kan die impak daarop vererger,” sê die NEA se president.
Die sekretaris-generaal van die Vakbondkongres van Namibië (Tucna), Mahongora Kavihuha, beskou die ontwikkeling egter as vordering in ’n eeueoue stryd om werknemers se tyd terug te wen.
“Die kwessie van werksure is ’n lang stryd vir vakbonde. Destyds het werkers tot 20 uur per dag gewerk en die agtuurwerksdag was ’n oorwinning,” sê hy.
Die kwessie van tydsoewereiniteit word volgens Kavihuha in die jongste verslag van die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) oor die toekoms van werk ondersoek.
Volgens hom is dit naïef om in vandag se veranderende arbeidsmark produktiwiteit aan ure in die kantoor of by die werk te koppel.
“Hoekom moet werkgewers altyd enigiets teenstaan wat werknemers bevoordeel? Hierdie kwessie lê ons na aan die hart en ons sal dit deurdruk,” voeg hy by.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie