Foto ter illustrasie. FOTO ARGIEF
Foto ter illustrasie. FOTO ARGIEF

Wagte - 'Ons werk soos slawe'

Omvattende lys skort
Die groep beweer hulle wag nog op betaling wat tot 2023 terugdateer.
Nikanor Nangolo
'n Groep sekuriteitswagte wat by verskeie skole in Rundu diens verrig, sê hulle wag die afgelope drie jaar vir teruggedateerde betaling. Dit in moeilike werksomstandighede sonder verlof, siekverlof of openbare vakansiedae.

Die groep beswaarde wagte het in 'n gesprek met Netwerk Media Hub (NMH) hul frustasie gedeel oor wat hulle as werkstoestande beskryf waarin hulle uitgebuit word.

"Geen verlof, geen afdae, geen openbare vakansiedae. Ons werk soos slawe. Ek vertel jou die waarheid. Ons werk al vir byna vyf jaar en dit eis 'n swaar tol van ons," het 'n sekuriteitswag gesê wat verkies het om naamloos te bly.

Die wagte sê hul pogings om regverdige betaling te bewerkstellig, is met verwarring en vertraging begroet.

"Ons sien ander skole kry hul terugbetalings, maar ons het nog nie eers betaling vir 2023 en 2024 gekry nie. Ons het niks gekry nie," het hy gesê.

Die beswaarde wagte beweer ook dat beamptes van die streeksdirektoraat hulle verseker het dat hul agterstallige betaling verwerk sou word. Ten spyte van die feit dat die kwessie verskeie kere opgevolg is, het hulle nog niks geld in hul sakke nie.

Volgens die wagte het die onderwysdirekteur van Kavango-Oos, Christine Shilima, aanvanklik betalings goedgekeur wat in September 2023 begin.

"Elke sekuriteitswag het N$24 900 ontvang. In 2024 het sommige wagte 'n bykomende N$13 500 gekry," het die wag gesê. Volgens hom het egter nie alle wagte die volle bedrae ontvang wat aan hulle verskuldig is nie en het sommige minder as N$5 000 gekry.

"Toe ons die onderwyskantoor nader, het ons nie ordentlike antwoorde gekry nie. Ons voel nie goed nie. Al wat ons wil hê, is om erken te word en te verstaan dat ons te veel ly. Ons moet regverdig betaal word dat ons na ons families kan omsien," het hy gesê.

Die groep beweer ook hulle het herhaaldelik Shilima en die hoofrekenmeester Tuhafeni Hashoshange genader om die betalingskwessie te probeer oplos. Die groep is egter net met nog vertragings begroet.

“Hashoshange het vir ons gesê ons moet die bedrae verskuldig vanaf 2020 tot 2024 uitwerk. Ons het die somme gedoen en die syfers ingedien. Shilima het ons verseker dat die geld binne 'n week of twee in ons rekeninge betaal sal word. Ons het gewag, maar niks het gebeur nie,"het die wag gesê.

"Ons is in Oktober en November weer terug na die direkteur toe. Sy het haar kommer oor ons situasie uitgespreek en gesê 'julle mense ly" en ons weer terug na Hashoshange verwys.”

Die wagte sê Hashoshange het aanvanklik beweer die berekeninge is weg, maar het later erken hy het dit ontvang. Hy het belowe betalings sou teen die volgende week verwerk word. Tog is daar tot op hede is nog geen betalings gemaak nie.

“Ons was twee keer by die radiostasie en het ons kontaknommers aan die personeel gegee. Ten spyte van hierdie pogings, het ons nog geen reaksie of opvolg gekry nie. Ons is selfs vir 'n derde keer na die stasie toe," het nog 'n wag gesê.

In reaksie op die wagte se klagtes het Shilima aan Netwerk Media Hub (NMH) gesê die ministerie vereis 'n gedetailleerde lys van die wagte om die betalings te verwerk.

"Ek moet met die skole bevestig dat hierdie inderdaad die sekuriteitswagte is wat gekla het. Die proses behels om die skole te vra om te verifieer of die individue by hul instellings gewerk het," het sy verduidelik.

Volgens Shilima is die lys nie by haar kantoor ingedien nie.

"Sonder om hul besonderhede op skrif te hê, is dit vir my onmoontlik om vorentoe te beweeg. Ek het probeer om Hashoshange, die hoofrekenmeester, te kontak, maar die wagte moet die nodige data verskaf om die voorlegging voor te berei," het sy gesê. Shilima het ook die versekering aan die groep gegee dat sy instruksies aan haar personeel sal gee om die betalings te verwerk die oomblik wanneer die lys voorsien is.

Met verwysing na verlofdae het sy gesê die wagte moet bewys dat hulle gewerk het sonder om verlof te neem.

“Ons sal die skoolhoofde as getuies moet roep. Ons kan nie outomaties ingryping van die uitvoerende direkteur versoek sonder 'n formele klag aan die arbeidskommissaris nie," het sy gesê. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer