TransNamib steeds in Natau se visier
Staking op nippertjie gestop
Die Namibiese Unie vir Vervoer- en Verwante Werkers vra die hoogste gesag moet ingryp nadat alle pogings sover misluk het.
Die Namibiese Unie vir Vervoer- en Verwante Werkers (Natau) dring steeds daarop aan die hoogste gesag moet ingryp, ondanks ’n hofbevel wat gister se beplande staking by TransNamib op die nippertjie gestop het. Die hofgeding sal op 29 Julie hervat.
Die waarnemende sekretaris-generaal van Natau, me. Narina Pollmann, het gister gesê: “Ons bevestig dat ons Vrydagmiddag, 15 Julie, ná ’n dringende aansoek deur die regsfirma Kopplinger Boltman bedien is.
“Gedurende die hofgeding van 16 Julie het die bestuur probeer om die staking uit te stel wat (gister) sou begin en ’n hofbevel is uitgereik om die kwessie ter syde te stel totdat die dringende aansoek afgehandel is.”
TransNamib beweer ’n stemproses wat werknemers sou toelaat om vir of teen die staking te stem, is ná die toekenning van ’n sertifikaat van geskil nie gehou nie.
Pollmann sê egter daar is tevore gestem en die bestuur is vyf keer genooi om toesig te hou, maar het nooit gereageer nie.
Die kwessie is egter vir die hof om te beslis. In haar toespraak het Pollmann ’n beroep op pres. Hage Geingob gedoen om in te gryp.
Sy het gepleit Geingob “moet ons werkers van hierdie kartel red, en ons toelaat om die aandeelhouer te help om die nasionale spoormaatskappy te vernuwe en te red van dieselfde lokval wat die Padkontrakteursmaatskappy (RCC) gevang het, en meer onlangs ook die nasionale lugredery Air Namibia,” sê sy.
Sy het verwys na ’n ondersoek deur Ernst & Young waarin die vakbond insette gelewer het, maar die verslag is nooit vrygestel nie.
Natau dring aan dat die bevindings van die ondersoek openbaar gemaak word.
In die verslag word na bewering voorgestel dat dissiplinêre stappe gedoen moet word teen uitvoerende beamptes en werknemers wat onderpresteer. Uitvoerende beamptes wat prestasiebonusse aan hulself toegeken het, moet dié geld terugbetaal, sê sy.
“Die forensiese verslag lê ’n magdom onreëlmatighede bloot – vanaf ondoeltreffende en onvoldoende kostebeheer van dienste tot twyfelagtige kontrakte en gemanipuleerde huurooreenkomste,” sê sy.
“Hoekom word die dokument geheim gehou? Belastinggeld het vir die ondersoek betaal en ons as ’n nasie en as werknemers het dus die reg om te weet wat daarin staan,” dring sy aan.
TransNamib se uitvoerende hoof, mnr. Johny Smith, en die uitvoerende beampte van menslike hulpbronne, mnr. Webster Gonzo, word spesifiek uitgewys omdat hulle glo nie die patriotisme waardeer wat die werknemers toon sedert onderhandelinge in 2019 begin het nie.
Ook TransNamib se raadsvoorsitter, mnr. Lionel Matthews, en sy adjunk, adv. Sigrid Tjijorokisa, word beskuldig dat hulle werknemers beledig en verontagsaam het nadat die vakbond die raad oor kwessies genader het.
Pollmann sê die vakbond het alle rolspelers, insluitend die ministerie van werke en vervoer, staatsinstansies en die arbeidsministerie sonder sukses genader.
“Waarheen moet werkers gaan as die strukture wat hulle behoort te help, bloot hul rug draai?” vra sy.
Die vakbond het TransNamib se raad 48 uur gegee om op hul vorige eise te reageer.
“Versuim sal tot ongewilde aksie lei, want ons was lank genoeg geduldig met hierdie uitvoerende beamptes – sedert 2019. Ons is dié keer ernstig en sal ’n punt daarvan maak dat wangedrag deur toevertroude senior amptenare nie meer in Namibië toegelaat word nie, aangesien dit die nasie meer skade berokken,” sê sy.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie