UPSET: Former Air Namibia employees took the streets on Friday last week in a peaceful demonstration to handover a petition to the ministry of justice.
Photo: Jemimah Ndebele
UPSET: Former Air Namibia employees took the streets on Friday last week in a peaceful demonstration to handover a petition to the ministry of justice. Photo: Jemimah Ndebele

Oudwerkers van Air Nam ‘agterweë gelaat’

Yandi Du Plessis
Jemimah Ndebele – Die groep wat hulself die Ex Air Namibia Workers Committee noem, het kommer uitgespreek oor die vertraagde skeidingspakkette, aftreefondsaangeleenthede en voortgesette arbeidskwessies wat die nou gelikwideerde lugredery se voormalige werknemers in emosionele en finansiële nood gelaat het.

Die komitee het Vrydag ’n klagskrif by die ministerie van justisie se adjunk- uitvoerende direkteur, John Shimaneni, ingedien.

Dit ná ’n vreedsame betoging voor die ministerie se kantoor, waar lede hul griewe gelug het en op tydige optrede aangedring het.

Die komitee se hoofeis hou verband met die volle betaling van skeidingspakette. Die werkers het ook ontevredenheid uitgespreek oor die verminderde bedrae wat deur die likwidateurs Bruni en McLaren uitbetaal is.

Gedeeltelike betalings wat in Desember 2022 gemaak is, stem nie ooreen met die oorspronklike bedrae wat geëis is nie, het die werknemers gesê en bygevoeg hulle voel afgeskeep en asof hulle geen ondersteuning ontvang nie.

‘SY HET ONS GEFAAL’

Die komiteeverteenwoordiger, Renier Bougard, het gesê die meester van die hoërhof, Elsie Beukes, het versuim om hul regte en belange te beskerm.

Hy het gesê ten spyte van ’n hangende arbeidsaak verlede September, het die likwidateurs voortgegaan met uitbetalings sonder om te wag dat dit afgehandel word. Die gebrek aan kommunikasie en die afwesigheid van ’n algemene krediteurevergadering, soos deur die komitee versoek is, het hul frustrasies verder vererger, het hy bygevoeg.

“Die meester van die hoërhof het ons in die steek gelaat. Ons verval al dieper in die skuld, verloor ons huise. Is dit nie genoeg dat ons reeds ons lewensbestaan verloor het nie?”

WEES GEDULDIG

In reaksie op die klagskrif het Beukes gevra vir geduld en dat die regte prosesse gevolg moet word.

Die voormalige werknemers het egter aangevoer die vertragings en die daaropvolgende finansiële laste wat hulle in die gesig staar, weeg swaarder as enige verwagtinge van geduld.

Hulle het verder bevraagteken waarom die likwidateurs met betalings kon voortgaan terwyl ’n arbeidsaak nog nie afgehandel was nie, maar nou word hulle meegedeel dat vordering nie gemaak kan word terwyl die saak hangend is nie.

Intussen het die werkers teleurstelling uitgespreek oor die gebrek aan reaksie van ander instellings en individue, insluitend die regering en die Nasionale Vergadering. Hulle het gehoop dat hierdie amptenare sou optree om die likwidateurs by te staan en druk uit te oefen, maar hul pleidooie het op dowe ore geval, het die groep gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer