New Era-hoof brei uit oor Beukes se skorsing

Instruksies ‘deurgaans geïgnoreer’
Die uitvoerende hoof het aangevoer die koerant het onder Johnathan Beukes se bestuur nuus "oordryf" deur sekere woorde te gebruik en skrywers se menings in die artikels in te sluit.
Yandi Du Plessis
Nuusredaksie - Die New Era Publication Corporation (NEPC) het sy geskorste besturende redakteur, Johnathan Beukes, beskuldig van diensweiering en weiering om wettige opdragte uit te voer en gesê hy het die maatskappy se naam in oneer gebring.

Só het Christof Maletsky, die uitvoerende hoof, in ’n memorandum aan die direksie gesê.

Beukes is op 29 September geskors en Maletsky het nou uitgebrei oor ’n reeks gebeure wat gelei het tot die omstrede besluit wat veroordeling van die plaaslike vakbond vir joernaliste en die redakteursforum ontlok het.

In die memorandum wat twee weke ná die skorsing geskryf is, het Maletsky Beukes daarvan beskuldig dat hy verskeie eise geïgnoreer het vir ’n verandering in hoe die koerant oor sekere kwessies verslag doen – met verwysing na verskeie nuusberigte wat volgens hom menings bevat van die joernaliste wat dit geskryf het pleks daarvan om bloot by nuus te hou.

“Vir ’n geruime tyd spreek ek my kommer uit as uitvoerende hoof en hoofredakteur van New Era oor ons professionele gedrag, in terme van skryf, met die besturende redakteur...” het Maletsky geskryf.

Behalwe dat stories “besmet” is met menings, het Maletsky ook gesê New Era het ’n “koerant van lekkasies geword, in plaas van ’n gesaghebbende inligtingsbron”.

NEGATIEWE NUUS

Maletsky, self ’n veteraanjoernalis, het bygevoeg: “Ons voorblad is nou slegs vir negatiewe nuus gereserveer. Sulke negatiewe nuus gaan hoofsaaklik oor die regering en staatsondernemings, sowel as plaaslike en streekrade.”

Hy het gesê sy instruksies vir die koerant om positiewe stories oor menslike belange op die voorblad te dra, is deurgaans geïgnoreer.

Hy het hierdie stories saamgestel met die mandaat van die staatskoerant, wat volgens hom is om oor gemeenskapsverwante kwessies te berig, veral dié wat belangrik geag word vir Namibiërs in landelike gebiede; kwessies van “nasionale belang” en regeringsverwante sake wat die gemeenskap raak.

Die uitvoerende hoof het aangevoer die koerant het onder Beukes se bestuur nuus “oordryf” deur sekere woorde te gebruik en skrywers se menings in die artikels in te sluit. Dit het New Era in ’n slegte lig geplaas en van die koerant se mandaat afgewyk, het hy gesê.

Hy het spesifieke voorbeelde aangehaal en gesê die koerant het berig dat die minister van hoër onderwys, Itah Kandjii-Murangi, “gevange geneem” is.

“Pleks van blote verslagdoening het ons ons eie mening gegee,” het hy gesê.

OOR DIE MENSE

Maletsky het verder ’n probleem gehad met die opskrif “600 000 Namibians face food insecurity” en gesê dit is “uitgedink om negatiwiteit te toon”.

“Dit gaan bloot oor die mense, kameraad,” het Beukes na bewering gereageer toe die uitvoerende hoof hom daaroor aangespreek het.

Maletsky het ook ’n artikel gelys wat vroeër in die week van Beukes se skorsing gepubliseer is, met ’n opskrif “Uproar over Geingob’s genocide remarks” en gesê dit bevat die skrywer se menings.

Hy het na stories oor bewerings van seksuele misbruik by The Namibian en “NamRA in essential services storm” verwys en gesê terwyl die twee organisasies die aantygings ontken het, het New Era voortgegaan om daaroor te berig op ’n “manier wat dit eg laat lyk”.

LAASTE STROOI

Die laaste strooi was ’n hoofartikel wat op 29 September gepubliseer is en die deursigtigheid van die land se regbank bevraagteken.

Maletsky het Beukes daarvan beskuldig dat hy die hoofartikel aangebied het “asof dit die amptelike standpunt van die korporasie [NEPC] is”.

Hy het gesê onder Beukes het New Era se “sogenaamde redaksionele onafhanklikheid te ver gegaan”.

“Ek het hom ook gesê dat ek vorentoe ingelig wil word oor elke voorbladartikel wat ons beplan om te publiseer,” het Maletsky geskryf.

Hy het gesê Beukes is geskors uit vrees dat hy sal voortgaan om instruksies te ignoreer oor hoe die koerant nuus moet aanbied. ’n Dissiplinêre verhoor teen hom is op pad, het die maatskappy bygevoeg.

GEEN KOMMENTAAR

Die vakbond vir Namibiese professionele mediapraktisyns (Nampu) het beweer Beukes is geskors op opdrag van skynhoofde in die ministerie van inligting en kommunikasietegnologie. Dié aantyging is ten sterkste deur die uitvoerende direkteur, Audrin Mathe, ontken.

“Ons het nie hiervan geweet totdat [dit in die koerante was],” het hy Woensdag herhaal.

Peya Mushelenga, die inligtingsminister, het ’n week gelede tydens ’n kabinetsinligtingsessie ook gesê daar steek geen waarheid in die beskuldiging nie.

Beukes het tot dusver sy stilswye oor sy skorsing gehandhaaf en gesê hy mag nie kommentaar oor maatskappysake in die media lewer nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer