Die groot meerderheid van NHE-werknemers het besluit om die staatsonderneming se hekke toe te maak, wanneer hulle staak.
Foto Augetto Graig
Die groot meerderheid van NHE-werknemers het besluit om die staatsonderneming se hekke toe te maak, wanneer hulle staak. Foto Augetto Graig

NHE-werkers stem om te staak

Finansiële druk wurg nasionale behuisingsonderneming
Planne vir honderde nuwe huise is in gedrang te midde van werknemers se stryd om meer betaal te word.
Augetto Graig
Die nasionale behuisingsonderneming (NHE) se werknemers het Vrydag oorweldigend gestem om te staak. Dit volgens die Staatsdiensunie van Namibië (PSUN). Volgens die vakbond se sekretaris-generaal, Matheus Haakuria, is die werkers se boodskap duidelik: “Genoeg is genoeg!”

Hy sê 90% van die werknemers wat gestem het, is ten gunste van die staking. Die vakbond het volgens hom reeds die bestuur van die NHE ingelig, asook die ministerie van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping - wat nou daarvoor verantwoordelik is om die partye bymekaar te bring om die reëls vir die komende staking uiteen te sit. “As dit voltooi is, sal die NHE-bestuur ingelig wees, en kennis sal gegee word voor die staking afskop,” voeg hy by.

MISLUKTE ONDERHANDELINGE

Die staking volg op onderhandelinge oor salarisverhogings wat doodgeloop het. Weens kommer oor volhoubarheid van verhogings oor komende jare - wat na verwagting finansieel uitdagend sal wees – het die vakbond en die NHE-bestuur ooreengekom dat ’n eenmalige uitbetaling van N$15 000 aan elke werknemer gemaak sou word, volgens Haakuria. Die raad van die NHE, onder leiding van Sam Shivute, het dié ooreenkoms egter stopgesit. Selfs ’n aanbod om die uitbetaling tot N$10 000 elk te verlaag het nie die oponthoud uit die weg geruim nie.

Shivute het aan Republikein gesê die NHE maak nie genoeg geld om verhogings te kan bied nie. Al is daar vir die uitbetaling begroot, meen hy dit kan nie geregverdig word vir ’n begroting wat nie geld maak nie. Volgens hom is die raad se prioriteit om werksgeleenthede by die staatsonderneming te behou. Hy sê die NHE het oor die afgelope jare geen werksverliese ervaar nie.

FINANSIëLE DRUK

In ’n vorige verklaring het die bestuur gesê ’n staking sal ernstige finansiële skade vir die onderneming meebring.

NHE het tans 120 individue in diens en is besig met verskeie projekte landwyd, waaronder die bou van 65 huise in Gobabis, 24 in Ondangwa, 35 in Tsandi, 30 in Omuthiya en 70 in Okahao. In die hoofstad werk hulle saam met die stadsraad om 19 wonings in informele nedersettings op te gradeer.

Laas jaar het die NHE 81 huise in Outapi gebou, 40 in Otjiwarongo en 70 wonings in Windhoek se informele nedersettings opgeknap. Verder beplan die NHE om vanjaar 64 huise in Ondangwa te bou, 30 op Omuthiya, 100 in Oshakati, 34 in Mariental, 64 in Bukalo, 38 in Windhoek, 65 in Walvisbaai, 93 in Okakarara, 10 op Ongwediva, 15 by Tsandi, 25 in Tsumeb, asook om nog 300 wonings in informele nedersetting in Windhoek en 50 buite die hoofstad op te gradeer.

Dié planne is ten spyte van finansiële druk wat die staatsonderneming tans ervaar. Die NHE se woordvoerder, Taufi Shafombabi, sê: “Ons was al in ’n beter finansiële posisie as nou. Die afgelope jare was nogal moeilik; Covid en die algemene ekonomiese afname het ‘n impak op NHE gehad, maar nogtans is ons in die proses om ons strategie en ons sakeproses te hersien en ons is vol hoop dat dinge vorentoe sal verbeter.”

Sy het bevestig die laaste keer wat NHE se werknemers ’n verhoging ontvang het, was in 2018. Dit is ook die laaste jaar wat die kantoor van die ouditeer-generaal die behuisingsonderneming se boeke geoudit het. “Ons ouditeure is nou besig om die oudits op datum te bring. Teen die einde van die kalenderjaar behoort ons byna op datum te wees,” sê sy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!